Die sultan kom sy moses teë wanneer Sjeherazade ’n nag met hom deurbring en hy só betower is deur die verhale wat sy vertel dat hy haar nag ná nag laat terugkom sodat hy verder kan luister
Deur JOHAN MYBURG
Die verhaal is dié van ’n sultan, Sjahryar, wat vas glo alle vroue is ontrou en hulle geen geleentheid bied om te bewys hy is verkeerd nie. Hy bring slegs een nag met ’n vrou deur en vroegoggend word sy om die lewe gebring. Die titel van die verhaal is Duisend en een nagte, ’n versameling Midde-Oosterse volksverhale in Arabies wat byeengebring is in die sogenaamde goue eeu van Islam, van die agtste tot die 14de eeu.
Die sultan kom sy moses teë wanneer Sjeherazade ’n nag met hom deurbring en hy só betower is deur die verhale wat sy vertel dat hy haar nag ná nag laat terugkom sodat hy verder kan luister. Deur stories te vertel, bly sy nie net aan die lewe nie, maar wen sy ook die guns van die sultan. Altans, dit is soos die storie dit wil hê. Dit is ’n verhaal wat meermale al in die letterkunde in diverse gedaantes opgeduik het – van die Fransman Marcel Proust tot die Egiptiese skrywer Naguib Mahfouz en meer onlangs van Haruki Murakami tot Salman Rushdie. Ook in musiek, met die bekendste weergawe dié van Nikolai Rimski-Korsakof (1844–1908), ’n simfoniese toondig met die titel Sjeherazade.
In die Russiese winter van 1888 was Rimski-Korsakof besig met die orkestrasie van Prins Igor, die opera van sy vriend Alexander Borodin, wat kort tevore skielik dood is. Moontlik was dit Borodin se gebruik van treffende en eksotiese musiek wat Rimski-Korsakof aan die dink gesit het, want kort daarna het hy aan dié toondig met eksotiese klanke van sy eie begin werk. Die oogmerk met Sjeherazade was, soos Rimski-Korsakof self aangedui het, om die allure van ’n Midde-Oosterse verhaal te skep en nie net ’n reeks bewegings wat die een ná die ander gespeel moet word nie.
LEES OOK: Klassieke klanke: Modest Moessorgski
Met 1 001 verhale om uit te kies, begin Rimski-Korsakof met Die see en Sindbad se skip, moontlik omdat die onderwerp hom aangestaan het – hy was immers vroeër ’n jong offisier in die vloot. ’n Mens hoor in dié eerste beweging onmiddellik die sultan-tema met sy forse klanke teenoor die solo-viool wat die Sjeherazadetema aankondig. Alles is wel in dié beweging: die skip is op koers en die reis begin. In Die verhaal van die Kalenderprins is ’n mens dadelik bewus dat die vaartuig in die rigting van die Midde-Ooste op pad is: die solo’s vir die houtblasers roep dié leefwêreld so briljant op.
Wie die Kalenderprins is, maak Rimski-Korsakof nie duidelik nie. Die liefde blom in die derde deel, Jong prins en die jong prinses, aan die hand van langsame en sensuele klanke. In die laaste beweging, Die fees in Bagdad – Die see – Die skipbreuk, hoor ’n mens tussen die verhale deur iets van die sultan se ongeduld dat die storie moet aangaan. Rimski-Korsakof vergestalt in die skipbreuk iets van die sultan se wrede planne, maar dié tema word oorskadu deur terugkerende temas wat dié planne eindelik tot niet maak. Die Sjeherazade-tema triomfeer eindelik.
’n Balletweergawe van Sjeherazade het in 1910 al die lig gesien toe die Ballets Russes ’n produksie met choreografie deur Michel Fokine in Parys se Opéra Garnier aangebied het. Daar bestaan talle briljante opnames van Sjeherazade, hoewel die een met Valery Gergiev en die Weense Filharmonie tydens die Salzburg-fees in 2005 ’n belewenis is om te sien. Dié opname is op YouTube beskikbaar.