Maryke en Clifford Roberts het die 22ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn bygewoon. Kyk wie hulle raakgeloop het en wat hulle bygewoon het.
Maryke Roberts
Anthea Thompson se vertolking van Engela wie se man, Manie, haar een oggend ná ‘n sakereis verlaat, in My briljante egskeiding was, wel, briljant. Vir bykans twee ure vertel sy haar reis tydens die egskeidingsproses, die depressie, die voordele, die vreugde en die bevryding. Aan haar sy is haar hondjie, Julius, ‘n ballon op wieletjies, wat haar geselskap en redding is in die donker tye.
Dowwe Dolla se vertolking van die verskillende aspekte van die kuberruimte, laat elke dag die skares skaterlag. En vir die eerste keer kan jy sien hoe lyk Dolla se ouma!
Richard September, Fiësta-, Fleur du Cap- en Kanna-wenner se vertolking van Valkie in Nico Scheepers se Rooivalk, is ontstellend, briljant en aangrypend. Dit vertel die storie van die vriendskap tussen jong seuns op ‘n plaas – een wit, een bruin – in ‘n tyd toe daardie soort kameraadskap eintlik teen die wet was. Richard omskep ‘n kaal verhoog met net droë takke en twee klein huisies wat onderstebo hang, in ‘n uitgestrekte dorre landskap waar mense se harte lankal dood is.
Een van die interessante besprekings by die ATKV se Neelsie Teater was “Afrikaans by ‘n kruispad – waarheen nou?”, terwyl die koffie, wyn en sjokolade kosparing wat daagliks aangebied word, iets vir soete oordenking gegee het.
Valiant Swart en verskeie vriende het in Mystic Nagte opgetree. Hy vier die 20ste jaar van sy debuut-album, Die Mystic Boer en die viering van ‘n nuwe album, Nagrit. Blues, ballades in Valiant-styl het die Sondagmiddag sommer in ‘n opskop verander.
Anton Goosen en vrinne het die Rivierbuurt aan die brand gesing; by die Musiekplaas was die Gospelkonsert, Boontoe! baie gewild en vier digters het om die ATKV Kampvuur gesit en kuier en gedigte voorgelees.
Richard September in Rooivalk.
Anthea Thompson in My briljante egskeiding met haar hondjie, Julius.
Die ATKV Kampvuur bied elke aand verskeie digters, terwyl feesgangers op kampstoele om die kampvuur sit.
SOURCES
Clifford Roberts