Willie Burger kyk na die werke van Katja Petrowskaja en Rudie van Rensburg
Katja Petrowskaja is, as jy op grond van haar naam moes raai, Russies. Sy is in Kiëf, die hoofstad van Oekraïene, gebore en het daar grootgeword. Haar voorouers is van Poolse, Russiese en Oostenryks-Joodse afkoms en sommige is vroeg in die 20ste eeu in pogroms in Rusland vervolg, ander is later saam met die 33 000 Joodse inwoners van Kiëf in twee dae se tyd in 1941 doodgeskiet.
Petrowskaja woon nou egter in Berlyn en sy het haar merkwaardige roman Vielleicht Esther in Duits geskryf – op sigself ’n betekenisvolle keuse om nie in haar moedertaal, Russies, te skryf nie, maar in die taal van die mense wat vir die uitwissing van so baie van haar Joodse voorouers verantwoordelik was. Die Engelse vertaling van haar roman, Maybe Esther, deur Shelley Frisch, het pas verskyn en dit is ’n meesleurende vertelling van Petrowskaja se ondersoek van haar stamboom. Sy reis van Berlyn na Moskou, na Kiëf, na Kalisz, na Warskou en besoek talle ander plekke in ’n poging om haar voorouers se gedwonge verskuiwings gedurende die vorige eeu te ondersoek.
Oral besoek sy die argiewe en probeer om meer oor haar familie uit te vind. Sy bring ure met internetsoektogte deur en versamel oorgelewerde vertellings, grappies, argiefmateriaal en historiese bronne in ’n poging om haar stamboom te voltooi. Sy maak interessante ontdekkings en haar pad kruis dikwels heeltemal toevallig met dié van ander mense wat ook hul herkoms ondersoek. Haar een familielid het ’n sluipmoord op ’n Duitse ambassadeur probeer uitvoer en is deur die Russiese regering tereggestel. Maar sy twyfel of hy werklik polities gemotiveer was.
Haar oupa het tydens die Tweede Wêreldoorlog verdwyn en weer 40 jaar later sy opwagting gemaak. Byna al haar voorgeslagte was by die onderrig van doofstom kinders betrokke – in verskeie stede en lande. Die titel dui op ’n ouma wie se naam miskien Esther was, wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Kiëf doodgeskiet is. Wanneer sy na Kalisz reis omdat sy verneem het dat sommige van haar voorouers geslagte lank daar gewoon het, wonder sy waarna sy eintlik soek: I no longer knew why I was searching for them and what the original question was, the quest had long since become the question, but I sensed that if I found something here, I would return, although I did not know whether the home to which I was returning lay in language, in geography, or in kinship. I wanted a complete return, like the fairy tale of the golden key on the bottom of the marsh that could unlock a door once you found the right one, and you wind up back home, right where you started.
LEES OOK: 12 vrae aan die skrywer Rudie van Rensburg
Maybe Esther herinner aan die boeiende romans van WG Sebald, waarin stemming, oorrompelende taalgebruik, klein verhaaltjies en waarnemings, eerder as ’n sterk verhaallyn oorheers. Uiteindelik bied dit egter ’n boeiende blik op die geskiedenis van die 20ste eeu en die ingrypende gevolge van oorloë, vreemdelingehaat en gedwonge verskuiwings van mense. Een
Een van die maniere waarop die skrywers van misdaadspanningsverhale hul lesers by ’n wêreld van geweld, wandade, skurke en verbete stryders teen onreg kan insleep, is deur ons bekende wêreld en die gebeurtenisse daarin, te betrek. In Ys speel omgewingskwessies ’n belangrike rol, en die stryd tussen groot kapitaal en omgewingsaktiviste staan sentraal in die roman. Meer nog, die roman eindig selfs met ’n nuusberig oor Donald Trump wat sekere omgewingswette ter wille van olie-ontginning in die Arktiese gebied herroep.
Op hierdie manier kry die leser koue rillings en die indruk dat die gebeurtenisse “waar” sou kon wees, baie moontlik, en die indruk dat dit selfs waarskynlik sou kon wees, is onthutsend. Kassie Kasselman keer in hierdie spanningsriller terug en saam met Rooi vorm hulle ’n formidabele span in ’n nuutgestigte eenheid van die polisie. Uiteraard is daar baie druk op Kassie, maar ook op sy baas, wat benewens die professionele druk, sukkel met ’n huwelik waarin sy aangerand word. Die aksie wissel tussen Alaska en Kaapstad, tussen die tronk en luukse hotelle, tussen informele nedersettings en middelklashuise, tussen agterstraatmisdaad en politieke raadsale. Danksy hierdie snel wisseling en uiteenlopende karakters behou die roman ’n meesleurende spanningslyn.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.