Anna Netrebko vertolk tans die naamrol in Verdi se Aïda in die Metropolitan Opera in New York asook dié van Cilea se Adriana Lecouvreur
Deur JOHAN MYBURG
Die Russies gebore sopraan Anna Netrebko is by geleentheid al as “Audrey Hepburn met ’n stem” beskryf. (Hou in gedagte dat die sopraan Marni Nixon se sangstem vir die van Hepburn in My Fair Lady gebruik is.) Dit is ’n vergelyking wat dalk primer op voorkoms dui, want Netrebko het gewis ’n elegansie en betowerende teenwoordigheid op die verhoog. Daarby bring sy ’n wonderlike donker en eiesoortige klank voort.
Die 47-jarige Netrebko het haar loopbaan as liriese sopraan begin. Sy was 22 toe sy haar debuut in die Mariinsky-teater as Susanna in Mozart se Le nozze di Figaro gemaak het. Daarna het eers Pamina in Die towerfluit en later die Koningin van die nag gevolg. Dink ook aan haar lieflike vertolking in Brian Large se DVD-opname van La traviata, saam met Rolando Villazón en Thomas Hampson. Maar die Violetta-rol het sy soos ander ligter rolle intussen vaarwel geroep. “Violetta op 50?” het sy in ’n onderhoud verbaas gereageer op ’n vraag of sy dié rol nog sal sing.
Intussen het sy romantiese en bel cantorolle en ook swaarder en meer dramatiese rolle aangedurf. In September het sy die eerste keer in haar loopbaan die naamrol in Verdi se Aïda in die Metropolitan Opera in New York gesing – ’n vertolking wat allerweë as ’n triomf beskryf is. (Dié Aïdaseisoen in die Met duur nog tot Maart.) “Anna Netrebko makes ‘Aida’ her own at the Met Opera” was The New York Times se resensie-opskrif. Op 31 Desember het sy nóg ’n eerste in die Met gehad: As Adriana in die nuwe produksie van Francesco Cilea se Adriana Lecouvreur. Daarmee het sy by die liga van soprane soos Renata Tebaldi, Montserrat Caballé en Renata Scotto aangesluit wat almal die eerste keer in die Met die naamrol gesing het in dié opera oor die Franse aktrise van die 18de eeu wat soveel aandag getrek het – op die verhoog sowel as van die verhoog af. Dié opera wat dikwels onderskat word, bied dramatiese moontlikhede vir charismatiese soliste.
LEES OOK: Klassieke klanke: Janet Baker
Adriana Lecouvreur is Francesco Cilea (1866–1950) se enigste opera wat bekendheid verwerf het. Netrebko is in Krasnodar in Rusland gebore en het as student aan die konservatorium in St Petersburg as skoonmaker in die Mariinsky-teater gewerk, waar sy gratis opera-uitvoerings kon bywoon. Sy het later ’n oudisie by die teater afgelê en dit is waar die dirigent Valery Gergiev haar raakgesien het en haar stemmentor geword het. Sy het haar Amerikaanse debuut in 1995 in die hoofrol in Glinka se Ruslan en Ludmila gemaak. In 2003 het die gesaghebbende Duitse tydskrif Opernwelt haar as sanger van die jaar aangewys en die volgende jaar het sy die Staatsprys van die Russiese Federasie verower.
Sy het in 2007 Time Magazine se lys van 100 invloedrykes gehaal en in 2008 het Musical America haar “’n ware superster van die 21ste eeu” genoem en haar as musikant van die jaar aangewys. Die Oostenrykse regering – sy het benewens Russiese burgerskap ook Oostenrykse burgerskap – het in 2017 die eretitel Kammersängerin aan haar toegeken, dié land se hoogste eerbewys aan ’n operasangeres. Ná ’n huwelik van ’n paar jaar met die Uruguayaanse basbariton Erwin Schrott, is sy in 2015 met die Azerbaidjanse tenoor Yusif Eyvazov getroud. Die CD Diva, The Very Best of Anna Netrebko is vroeër vanjaar deur Deutsche Grammophon uitgegee.