Willie Burger vertel meer oor Afrikaanse gedigte wat in Engels vertaal word
Daagliks kommunikeer mense in ons land deur middel van ’n tweede, derde of vierde taal met mekaar. Hierdie voortdurende vertaling van gedagtes, emosies en idees in ’n ander taal, gaan dikwels met frustrasie en wankommunikasie gepaard. Maar die vertaling beteken ook opwindende verskuiwings in maniere van dink en doen.
Vertaling is onontbeerlik in ons tyd van globalisering, ’n tyd waarin handel oor die wêreld plaasvind en ekonomieë verweef is en waarin mense toenemend oor taal- en kultuurgrense heen met mekaar in kontak kom. Vertaling is onontbeerlik in die tyd van internet en digitale media wat mense wêreldwyd aan inligting, vermaak en advertensies in ander tale as hul eie blootstel. Vertaling lei egter dikwels tot misverstande omdat dit eintlik onmoontlik is om betekenis honderd persent presies te vertaal. Sommige woorde kan baie naby aan dieselfde in twee tale wees, maar vir ander woorde bestaan daar dikwels geen ekwivalent in ’n ander taal nie, of die woord wat as ekwivalent in die ander taal beskou word, dra tóg maar nie presies dieselfde emosionele gewig nie of het ook ander konnotasies.
Vertaling gaan egter oor veel meer as woordeskat en die betekenis van enkele woorde. Die verskillende maniere waarop sinne gemaak word, hoedat woorde met mekaar skakel, hoedat tyd aangedui word, selfs hoe woorde klink, bemoeilik die vertalingsproses verder. Nog belangriker is kulturele verskille – wat in ’n sekere kultuuur onder spesifieke omstandighede gesê kan word en wat nie, of selfs die toon waarop daar in sekere omstandighede gepraat word. Daarom is vertalings altyd verdraaiings: “iedere vertaling is ’n dwaling.” Al hierdie dinge beteken egter nie dat dit vermy kan word nie. Ons kan nie hoop om al die tale van die wêreld te leer ten einde met almal in hul eie taal te kan praat of hul letterkunde in die oorspronklike tale te kan lees nie.
Vertaling is absoluut noodsaaklik, nie slegs vir kommunikasie nie, maar dit is ook een van die vernaamste maniere waarop kulture verryk en verander word. Elke vertaling van een taal na ’n ander is ook die vertaling van kulturele gebruike en opvattings na ’n ander. In die poging om die vreemde bekend te maak, word die vreemde uiteraard verander, maar ook die bekende verander. Iets nuuts ontstaan. Vertaling is dus ’n dinamiese en opwindende proses wat verandering binne kulture moontlik maak. Op wêreldwye skaal bestaan daar ’n groot verskeidenheid “plaaslike tale”, tale wat in sekere beperkte gebiede gepraat word, naas enkele “wêreldtale” wat as lingua franca dien. Tale soos Engels, Frans en Arabies tel onder die tale wat in baie wye gebiede oor landsgrense heen gebruik word. Die verhouding tussen die “plaaslike tale” en hierdie “wêreldtale” is altyd gespanne.
Vertaling vind op ongelyke voet plaas. Veel meer Engelse werk word byvoorbeeld na ander tale vertaal as wat uit ander tale na Engels vertaal word. Die sprekers van sogenaamde “wêreldtale” het dikwels nie die behoefte om te weet wat in ander tale gedink en gesê word nie. Om meer gelykheid in die wêreld te kry, is dit noodsaaklik om meer van die plaaslike tale en kulture in ’n wyer sirkulasie op te neem. Een só ’n poging is om Afrikaanse poësie aan ’n wyer gehoor bekend te stel. AP Grové en CJD Harvey het dit reeds in die jare sestig besef en ’n bloemlesing saamgestel: Afrikaans Poems with English Translations (1962). Dit is eintlik verstommend dat dit nog al die jare die enigste een gebly het. Intussen het die Afrikaanse poësie radikale veranderings beleef, talle digters het bygekom en internasionale erkenning gekry.
Hoewel sommige digters se werk vertaal is, is daar egter nie weer ’n bloemlesing saamgestel wat ’n beeld van die Afrikaanse poësie kon gee nie. Uiteindelik het die Akademie vir Wetenskap en Kuns die projek onderneem om die bloemlesing te laat hersien en op datum te bring. Onder leiding van die bekende akademici Hennie van Coller, Helize van Vuuren en Louise Viljoen is ’n raps oor die honderd Afrikaanse gedigte uitgesoek. Om ’n beeld van die Afrikaanse poësie aan die hand van ’n 100 gedigte te gee, is ’n moeilike taak. Om dan boonop seker te maak dat hierdie gedigte reeds vertaal is (in die oorspronklike bloemlesing van Grové en Harvey of op verskeie ander plekke – in ander bundels of iewers op die internet) en om sommige gedigte spesiaal te laat vertaal, is ’n reusetaak. Daar sal mense wees wat hul versameling kritiseer. Daar sal mense wees wat sommige van die vertalings kritiseer. Dit is onmoontlik om almal gelukkig te maak. Maar myns insiens is hierdie ’n waardevolle bloemlesing.
Vir Afrikaanssprekendes bied die keuse ’n minder omvangryke bloemlesing as die driedelige Groot Verseboek. Maar die saamlees van die Afrikaanse gedig naas ’n Engelse vertaling daarvan laat mens ook oor ander betekenismoontlikhede nadink en bied selfs ander insigte in die gedigte. Uiteraard is Afrikaanssprekendes nie in die eerste plek die teikenmark nie. Die bloemlesing bied vir diegene wat nie Afrikaans ken nie, die geleentheid om in ’n lingua franca kennis te maak met ’n letterkunde, met ’n kultuur, met maniere van dink, wat andersins onbekend sou bly. Die belangrikste wins van vertaling is dat die oorheersing van ’n enkele taal en enkele kultuur daardeur teengestaan word. En sodoende word ’n enkele manier van dink, ’n enkele manier van doen, teengestaan. Vertaling sorg dat verskillende ervarings van die wêreld wyer gedeel kan word en sodoende word die ganse mensdom se ervaring van die wêreld verryk.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.