‘Dit is nie dat ek opera verlaat nie,’ het Natalie Dessay gesê, ‘dit is eerder ’n kwessie van opera wat my verlaat het’
Deur JOHAN MYBURG
Foto Simon Fowler
Dit was haar vertolking van die rol van Olympia, die meganiese pop in Jacques Offenbach se Verhale van Hoffmann, wat die Franse koloratuursopraan Natalie Dessay roem besorg het. Haar debuut in dié rol was in 1992 in die Bastille in Parys en daarna het sy dit ook in verskeie ander produksies gesing, ook in die Metropolitan.
Olympia het in dié opera, wat uit drie verhale bestaan, slegs een aria, Les oiseaux dans la charmille (ook bekend as Die poplied), maar wat ’n uitdagende aria is dit nie! Vier ander rolle waarin sy ook uitgeblink het, is dié van Amina in Vincenzo Bellini se La sonnambula, dié van Zerbinetta in Richard Strauss se Ariadne auf Naxos, dié van Marie in Gaetano Donizetti se La fille du regiment asook die titelrol in sy Lucia di Lammermoor. Oor haar Met-vertolking van Lucia het sy opgemerk: “Ek probeer verstaan waardeur sy gaan, maar ek vertolk nie die waansin nie. Ek wys iets van die lyding, en dit is al genoeg.”
Benewens haar stem was dit juis haar vaardigheid as vertolker wat haar in opera so ’n gesogte sangeres gemaak het. In 2013 het sy egter haar uittrede uit opera aangekondig. In ’n onderhoud met die Franse Le Figaro het sy gesê die rol van Manon in Jules Massenet se gelyknamige opera in Toulouse later daardie jaar is haar laaste operarol. Sy het aangedui dat sy wel nog sal sing, maar dat sy haar op chansons wil toespits. “Dit is nie dat ek opera verlaat nie,” het sy aan dié koerant gesê, “dit is eerder ’n kwessie van opera wat my verlaat het.” Dessay (53) se stemgehalte het nie gaandeweg in haar loopbaan verander nie, met die gevolg dat daar nie eintlik moontlikheid vir uitbreiding in haar repertorium was nie. “Daar is nie meer rolle oor nie. Ek het alles gedoen wat ek kon en ek wil myself tog nie oor en oor herhaal nie,” het sy later in ’n ander onderhoud gesê.
LEES OOK: Klassieke klanke: Cecilia Bartoli
Dit is moontlik dieselfde penarie waarin Renée Fleming haarself bevind het toe sy verlede jaar ook haar uittrede uit opera aangekondig het. Dessay se vriendskap met Michel Legrand (86), komponis van Franse chansons, het gelei tot samewerkings, konsertoptredes in Europa en Kanada en ’n CD in 2013, Entre elle et lui, met liedjies soos Papa can you Hear me? en What are You Doing the Rest of your Life?, albei liedjies wat Legrand vir Barbra Streisand geskryf het en wat haar roem besorg het.
Haar jare lange bewondering vir Streisand het Dessay ’n nuwe rigting laat inslaan en onlangs het sy ’n projek waarvoor Streisand nie kans gesien het nie, ’n oratorium vir sopraan en orkes, getakel en voltooi. Dessay het onmiddellik en met oortuiging ja gesê vir dié Legrand-oratorium, Between Yesterday and Tomorrow: The Extraordinary Life of an Ordinary Woman. Oor dié nuwe rigting het Dessay opgemerk: “Toe ek met ’n mikrofoon begin sing, het ek my laer register ontdek, wat ek nooit in opera gebruik het nie. Ek is besig om my ander stem, dalk my ware stem, te vind.” Dit beteken egter nie dat sy vir kunsmusiek verlore is nie. Verlede jaar het sy in Carnegie Hall ’n program met Duitse en Franse liedere aangebied en ook ’n CD met Schubert-Lieder saam met die pianis Philippe Cassard opgeneem.