Willie Burger kyk na Johan Myburg se nuutste digbundel, Uittogboek
Die digter Johan Myburg is hierdie jaar 60 jaar oud. Normaalweg begin ek nie ’n resensie met só ’n stukkie persoonlike inligting nie, maar dit is ’n belangrike feit om in gedagte te hou by die lees van sy jongste bundel, Uittogboek.
Soos baie ander digters wat wanneer hulle ouer word oor die aftakeling van die lyf en die dood skryf, is Myburg in hierdie bundel ook, soos die titel suggereer, gemoeid met ouer word en die naderende dood. Die eerste afdeling van die bundel bestaan uit sewe gedigte wat nóú by mekaar aansluit. Telkens word na “die keiser” verwys, later na Hadrianus en uiteindelik, in die laaste gedig in die afdeling word na Marguerite Yourcenar verwys. Yourcenar het in 1951 ’n historiese roman met die titel Memoires of Hadrian, geskryf.
Die roman begin met keiser Hadrianus wat op 60-jarige leeftyd sterwend is en dan begin om sy herinneringe oor sy lewe op te teken. Hadrianus kyk terug op ’n lewe van geweld en vrede, verlies en voorspoed en probeer om sin te maak uit die vormlose massa van herinnerings. As dapper soldaat het hy groot roem verwerf, maar toe hy op 40 keiser word, het hy probeer om die Romeinse Ryk te bestuur deur vrede te maak. Hy wou onderworpe volke met ekonomiese voorspoed aan die Ryk bind, eerder as deur gewelddadige onderdrukking. Hadrianus het liefdesverhoudings en liefdesteleurstellings met vroue én mans gehad. Hy het nagte deur gelees en studeer en was ’n ruim denker (wat selfs aan vroue en slawe regte toegeken het).
LEES OOK:Kies ‘n boek: Fotostaatmasjien
Aan die einde van sy lewe worstel hy met die vraag: Wat word van alles ná ’n mens se dood? Hierdie is ook die vraag wat Myburg op dieselfde ouderdom vra. Hy besef dat die dood nader: “Hier sal ek / my gat sien: ’n klein voorval dalk, / ’n vinnige skoot by my tuinhek, / ’n morsige sny tog diep genoeg / aan die nek of straks ’n steekse klier / wat botweg weier om saam te speel”. Hadrianus voeg sy herinnerings uiteindelik in ’n samehangende verhaal saam. Sy besondere taalgebruik maak van sy memoires ’n bewonderenswaardige kunswerk wat redding bied teen die verbygaan van tyd. ’n Resensent in die New Yorker het oor Yourcenar se Memoir of Hadrian opgemerk: But the salvation is not limited to the superstructure. It goes down to the diction, the grammar. In ‘Hadrian,’ Yourcenar gathers not just the round-cheeked boys and the fire festivals but also the less glamorous materials—the tax abatements, the judicial reforms—into sentences that throb and glow like rising suns. This is more than beauty; it’s morals.
Ek wil dieselfde oor Myburg se digbundel sê: Uittogboek gooi wal teen die verbygaan van tyd soos wat Yourcenar se Hadrianus dit gedoen het. Hy skryf in uiteenlopende afdelings oor misdaad en politiek, oor ekologie, oor liefde en die dood, met woorde wat klop en gloei: As niemand iets kan lees nie, gee ’n stuk papier aan en ink dat ek teen die vrees in kan skryf. Miskien gee skryf my die vermoë om die dood tegemoet te gaan met oper oë. Hadrianus besef dat die mens ewe veel goed as sleg beleef – tydperke van relatiewe voorspoed word weer deur teenspoed gevolg. Daar is nie werklik sin te vind in al die gebeurtenisse nie – alles loop nie uit op verbetering en voorspoed nie.
LEES OOK:Kies ‘n boek: Oorlog en Terpentyn
Al raad teen die verbygaan van tyd, is om kuns te maak, om woorde te vind wat sin kan gee aan ervarings. Myburg se taalvermoë blyk onder meer uit die slotreëls van “Memoires”: … Ander koepels en kroonlyste sal oor óns kroonlyste en koepels die kroon span. Min sal dink en sin maak soos óns dit doen, maar dit is dié enkelinge wat soos bakens deur die eeue uitstaan waarop ek sal steun, én die periodieke onsterflikheid In agt bundelafdelings bied Myburg fyn afgewerkte gedigte wat wal gooi teen verganklikheid. Soos in Kontrafak (1994) vind hy aansluiting by die Latynse wêreld, by enkelinge soos Ovidius as “bakens van onsterflikheid” en hy knoop sy sterflikheid daaraan.
Hier is speelse gedigte, gedigte vol spot en ironie, soms bedrieglik toeganklik terwyl ander weer besonder dig is: dig aan verwysingsraamwerk (Bybel, Klassieke, Middeleeue en eietydse ervarings) maar ook aan tegniek. Mens staan telkens verstom oor die vernuftige bindmiddels: versigtige woordkeuses wat op slim maniere saambind, deur assosiasies, deur klank, deur betekenis. Uittogboek kan met groot genot op grond van klank- en woordspel en die betowering van die beelde geniet word, sonder dat jy te veel verstaan. Maar dit verdien om weer en weer gelees te word en geleidelik raak ’n mens opgewonde oor nog en nog ontdekkings. Daar het nog altyd baie tyd verloop tussen Myburg se bundels. Maar hy het ook met elke bundel verder en dieper gegryp en sy gedigte word tegnies al hoe boeiender. Hierdie is ’n hoogtepunt.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.