Dvořák het musiek in haas alle genres geskryf, van intieme kamermusiek en liedere tot koorwerke en operas
Deur JOHAN MYBURG
Naas Bedřich Smetana was Antonín Dvořák nie net die tweede Tsjeggiese komponis wat wêreldwyd roem verwerf het nie, maar ook ’n waardige opvolger as vaandeldraer vir Slawiese nasionalisme. Smetana (1824–1884) het veral met sy Ma vlast (My vaderland), ’n skildering van die geskiedenis, legendes en landskappe van Tsjeggië die hartsnare van sy landgenote geroer. Dvořák (1841–1904) het verder gegaan en die ritme en invloede van die volksmusiek van veral Morawië en Boheme in ’n simfoniese tradisie ingewerk. Dit het hom nie net in sy vaderland roem besorg nie, maar regdeur Europa, in Engeland en tot in die VSA. As daar een werk is waarmee Dvořák vir hom naam gemaak het, is dit die eerste stel van agt Slawiese danse, op. 46, wat hy in 1877 vir vier hande (klavier) geskryf het.
In 1874 was Johannes Brahms op die keurpaneel vir ’n Oostenrykse beurs waarvoor Dvořák aansoek gedoen het en Brahms het op dié manier Dvořák se musiek te siene gekry. Dit was Brahms wat die Tsjeggiese uitgewer Fritz Simrock sover gekry het om die jong Dvořák opdrag te gee om werk te skryf vir die tuismusiekmark wat toe juis ’n opbloei beleef het. Dvořák het Brahms se Hongaarse danse as inspirasie en vertrekpunt vir sy Slawiese danse gebruik en sy bekendheid én gewildheid het letterlik oornag gedy. In Berlyn het die bladmusiek vir die Slawiese danse binne ’n dag uitverkoop.
LEES OOK: Klassieke klanke: Edward Elgar
Op versoek van die uitgewer het Dvořák die danse vir orkes verwerk. Deesdae is dit die orkesweergawe wat eerder gewild is. ’n Goeie opname sou dié van Kurt Masur met die orkes van die Leipzig Gewandhaus kon wees. In 1891 het Dvořák ’n uitnodiging as direkteur van die New Conservatory of Music in New York aanvaar. Die pos het benewens klasgee en dirigeer ook vier maande se verlof ingesluit en dit alles vir soveel as 25 keer meer as wat hy in Praag sou verdien. Van 1892 tot 1895 het hy in die VSA gewoon en daar drie van sy bekendste werke gekomponeer: die Strykkwartet in F, op. 96 (die sogenaamde Amerikaanse kwartet); die Tjellokonsert in b en die Simfonie no. 9, bekend as From the New World, ’n naam wat Dvořák self aan dié simfonie gegee het.
Dvořák het musiek in haas alle genres geskryf, van intieme kamermusiek en liedere tot koorwerke en operas. Daar word steeds na hom verwys as die komponis van sy dag wat die uiteenlopendste genres bemeester het. Terwyl hy in die VSA was, het hy die tien Bybelse liedere, op. 99, geskryf. Die liedere is toonsettings van tien psalms uit die Tsjeggiese Ou Testament. Werke vir koor sluit in die Stabat Mater, Requiem, Te Deum en die Mis in D. In 1904 het Dvořák in ’n onderhoud opgemerk dat opera die beste middel is om die nasionale strewe te dien. Om hierdie rede was die libretto’s in Tsjeggies. Van die nege operas wat hy geskryf het, is dit eintlik net Rusalka wat nog uitgevoer word. Uit dié opera se eerste bedryf kom die aangrypende Lied aan die maan. Dink maar aan Leontyne Price se opname. Uit die bundel van sewe Sigeunerliedere, op. 55, is dit Songs My Mother Taught Me wat nie net die gewildste lied in die siklus is nie, maar tegelyk ook die roerendste. Luister byvoorbeeld na die opname van Elizabeth Schwarzkopf met Gerald Moore voor die klavier.