Maryke en Clifford Roberts het die 22ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) op Oudtshoorn bygewoon. Kyk wie hulle raakgeloop het en wat hulle bygewoon het
Maryke Roberts
In Die dag is bros met Sandra Prinsloo, Nicole Holm, Ben Albertyn en Dean-John Smith, word die twee kante van misdaad en die uitwerking op mense se lewens aangrypend uitgebeeld. Sandra Prinsloo speel die rol van Elsa, die letterkundelektor wie ‘n groot hartseer ervaar en glad nie kan verwerk nie. Dinge is ingewikkeld, omdat sy met haar seun, Tertius, gesels maar mens gou agterkom dis verbeeldingspeletjies – hy is nie regtig daar nie. Hy vra om vrygestel te word, “want ek is moeg. Daar is ‘n kamer wat vir my wag,” vertel hy aan sy ma en die hartseer kom sit dik in jou keel. Dinge neem ‘n onverwagte wending as haar lojaliteit teenoor ‘n jeugmisdadiger, Brian, wat die leemte in haar hart vul, verander.
Die eerste Uitkampteater-projek is in die Queens Hotel aan gaste voorgestel. Die projek behels tien geselskappe wat tien kort produksies in wit tentjies voor die Burgersentrum opvoer. Die idee is geskoei op die Nederlandse Tentjestheater en hierdie is ‘n samewerkings-projek tussen die KKNK en die Nederlandse ambassade, die Theaterfestival Boulevard en die NLC. Elke vertoning is tussen 10 en 20 minute lank, en kaartjies kos net R20, wat feesgangers aanmoedig om soveel moontlik produksies te sien.
‘n Kat in die duiwehok met Eric Nobbs en Almar Müller is ‘n interessante kykie op oudword. Die twee akteurs speel dieselfde man, die jonger weergawe en sy ouer self. Dit kyk na die lewe se breiery op jou: word jy ‘n bitterbal of gaan jy die lewensvreugde hou van jou jeug? Dit gee baie stof tot nadenke oor hoe argeloos ons soms leef – asof ons ‘n tweede kans gaan kry waarin ons dinge beter sal aanpak.
Baron van Rheedestraat is ‘n miernes met pannekoek, burgers, musiek, straatkuns en kerrie en rys.
Die Nederlandse kabaretkunstenaar, Karen Bloemen, wat ook ‘n vertoning by die fees het, het gaste vermaak by die loodsing van die Uitkampteater-funksie.
Mynie Grové en Hugo Theart by die bekendstellingsfunksie van Uitkampteater.
SOURCES
Clifford Roberts