Martens se spel word gekenmerk deur virtuositeit, ferm beheer en die sonore klank wat hy uit sy tjello haal
Deur JOHAN MYBURG
Vir sy derde konsertaanbieding vir die jaar het die Johannesburgse Musiekvereniging die dienste van die Stellenbosse tjellis Peter Martens bekom. In sy konsert op 25 Maart is die pianis Bryan Wallick saam met Martens op die verhoog van die Linder-ouditorium in Parktown.
Martens se spel word gekenmerk deur virtuositeit, ferm beheer en die sonore klank wat hy uit sy tjello haal. Daarby is dit die fokus waarmee hy ’n program benader wat immer opval. Dink maar aan die Bach-tjellosuites wat hy in 2013 in die Endler-saal in Stellenbosch vir Two Pianists opgeneem het. Sy interpretasie van dié “simfonieë vir solo-tjello”, soos die Sowjet-tjellis Mstislaw Rostropowitsj daarna verwys het, getuig van begrip en intense voorbereiding. Dié stel suites, gekomponeer tussen 1717 en 1723, is waarskynlik die belangrikste werk wat daar vir die tjello is.
Dit is die droom van enige tjellis om dit te speel en op te neem. “In ’n tyd waarin ’n mens geredeliker ’n opname kan maak, het ek besluit om dié suites op te neem, omdat ek graag iets vir die nageslag wou bewaar van die manier waarop ek dit nou vertolk,” het Martens oor dié opname gesê. Resensies oor dié opname was gunstig en vol lof. In 2009 het hy, ook in die Endlersaal, saam met Luis Magalhães die volledige stel Beethoven-sonates vir tjello en klavier opgeneem. Dit is voorwaar ’n besonderse opname (ook sover dit die tegniese versorging van die dubbel-CD betref) wat in 2011 met ’n Sama in die kategorie klassieke musiek bekroon is.
LEES OOK: klassieke klanke: Arnold van Wyk
Benewens ’n voortreflike solis is Martens ook direkteur van die Stellenbosse kamermusiekfees wat vanjaar van 6 tot 15 Julie in die Eikestad aangebied word. Sy kollegas wat die fees saam met hom aanbied, is Magalhães en sy pianisvrou, Nina Schumann. Magalhães en Schumann is ook die stigters en die stuwing agter die opname-etiket Two Pianists. Martens (47) is in Kaapstad gebore en het op agt begin tjello speel. Op 15 het hy sy vuurdoop as solis saam met die Kaapstadse simfonie-orkes gehad. Hy het aan die Universiteit van Stellenbosch onder die leiding van Dalena Roux gestudeer en ’n uitnodiging gekry om in die Wêreldjeugorkes in Michigan in die VSA te speel.
Hy het sy studie aan die Mozarteum in Salzburg voortgesit en het meesterklasse by William Pleeth, Ivan Monighetti en Heinrich Schiff bygewoon. Tydens sy verblyf in Oostenryk het hy dikwels as solo-tjellis vir die Oostenrykse ensemble vir moderne musiek en ook as lid van die kamerorkes Salzburger Musici opgetree. Martens is lid van die Amici-strykkwartet en saam met die kontrabasspeler Leon Bosch lid van Bass-ically Brilliant. Verskeie Suid-Afrikaanse komponiste het vir hom werk geskryf: onder andere Hendrik Hofmeyr, Paul Hanmer en Allan Stephenson wat ’n tjellokonsert vir hom geskryf het.
Van dié konsert is daar in 2011 ’n opname saam met die Kaapstad Filharmonie deur Meridian Records in Londen uitgereik. Benewens die Stellenbosse kamermusiekfees is Martens ook verantwoordelik vir die Endlerkonsertreeks op Stellenbosch. Konserte van die JMV is oop vir die publiek en kaartjies moet by Computicket bespreek word. Lede van die JMV betaal tot R45 per kaartjie minder. Skakel 011 728 5492 vir meer besonderhede. Meer besonderhede oor Martens se Linder-program is op die webwerf www.jms.org.za beskikbaar.