Willie Burger kyk na Michael Ondaatje se jongste roman, Warlight
Michael Ondaatje is veral bekend as die skrywer van The English Patient (1992). Baie mense het bloot die uitstekende rolprentweergawe van daardie besonderse roman gesien, maar diegene wat The English Patient gelees het, sal weet dat Ondaatje een van die uitsonderlikste skrywers van ons tyd is. Ondaatje se jongste roman, Warlight, het vroeër vanjaar verskyn. Ek kan beswaarlik glo dat hierdie roman nie op die kortlys vir die Bookerprys beland het nie, want vir my is dit een van die hoogtepunte van die afgelope jaar.
Herinnering, die manier waarop ons onthou, wat en hoe ons onthou en hoedat dit wat ons oor die verlede onthou ons bepaal, staan sentraal in die roman. Dit is egter, soos enige goeie roman, in die eerste plek ’n fassinerende storie wat boeiend vertel word. Die grootste deel van die verhaal speel in Londen, direk ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog, af. Groot dele van die stad is nog in puin en mense probeer om weer “normale” lewens in die deurmekaarspul te hervat. Die hoofkarakter, Nathaniel, is 14 jaar oud en sy suster ’n bietjie ouer wanneer hulle skielik op ’n dag deur eers hul pa en toe hul ma verlaat word.
Hul ma vertel hulle dat hul pa na ’n kantoor van sy werk in die Ooste verplaas is en dat sy ook daarheen gaan. Hulle help haar om in te pak en word in die sorg van ’n raaiselagtige man, wat hulle “The Moth” noem, agtergelaat. ’n Ruk later ontdek hulle egter hul ma se ingepakte kleretas in die huis en besef dat sy nie hul pa gevolg het nie. Maar waar sy is, en waarmee sy besig is, weet hulle nie. Hul huis word egter gereeld deur ’n groep eksentrieke mense besoek wat op ’n onvoorspelbare manier kom en gaan. Al hierdie uiteenlopende mense dra die kinders se belange op die hart en dra tot hul opvoeding by. Veral The Darter, ’n skaduagtige figuur wat skynbaar met onwettige honderesies gemoeid is, het ’n groot invloed op Nathaniel.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Die Dao van Daan van der Walt
Nathaniel begin in ’n restaurant werk en leer ook daar mense ken wat ’n groot invloed op hom het, en veral vir Agnes, sy eerste groot liefde. Saam met Agnes ontdek hy seks en sy maak vir hom ’n ander wêreld oop as sy chaotiese ouerhuis wat deur eksentrieke mense soos The Darter en The Moth, ’n woedende Russiese vrou, en die enigmatiese Olive Lawrence bewoon word. Die verhaal word uit ’n agternaperspektief deur die ouer Nathaniel vertel wat in 1959, 14 jaar later, probeer om vas te stel wat presies destyds met hom en sy suster gebeur het. Ná ’n bloedige poging om hulle te ontvoer, het hulle uitgevind dat hul ma eintlik ’n Britse spioen was, en dat die eksentrieke mense in hul ouerhuis ook agente was. In ’n poging om daardie deurmekaar tienertyd te rekonstrueer, om sy ma se rol te probeer verstaan, sluit Nathaniel ook by die geheime diens aan en hy werk deur die argief om uit te vind waarmee sy ma presies besig was.
Geleidelik begin hy om al sy herinneringe te orden. Hy ontdek al meer oor sy ma, en dele van hierdie ontdekkings lees byna soos ’n John le Carré-roman. Hierbenewens ontvou daar ook ’n meesleurende liefdesverhaal. Die verhaal van hoe sy ma by die geheime diens betrokke geraak het en haar later as besonder knap en taai spioen onderskei het, is ook ’n liefdesverhaal. Hoewel sy suster niks met haar ma te doen wil hê nadat hul ma uit die diens getree het nie, besoek Nathaniel dikwels sy ma. Sy praat nie oor haar ervarings tydens die oorlog en die onstuimige tyd daarna toe sy op talle sendings in Oos-Europa was nie.
Op ’n dag sien hy wel in ’n onbewaakte oomblik talle letsels aan haar arm. Hy probeer om alles bymekaar te sit en nog later, ná sy ma se dood, probeer hy ook om The Darter en Agnes weer op te spoor. Hy besef dan: “We are foolish as teenagers. We say wrong things, we do not know how to be modest, or less shy. We judge easily. But the only hope given us, although only in retrospect, is that we change. We learn, we evolve. What I am now was formed by whatever happened to me then, not by what I have achieved, but by how I got here. But who did I hurt to get here?” Ondaatje verken herinnering, grootword, hoe mense mekaar beïnvloed en vorm, en hy doen dit deur ’n ontstellende spioenasieverhaal, gepaard met ’n liefdesverhaal. Dit is ook ’n grootwordroman oor die ontdekking van pyn en opoffering en lojaliteit en verraad. Alles word deur ’n meesterverteller vermeng om die leser te laat nadink oor hoe mens word wie jy is.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.