Willie Burger kyk na Pieter- Dirk Uys se jongste boek Weerklink van ’n wanklank. Memoires van toe en nou
Dit is byna onmoontlik om aan Pieter-Dirk Uys te dink sonder om ook dadelik aan Evita Bezuidenhout te dink. Sy is sekerlik Uys se bekendste alter ego en beslis ook die invloedrykste, soos die Los Angeles Times in 2004 oor haar geskryf het: “Uys dons false eyelashes and presidents listen.” Evita Bezuidenhout is natuurlik nie Uys se enigste alter ego op die verhoog nie. Wie sal sy weergawes van PW Botha en minister Piet Koornhof kan vergeet?
Oor die jare heen het hy so baie rolle gespeel en vir almal van hulle het hy boonop, soos alle akteurs en skrywers, uit sy eie ervaring geput, sodat dit byna onmoontlik geword het om by die “regte” Pieter-Dirk Uys uit te kom. Hierdie jongste publikasie uit die pen van die 72-jarige Uys is ’n poging om so eerlik en ontblotend as moontlik oor die Uys sonder die vals wimpers en tannie-klere te skryf. Hy het al tevore twee “memoires” geskryf: Elections & Erections – A Memory of Fear and Fun (2002) het op sy leefervaring in Suid-Afrika gefokus – in die apartheidsera het ’n politiek van vrees alles oorheers en in die Mbeki-era die probleem van vigs. Between the Devil and the Deep – a Memoir of Acting and Reacting (2005) was weer ’n memoires oor sy jare lange ervaring in die teater.
Wat Weerklink van ’n wanklank anders as die vorige twee memoires maak, is dat hy meer persoonlik en verder terug in sy eie geskiedenis in onthou en probeer verstaan. Hy skryf: “Dit is PDU sonder die grimering! Sonder enige rekwisiete, vals wimpers of hoë hakke om agter weg te kruip. Die eggo’s wat ek hier laat hoor, sal vir die eerste keer gehoor word.” Twee vrae het dadelik by my opgekom toe ek die boek optel: Kan Uys ná al sy toneelstukke en memoires regtig nog enigiets nuuts sê? Die tweede vraag is of ek regtig behoefte aan intieme kennis oor ’n mens se lewe het? Memoires kan so maklik in selfkoestering verval en weinig leeswerk is so vervelig as ’n selfkoesterende herhaling van inligting.
Uys is egter ’n té goeie skrywer en het té veel selfinsig en mensekennis om sommer net al sy vorige idees te hersirkuleer of om in blote selfkoestering te verval. Hy bly pittig, maar niks is laf nie. Greineerlik konfronteer hy die klein Pieter Uys wat eens in sy pa se koor gesing en aan kunswedstryde deelgeneem het, wat met sy goue kuif en skoon glimlag mense kon manipuleer. Maar nog belangriker, hy ondersoek die ingewikkelde verhouding met sy pa, Hannes Uys: koorleier, orrelis, pianis, musiekonderwyser, outoritêre patriarg binne die gesin en joviale steunpilaar van die samelewing daarbuite. Dit is in die beskrywing van sy verhouding met sy ouers waarin die boek ook verby Uys se persoonlike verhaal strek en die leser aan die hart raak. Dit word meer as ’n ondersoek van die vormende invloed op Uys, dit word ’n insiggewende ondersoek na ouer-kind-verhoudings: die verlange aan geborgenheid wat almal het, ’n veilige plek van aanvaarding en waar jy aangemoedig en touwys gemaak word, maar wat ook dikwels ’n afbrekende en beperkende ruimte kan wees. ’n Ruimte van gesprek oor alles behalwe wat saak maak. Baie stiltes.
LEES OOK: Kies ’n boek: Stukke teater deur Pieter-Dirk Uys
Uys pak die boek soos ’n teaterstuk aan. Hy vergelyk die skryf en opvoer van verhoogstukke met die bou van sandkastele. Hulle is ’n rukkie lank daar as vergestalting van drome en idees, maar dan word hulle weggespoel. Hierdie boek is ook so ’n kasteel – dit is die blik wat hy op ’n sekere tyd op sy eie lewe bied. Die verhaal sou weer op ’n ander keer anders vertel kon word. Alle weergawes is tydgebonde en voorlopig. Uys vertel van sy ontdekking dat sy ma eintlik Joods was en in Berlyn verbied is om as pianis op te tree. Sy het in 1936 uit Berlyn gevlug en met haar klavier in Suid-Afrika geland. Hier het sy vir Hannes Uys ontmoet toe hulle saam opgetree het. Hy en sy suster Tessa, die beroemde pianis, is uit dié huwelik gebore.
Hy vertel van sy pa se besonderse verhouding met ’n goeie vriend voor sy troue. Ook sy jare lange vriendskap met Sophia Loren word belig. Sy het ná sy ma se selfdood vir hom geskryf om dapper te wees en sy pa en suster te ondersteun en eers later oor homself te dink. Al die inligting word boeiend aangebied, maar dit oorstyg telkens persoonlike onthullings wanneer dit ’n betekenisvolle ondersoek van menseverhoudings bied. Uys onthou sonder bitterheid. Droefheid en teenspoed word dikwels deur humor versag. Uiteindelik word ’n wroegende worsteling met persoonlike probleme as gevolg van samelewingsensuur oor godsdienstige, politieke, sosiale en seksuele beskouings egter heeltemal vermy, omdat al die onderdrukkende ervarings geïntegreer word in ’n groter lewensverhaal van ’n mens wat heeltemal vrede met homself het. Dié selfaanvaarding maak dit moontlik om in ’n samelewing behep met mag, ras, klas, godsdiens en seksuele voorkeure wat Uys se eie menswees kon bedreig, as samelewingsprobleme, eerder as bron van persoonlike krisisse te hanteer. (Tafelberg)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.