Willie Burger kyk hierdie week na drie nuwe boeke in drie verskillende genres
Ek het ’n vriend wat altyd “Die 20-bladsy-toets” op elke boek doen. Dit beteken hy lees die eerste 20 bladsye van ’n boek. Dan besluit hy of hy verder sal lees. As die boek hom ná 20 bladsye nie “ingetrek” het, of nuuskierig genoeg gemaak het, of op die een of ander manier geboei het nie, lees hy nie verder nie. Hy reken daar is te veel boeke en te min lewensjare om ’n mens se tyd op boeke te mors wat jou nie sommer van die begin af kan boei nie.
Wanneer dit oor ’n romantiese komedie gaan, geld die “Die 20-bladsy-toets” nie. Ek dink ’n romantiese verhaal behoort die leser sommer al van die eerste paar paragrawe mee te sleur. Kristel Loots besef ook dat lesers waarskynlik binne ’n paar bladsye gaan besluit of hulle verder gaan lees. En sy stel nie teleur nie. Van die eerste paragrawe van Vet feetjies vlieg nie (Tafelberg) af is die leser meegevoer na die wêreld van Lucy Lombaard, ’n blogskrywer onder die skuilnaam “Funky Feetjie” wat verkies dat mense haar nie in lewende lywe moet sien nie.
LEES OOK:Kies ‘n boek: Hermann Giliomee
Hiermee die eerste paar paragrawe. As jy hierna nie lus het om verder te lees nie, kan jy nie meegevoer raak deur romantiese fiksie nie: My naam is Lucy Lombaard en ek is vet. Miskien darem nou nie spekvet nie, maar nogtans lekker vet. As ek in Rubens se tyd geleef het, was ek ’n looker. Dan was my danskaart vol, sou daar gedigte oor my geskryf word en liedere gesing word. En daar sou skilderye van my wulpse poedelkaal lyf deur meesters geskilder word wat miljoene werd sou wees. Baie wow! Maar toe word ek mos in die verkeerde eeu gebore, in hierdie eeu waar vrouelywe soos kodestrepies lyk. Soepel wilgerlatlywe, buigsaam in alle rigtings, is aan die orde van die dag. Vir boomstomplywe soos myne is daar selde ’n plekkie in die son.
Haar sukses as blogskrywer lei tot ’n pos as rubriekskrywer by ’n vooraanstaande publikasie en daar leer sy ’n mede-rubriekskrywer ken, asook die mediamagnaat wat haar blog raakgesien het. Kristel Loots het ’n groot aanhang opgebou met boeke soos Troukoek maak nie vet nie, Die engel rook skelm en ’n Ander vrou se rok. Vet feetjies vlieg nie het dieselfde prettige aanslag en pittige taalgebruik en ’n storie wat baie lesers sal meevoer.
Baie lesers het uitgesien na die terugkeer van Ellie McKenna. Soos dit dikwels met speurders in misdaadfiksie gaan, raak lesers geheg aan die speurders en wil graag weer oor hulle lees. In Dubbelspel (2014) het die rooikop-polisievrou, Ellie McKenna, baie lesers geboei. Sy is ’n murg-en-bloed-polisievrou en sy is so taai soos ’n ratel. In Dubbelspel het sy voor talle raaisels te staan gekom – onder meer die dood van haar eie pa. Sy moes byna vrou-alleen die gewetenslose skurke uit Nigerië en China die hoof bied.
Natuurlik net byna vrou-alleen, want sy raak tussen al die smokkelary, geldwassery en korrupsie ook by Nick Malherbe betrokke, ’n soort lyfwag wat vir die sekuriteit van ’n skatryk familie verantwoordelik is. Niks is egter eenvoudig nie en dit is moeilik om alles te ontrafel omdat daar, soos die titel van die roman suggereer, te veel dubbele rolle deur talle mense by wie sy betrokke raak, gespeel word. Ná die wilde ervarings besluit Ellie in Eindspel (Tafelberg) om weg te kom van die onderwêreld van skurke en misdaad en gaan bly op ’n plattelandse dorpie.
LEES OOK:Kies ‘n boek: Jagveld en ander draaiboeke
Geleidelik skakel sy by die rustige bestaan in, maar dan volg die skurke haar en raak sy opnuut by talle ingewikkelde netwerke betrokke – hierdie keer om finaal met die skurke af te reken – soos die titel ook aandui. Wilna Adriaanse het aanvanklik as skrywer van romantiese fiksie, bekend geraak maar met Dubbelspel en Eindspel lewer sy misdaadfiksie vol ingewikkelde en veelvuldige storielyne wat die leser aan die raai hou en enduit boei. Sy is ’n vernuftige verteller wat spanning deurgaans volhou. Maar die romantiese element het nie heeltemal uit haar werk verdwyn nie – en in Eindspel kruis Ellie en Nick se paaie ook weer.
Rudi Venter se boek Die boendoesbaaiding (Human & Rousseau) is ’n jeugverhaal. Eddie Jacobs se ma het ’n gastehuis op Boendoesbaai en sy pa restoureer meubels. Eddie het sy takies om vir die gastehuis te doen, en hy moet ook aan sy broer se perd aandag gee. Maar dan word hy nuuskierig oor ’n hele aantal gebeurtenisse op die dorp en probeer hy soos ’n wafferse speurder al die geheime ontrafel – geheime wat hulle ook nie sonder meer laat ontrafel nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.