Die Kannas, wat jaarliks kreatiewe uitnemendheid by die KKNK beloon, is onlangs in Kaapstad oorhandig
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Elke wenner het ’n Kanna-beeldjie deur Danélle Janse van Rensburg en ’n kontantprys ontvang. Totale prysgeld van R160 000 is uitgedeel.
Lara Foot se Karoo Moose was die groot wenner by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se Kanna-prysuitdeling. Dié drama is bekroon met die Kanna vir beste teateraanbieding, Foot as beste regisseur en Chuma Sopotela as beste aktrise.
LEES OOK: KKNK weer groot kunste-saamtrek
Mareli Stolp, voorsitter van dié jaar se Kannapaneel, het opgemerk dat een ding vir die paneel seker is: “Die kunste staan sterk in ons land. Oudtshoorn het oorgeloop van teater- en musiekproduksies uit die boonste rakke, voor volgepakte sale. Dit was ’n enorme voorreg om uitvoerende werk van sulke hoë gehalte te beleef en elke KKNK-deelnemer het ons dank en respek – met óf sonder prys.
Buite Land, ’n debuut uit die pen van Neil Coppen, is met twee Kannas bekroon: as beste debuutwerk en Kopano Maroga as beste manlike byspeler.
Drie nuwe Kannas is vanjaar ingestel. Buhle Ngaba se The Swang Song is die eerste wenner van die Kanna vir beste Uitkampteater-aanbieding, Retief Scholtz se komedie-drama Dop, het die Kanna vir beste nuutgeskrewe teks ontvang en die nie-verbale Uitkampteaterstuk vir kinders, In die woud, is met die Kanna vir beste kinderteater-aanbieding bekroon. Nóg ’n eerste vir die Kannas, is dat laasgenoemde kategorie deur kinders van verskillende ouderdomme beoordeel is.
Ngaba is verder bekroon as beste opkomende kunstenaar vir haar teks en spel in The Swan Song.
Gideon Lombard se spel in die eenman debuutdrama Die reuk van appels, het aan hom die Kanna vir beste akteur besorg. Dié produksie het ook ’n spesiale prys vir beste produksiebemarking ontvang, geborg deur die KKNK se bemarkingsvennoot, Lumico.
Sandra Prinsloo het die Kanna vir beste vroulike byspeler ingepalm vir haar rol in Chris Barnard se Pa maak vir my ’n vlieër pa, onder regie van Albert Maritz.
LEES OOK: Fiëstas 2017
Die hip-hop opelugmusiekproduksie, Rymklets van Oos tot Wes, is aangewys as beste musiekproduksie en Ronél de Jager se visuele kunsuitstalling Broeigrond: Fertile Ground for Golden Regrets is met die Kanna vir beste visuele kunsuitstalling huis toe.
Hugo Theart, kreatiewe hoof van Kunste Onbeperk, aanbieder van onder meer die KKNK, sê dat dit ’n groot voorreg bly om met ’n platform soos die KKNK, geleenthede vir kunstenaars te skep. “Die kreatiwiteit en talent wat mens ook by die jong kunstenaars sien is ’n inspirasie. Kunste Onbeperk is steeds toegewyd om regdeur die jaar met verskeie inisiatiewe te help bou aan ’n stewige fondament vir die Suid-Afrikaanse kunstebedryf en geleenthede te help skep om ondersteuning te bied met ’n langtermyn impak vir kunstenaars.”
Drie van dié Kanna-wenners is later vanjaar by feeste te sien: Karoo Moose tussen 4 en 28 Augustus by die Edinburg International Festival in Skotland en Buite Land en Die reuk van appels van 29 Junie tot 9 Julie by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad.
Die lede van die Kannapaneel was Stolp, Retha Bornmann, Diane de Beer, Aidan Erasmus, Rafiek Mammom, Angelo Mockie, Laetitia Pople, Marguerite Robinson, Tracey Saunders en Malan Steyn, met Meghan Konnie, Isabel Mascher, Leah Mascher, Tamlyn Prins, Zak Steyn en Ayden Winster die lede van die kinderpaneel.