Willie Burger kyk na niefiksie-werke van China Mouton en Christine Barkhuizen-Le Roux
Daar is baie mense wat sê dat hulle nie graag fiksie lees nie, dat fiksie tydmors is. Die werklikheid is eenvoudig te ernstig en daar is nie nog tyd om jou, soos ’n kind, met verbeeldingsvlugte ook besig te hou nie. Veral in ’n wêreld waarin toenemend van “alternatiewe waarhede” gepraat word en waarin dit vir ’n span “feit-toetsers” nodig is om ’n president se toespraak na te gaan en hulle al ná enkele minute se toespraak op talle valshede afkom, het ons nie nog behoefte aan fiksie ook nie. Ons het juis behoefte aan meer niefiksie, aan waarheid, om ons te help om die werklikheid skerper te kan raaksien.
Boekverkoopsyfers dui inderdaad daarop dat niefiksie gewilder as fiksie is en bevestig die idee dat ons in ’n samelewing leef wat honger vir realiteit is. China Mouton se boek Tronkhond is ’n boek wat vir ’n realiteitshonger samelewing veel bied. Jakobus Daniël Mouton, beter bekend as China, was van 1974 tot 2013 ’n hondemeester in die departement van korrektiewe dienste. Hy het vir bykans 35 jaar sekuriteit aan maksimumgevangenisse verleen. Mouton het die skool verlaat voordat hy matriek behaal het en by die destydse gevangenisdiens aangesluit. Hy was maar pas 17 toe hy sy opleiding voltooi en sy eerste pos op Robbeneiland gekry het.
Hier het hy onder andere vir Nelson Mandela ontmoet. Mandela het gereeld saans vir hom die hardgekookte eiers wat hulle vir aandete gekry het afgedop en deur die tralies aangegee. Dan het hulle saam eiers geëet en oor boks gesels. Mandela het hom ook aangemoedig om verder te studeer. Hy vertel van sy deelname aan boks as sport, van sy huwelik op ’n baie jong ouderdom en van sy dienstydperke by verskillende tronke in die land. Aanvanklik skrik sy medebewaarders se drankgebruik hom af, maar later word hy self ook ’n strawwe drinker wat telkens weens sy drinkery in die moeilikheid beland. In ’n stadium raak hy selfs by onwettige drankhandel in ’n klein Vrystaatse dorpie betrokke.
Verstommend is egter die verhale oor wat binne tronke aangaan: die geweld, die tronkbendes, die maniere waarop mense in die tronke behandel word. Telkens vertel Mouton van gevangenes wat ’n groot indruk op hom gemaak het met hul spesifieke vaardighede, van ’n “terroris” wat kan kitaar speel en ’n bendeleier met ’n liefde vir honde. In die meeste verhale oor tronke word bewaarders as sadistiese skurke uitgebeeld. Mouton probeer nie om die bewaarders as rein helde uit te beeld nie. Hy skryf oor sommige bewaarders se rassisme, oor hul hardhandige optrede, hul harde drinkery uit verveling of om spanning en trauma te verwerk, maar mens kry ook veral insig in hul vrese, in die gevaarlike omstandighede waarin hulle soms moet funksioneer en hoedat hulle dikwels deur gevangenes met skerp voorwerpe aangeval word. Veral die groot opstande wanneer gevangenes die bewaarders gevange neem en as gyselaars aanhou, met die dood dreig of doodmaak, skep spanningsvolle werksomstandighede. Juis in sulke omstandighede is die bewaarders se honde soms onmisbaar. Hy vertel talle verhale van honde se dapperheid wat hulle hanteerders se lewens red en saam met die bewaarders teen ’n oormag van gewapende bendes veg.
China se liefde vir diere, veral honde, maar ook perde, is die goue draad wat deur Tronkhond loop. Die honde word nie slegs gebruik om te help om die gevangenes te beheer nie, maar ook vir die opspoor van dwelms en vir spoorsny. Hy het in 1987 die hoof van die hondeeenheid op Goedemoed geword.
Christine Barkhuizen- Le Roux se jongste roman, My naam is Prins, ek slaap met die lig aan (2019. Kaapstad: Human & Rousseau) is ’n voorbeeld van een van die rolle wat fiksie in ’n samelewing wat honger vir niefiksie is, kán speel. Fiksie kan onder meer op onthutsende maniere sekere van die verskrikkings van ons werklikheid onder die kollig plaas. In hierdie roman word die vernietigende gevolge van kindermolestering ondersoek. Ons is almal van statistiek rakende seksuele oortredings teenoor kinders bewus en hoor byna daagliks in die nuus van seksuele dade wat met kinders deur onderwysers of kerkleiers, sportafrigters, familielede of vreemdelinge gepleeg word.
Die rapportering in die nuusmedia van die verskriklikhede wat kinders aangedoen word, kan egter nie die skrikwekkende gevolge van hierdie misdade – selfs 40 jaar later – in fyn besonderhede bied nie. Meestal is die slagoffers van seksuele molestering te skaam om daaroor te praat. Die psigologiese effek daarvan op mense se lewens word in Barkhuizen-Le Roux se roman beskryf. Hoewel die verhaal fiktief is, het sy baie navorsing gedoen, boeke geraadpleeg, by sielkundiges gaan kers opsteek en onderhoude met slagoffers gevoer. Die verhaal wat sy op grond van al hierdie inligting geskep het, is ontstellend. Dit ontstel meer as wat blote statistieke of beskrywings in sielkundehandboeke mens kan omkrap. Die leser betree as ’t ware die wêreld van ’n slagoffer en loop saam op ’n pad om die trauma van die verlede te konfronteer. Die roman word ’n emosionele ervaring, eerder as wat dit bloot as inligting aangebied word, en op hierdie manier word mens op skrikwekkende manier aan ’n werklikheid in ons samelewing blootgestel.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.