Willie Burger kyk na die roman The Overstory wat jou so ’n bietjie sal verander
Goeie stories, so beweer een van die karakters in The Overstory, maak ’n mens so ’n bietjie dood, en hulle verander jou in iets wat jy nie was nie.The Overstory is ’n roman wat ’n soortgelyke effek op my gehad het. Talle romans in ons tyd het ’n ekologiese tema. Daar verskyn baie boeke, fiksie en niefiksie, wat ons herinner aan die skade wat deur menslike gedrag aan die planeet aangerig word.
Die natuurprogramme op TV dra voortdurend hierdie boodskap oor. Verder word ons daagliks vanuit talle oorde aan aardverwarming, die vernietiging van natuurlike woude, die ongebreidelde ontginning van natuurlike hulpbronne en besoedeling herinner. Ons hoor van die politieke implikasies van al die groen debatte, van presidente wat aardverwarming ontken en van politieke partye wat stemme op grond van hul ekobetrokkenheid werf. Onderliggend aan al die debatte en aan die vernietiging van ons planeet, so hoor mens dikwels, lê die klem op winsneming.
Weens hierdie blootstelling aan al die debatte oor omgewingskwessies, bestaan die gevaar dat nóg ’n roman met hierdie tema dalk deur sommige lesers vermy sal word, en ek moet bely dat ek half langtand begin lees het omdat ek tog nie vir ’n boomomhelser- storie lus was nie. Die boek kom egter met ’n aanbeveling deur Margaret Atwood op die buiteblad wat lui: “It is not possible for Powers to write an uninteresting book.” Powers se roman is inderdaad allesbehalwe oninteressant. Dit is ’n meesleurende leeservaring!
Die bietjie meer as 500 bladsye is in vier afdelings verdeel: Roots, Trunk, Crown en Seeds. Hierdie verdeling is natuurlik dele van ’n boom en dit is gepas omdat bome sentraal in die roman staan. Maar dit is ook meer, want die eerste deel (Roots) bestaan uit agt onderafdelings waarin die verhale van verskillende, uiteenlopende mense vertel word: ’n kunstenaar op ’n familieplaas met ’n groot boom in die midweste van die VSA, ’n dogter van ’n Chinese immigrant wat ingenieur word, ’n geboeliede seun wat uiteindelik ’n bekende sielkundige word, ’n eiendomsregspesialis en sy vrou wat haar nie laat besit nie, ’n oorlogsveteraan met ’n oënskynlike neiging tot fanatisme, ’n biologiese navorser wat opspraakwekkende ontdekkings oor bome maak, ’n IT-spesialis wat suksesvolle rekenaarspeletjies ontwikkel en ’n student in aktuariële wetenskap wat haar studies staak omdat die bome met haar praat.
Hierdie verskillende verhale het oënskynlik niks met mekaar te doen nie, maar in die “stam”-gedeelte van die boek, kom sommige van die verhale by mekaar uit, terwyl ander verhale steeds vertak. Geleidelik word die verhale saamgebind deur die sentrale plek van bome daarin. ’n Stryd om die groot woude in die VSA te red, lei tot die kruising van mense se paaie wat onwaarskynlik deur enigiets anders as bome aan mekaar verbind sou word. Sodoende word bevestig hoedat menselewens met bome se lewens vervleg is. Powers trek die leser by elk van die karakters se lewens in. Die verhale betrek die leser emosioneel omdat elkeen van die uiteenlopende karakters se verhale mens uiteindelik by hul lewens betrokke maak en juis daarom laat die boek jou so ’n bietjie sterf.
Geen maklike argumente word na enige kant op die leser afgedwing nie. Die versetbeweging, die idee van betogings en selfs van gewelddadige verset teen die ontginning van woude (maar ook in die algemeen) word van talle kante belig. Die moontlikhede van rasionele argumente, van emosionele aansprake, die invloed van sosiale sielkunde en die politieke, regs- en die ekonomiese implikasies word gekompliseer en genuanseerd aangebied. Dit is ’n roman oor herinnering, oor skuld en boete, oor vrye wil en lotsbestemming, oor kommunikasie, oor normaliteit en afwykende gedrag, oor individualiteit en verbondenheid. Op die eerste bladsy al word die leser gewaarsku: “A good answer must be reinvented many times, from scratch.” En dit is presies wat in die roman gebeur.
Talle goeie antwoorde word ondersoek, maar weer gekompliseer en dwing die leser om ook vir hom- of haarself opnuut antwoorde te bedink. Daarom verander die boek mens. The Overstory ondersoek soos alle goeie letterkunde, menslike bestaan, om antwoorde te soek na wat menslike bestaan sinvol maak, maar ook hoedat mense se bestaan vervleg is – nie slegs met ander mense nie, maar met die ganse aarde – en veral met bome. Die roman is ’n ensiklopedie van kennis oor bome, bied talle insigte in die sielkunde, eiendomsreg en filosofie, maar dit word alles opgeneem in ’n kragtoer van vertelling.
Powers vervleg die storielyne meesterlik, hou verskeie spanningslyne in die lug, en verras telkens met onvoorspelbare en onthutsende wendings. Die roman oortuig die leser en ondermyn dan weer dieselfde oortuigings; bied idealistiese hoop saam met volslae wanhoop oor die aarde, oor mense, oor die mensdom. The Overstory bevat boonop van die mooiste prosa oor bome wat ek nog teëgekom het, teer beskrywings van menseverhoudings, maar vermy sentimentaliteit. As jy hierdie jaar net een roman gaan lees, sal jy nie ’n fout maak met The Overstory nie. Maar wees gewaarsku, dit gaan jou so ’n bietjie laat sterf, en jou verander. (London: Heineman)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.