Willie Burger kyk na drie nuwe boeke
“Banggatdorpies” noem een van my vriende dit – hierdie omheinde veiligheidsbuurte met hekwagte en slagbome en kameras en elektriese heinings op die hoë mure.Hierdie “veiligheidsbuurte” het ’n bekende deel van ons Suid-Afrikaanse misdaaddeurdrenkte gemeenskap geword en is kort-kort in die nuus wanneer daar juis binne so ’n “veilige” gemeenskap misdaad plaasvind (Oscar Pistorius, Henry van Breda.)
Vir baie mense is die hoë mure en slagbome maar net ’n nuwe weergawe van apartheid. Max Annas is ’n Duitse misdaadfiksieskrywer, maar hierdie vertaling van sy roman Die Mauer is só Suid-Afrikaans as wat kan kom. Annas het in Port Elizabeth as joernalis en as dosent by Fort Hareuniversiteit gewoon en gewerk voordat hy na Duitsland is. Sy debuutroman, The Farm, is in 2014 met die Duitse misdaadfiksieprys bekroon en dit word op die oomblik in Suid- Afrika verfilm. Die Mauer is in 2017 ook met die Duitse misdaadfiksieprys bekroon. Al is The Wall ’n misdaadroman, is dit skreeusnaaks. Die karakters en gebeurtenisse agter die hoë mure van The Pines, ’n veiligheidsgemeenskap in Oos-Londen word met humor beskryf.
Die aanslag is lig en vermaaklik, maar die erns van misdaad word nie ligtelik afgemaak nie. Ondanks die humor is dit ’n intense spanningsverhaal waarin die grootste probleme in ons gemeenskap – vooroordele ten opsigte van ras, klas en geslag – sentraal staan. Misdaadfiksie is baie gewild in Suid-Afrika. Hoekom nou ’n Duitse skrywer se vertaalde werk oor misdaad in SA lees? Omdat hierdie só anders as die meeste ander misdaadfiksie is: baie aksie, hoë spanning, maar snaaks. Boonop bied dit heelwat insig in die aard van “banggatdorpies” en hul plek in die Suid-Afrikaanse gemeenskap. (Catalyst Press)
“Olivia fit Grease like a glove” Dit was John Travolta se kommentaar oor sy eerste ontmoeting met Olivia Newton- John ná hul skermtoets vir die rolprent Grease. Vandag kan mens nie glo dat Olivia Newton-John enige bedenkinge gehad het oor haar vermoë om Sandy in Grease te speel nie. Maar sy was bekommerd daaroor omdat sy reeds in haar twintigs was en ’n skoolmeisie moes speel. Boonop was sy ’n Australiër. Vir almal wat oud genoeg was om die rolprent destyds in die teaters te sien, sowel as almal wat vandag nog daarna kyk, is Newton-John se Sandy die enigste Sandy. Soos Travolta die enigste Danny is. Daar is eenvoudig ’n magiese vonk tussen hulle.
Tydens haar skermtoets voor die verfilming begin het, kon almal reeds daardie spesiale konneksie tussen haar en John Travolta waarneem. In haar eie woorde het sy dit só ervaar: And then it happened. John Travolta came out to greet me. Our eyes met. When we walked inside the room together, it was magic and everyone saw it. Knew it. They couldn’t deny this kind of chemistry. We were right next to each other. Up close and personal. Later skryf sy oor hoe moeilik dit is om die vonk, die “chemie” tussen mense te behou wanneer jy tydens die verfilming byvoorbeeld voor 30 mense moet soen: maar sy merk op: “On screen, however, it was the type of chemistry that you can’t fake. You either have it or you don’t. We had it – thank goodness.”
Benewens haar rol in Grease, het haar rol in Xanadu ontsettend veel gedoen om haar wêreldwyd ’n superster te maak. Newton-John het vier Grammy-toekennings ontvang en tel onder een van die wêreld se topverkopersangers met meer as 100 miljoen albums wat verkoop is. Benewens haar gewildheid as sanger en akteur, het sy ook bekend geword as iemand wat teen kanker moes veg. Sy het die Olivia Newton-John Cancer Wellness & Research Centre in haar tuisdorp, Melbourne, Australië, gevestig en vir baie mense ’n inspirerende voorbeeld geword. Die titel van haar outobiografie is die woorde uit een van haar bekendste liedjies: Don’t Stop Believin’ en dit is inderdaad die positiewe boodskap wat sy met hierdie outobiografie van oor die 300 bladsye wil gee. (London: Simon & Schuster)
Almal ken Fiela se kind. Die boek is sekerlik op die meeste mense se rakke. Maar as jy nog nie die boek gelees het nie, of nie besit nie, is daar nou die geleentheid om ’n nuwe uitgawe daarvan aan te skaf. Tafelberg het ’n “rolprentuitgawe” laat verskyn om met die nuwe rolprent wat oor die onvergeetlike roman deur Matthee gemaak is, saam te val. (Tafelberg)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.