Tot die lys van furore-pianiste hoort die 27-jarige Daniil Trifonov, die pianis oor wie Argerich opgemerk het: “Wat hy met sy hande doen, is tegnies ongelooflik
Deur JOHAN MYBURG
Furore, meen Alex Ross, jare lank die musiekkritikus van The New Yorker, is iets wat ’n mens nie by Amerikaanse pianiste aantref nie. Altans nie in Amerikaanse konsert- sale nie. Furore is volgens hom herkenbaar aan ’n mengsel van intelligensie, vaardigheid, dikwels eienaardige interpretasiekeuses en bo-aardse, selfs diaboliese spel. Hulle strompel op die verhoog, sonder seremonie, gaan sit agter die klavier en speel met waansin wat nugter weet waar vandaan kom. “Pianist creates furor” het The Times in 1928 berig ná Vladimir Horowitz se debuut in Carnegie Hall. En ná hom Paderewski, en Sviatoslav Richter, en die jong Martha Argerich en die nog jonger Evgeny Kissin. Furore is anders as sensasie, voer Ross aan.
Lang Lang veroorsaak sensasie, sê hy. Maar dit is nie furore nie. Tot die lys van furore-pianiste hoort die 27-jarige Daniil Trifonov, die pianis oor wie Argerich opgemerk het: “Wat hy met sy hande doen, is tegnies ongelooflik. Dit is ook sy aanslag – die teerheid tesame met ’n demoniese kwaliteit. Ek het nog nooit so iets gehoor nie.” In sy taksering het Ross hierby aangesluit en verwys na sy “kombinasie van monsteragtige tegniek en sy glansende tonaliteit”. In 2008 het Trifonov op 17-jarige ouderdom die vyfde plek in die internasionale Scriabinkompetisie in Moskou verower. Daarna het hy die volgende drie jaar stelselmatig sy pad na die kroon oopgespeel tot hy in 2011 die 13de internasionale Arthur Rubinstein-kompetisie in Tel Aviv asook die Pnina Salzman-prys vir die beste vertolking van Chopin gewen het.
LEES OOK: Klassieke klanke: Zuill Bailey
’n Paar weke later het hy ook op die 14de internasionale Tsjaikofski-kompetisie in Moskou skoonskip gemaak. Drie jaar later, in 2015, het hy sy debuut in Carnegie Hall gemaak met die Tsjaikofski- klavierkonsert en met Valery Gergiev op die podium. In 2013 het hy in New York solo-uitvoerings gegee en werk van Strawinski, Debussy, Ravel en Schumann ingesluit. As toegif het hy by die tweede uitvoering ’n scherzo uit ’n sonate gespeel wat hy self geskryf het. Sy konsertprogram vir 2017 het hy in November in New York met die première van sy Klavierkonsert in e-mol afgesluit. Vanjaar sit Trifonov sy fokus op Chopin voort met die uitreiking van Evocations, sy vierde album as ’n Deutsche Grammophon- kunstenaar. Drie van die sewe programme wat hy vir Carnegie Hall se Perspectives-reeks aangebied het, was met Chopin in die oog.
Maar dit is sy aandurf van hoë virtuositeit waarmee hy die aandag trek: dié van Liszt, Scriabin en Rachmaninoff. Sy opname van Liszt se Transendentale etudes, konsert-etudes en Paganini-etudes was op die kortlys vir die Gramophone-prys. Sy repertorium sluit nietemin ook werk van 20ste-eeuse komponiste soos Samuel Barber en Federico Mompou in. Van New York, waar hy deesdae woon, reis hy wyd vir optredes. Volgende maand begin hy byvoorbeeld met ’n uitvoering in Carnegie Hall, daarna het hy konserte in Boston en Cleveland voordat hy na Duitsland vir konserte in Düsseldorf, Hamburg, Frankfurt en München reis. Daarna speel hy die Tsjaikofski 1 met die Londen-simfonieorkes onder leiding van Vladimir Jurofski in die Royal Albert Hall. Maart se uitvoerings sluit hy met vier konserte in Israel en een in Pole af. Die jong Trifonov het ’n blink loopbaan voor hom. Ross meen dat hy met verdere ontwikkeling sonder gelyke kan wees. “Op die oomblik volg furore hom waar hy ook gaan. Want hy het nog nie sonde van roetine begaan nie.”