Willie Burger kyk na Harald Pakendorf se boek oor herinneringe van sy loopbaan
Die bekende koerantman, TV- en radio-aanbieder en politieke analis Harald Pakendorf se herinneringe van sy loopbaan is ’n baie interessante en boeiende boek. Pakendorf, wat bekend is vir sy politieke kommentaar, se loopbaan in die media het vroeg in die 1960’s as SAUK-nuusverslaggewer en as joernalis by NewsCheck begin, voordat hy by Die Vaderland begin werk het.
Hy het sy pad van onder af opgewerk, eers as munisipale verslaggewer totdat hy later parlementêre verslaggewer geword het (en waar hy uit die persgalery die Verwoerd-sluipmoord beleef het). In 1969 is hy deur Perskor as redakteur van die Rhodesian Financial Gazette aangestel, ’n koerant wat begin is om positief teenoor Ian Smith se Rhodesian Front te wees. Hierna het Pakendorf in 1972 die redakteur van Oggendblad geword en later was hy redakteur van Die Vaderland. In 1986 is hy as redakteur van Die Vaderland afgedank, nadat daar dikwels verskille tussen die invloedryke bestuur van Perskor en die “stroomop” Pakendorf was.
Onder sy redakteurskap het Die Vaderland ’n meer “linkse” of “verligte” kant van die Afrikaanse gemeenskap bedien. Die “verligte” beskouings het hom voortdurend in botsing met sekere groeperings binne die Afrikaanse gemeenskap gebring, veral ook met mense soos die destydse eerste minister, John Vorster. Pakendorf (en sy gesin) is vir dekades lank deur die veiligheidspolisie dopgehou en pogings is aangewend om hulle te intimideer. Toe Vorster later president was, het hy Pakendorf gedreig dat hy hom van “kriminele laster” gaan laat dagvaar. Druk en dreigemente het nie slegs van die konserwatiewer kant van die HNP, die KP of die “regse” elemente binne die NP gekom nie, maar ook vanuit Perskor, wat die koerante besit het waarvoor Pakendorf gewerk het.
Omdat Perskor ook onder meer skoolboeke uitgegee het en ’n baie groot deel van hul inkomste daaruit gemaak het, het die Transvaalse Onderwysdepartement heelwat mag gehad om druk op Perskor uit te oefen wanneer die koerante in Perskor se stal nie positief oor onderwyssake (of die NP se bedrywighede) was nie. Die verhaal wat in Stroomop ontvou, is een van Pakendorf wat nooit teruggedeins het vir die intimidasie en druk nie, maar wat in persvryheid geglo het en so ver as moontlik probeer het om persvryheid te bevorder. Hy het byvoorbeeld gesorg vir ’n besonder goeie boekeblad in Die Transvaler, ten spyte daarvan dat sekere mense in die Perskor-bestuur druk uitgeoefen het dat boeke wat deur hul kompetisie, Nasionale Pers, uitgegee word minder aandag in die boekeblad moes kry.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Jennifer Friedman se memoires
Die stryd tussen die twee mediareuse, Perskor en Naspers, ontvang heelwat aandag in die boek. Dit is ’n baie interessante verhaal – ’n verhaal wat ten nouste geweef is om die destydse besturende direkteur van Perskor, Marius Jooste. In een staaltjie vertel Pakendorf dat hy kort ná die 1976-onluste teenoor Jooste opgemerk het dat dit lyk asof John Vorster se regering doelloos geword het, waarop Jooste toe summier die eerste minister bel en sê: “Nee, magtig, John. Jy kan nie so aangaan nie. Jy moet regeer.” Pakendorf skryf met deernis oor Marius Jooste, maar wys ook op die foute wat Jooste, en Perskor, gemaak het en die uiteindelike ondergang van Perskor weens bedrog oor sirkulasiesyfers.
Uiteindelik is Pakendorf op 46 as redakteur van Die Vaderland afgedank oor sy kritiese blik op die NP. Hy het wel later, in die nuwe bedeling, wyd erkenning ontvang vir sy bydrae tot mediavryheid tydens apartheid, maar destyds het dit hom in ’n dilemma gelaat. Hy het ’n aanbieding om vir die Sunday Times te gaan werk van die hand gewys, en begin om ’n maandelikse politieke verslag saam te stel. Sy reputasie as politieke analis en onverskrokke verslaggewer het later vir hom talle ander moontlikhede gebied – soos TV-aanbieder. Stroomop is in ’n gemaklike geselsstyl geskryf, byna asof Pakendorf sit en interessante anekdotes oor sy lewe as koerantman vertel. Sy humorsin is fyn en daar is geen pogings om homself as ’n held van die stryd teen apartheid uit te beeld nie. Dit is ’n eerlike en beskeie verslag waarin hy nie skroom om met kritiek na sy eie optrede van destyds te verwys nie.
Die gemaklike praatstyl impliseer egter nie oppervlakkigheid nie. Uiteindelik besef mens dat die stories jou ingetrek het en dat dit ’n magdom boeiende inligting oor die tydperk (1960’s, 1970’s, 1980’s) meedeel – oor mediavryheid, politiek en die mense en stories agter die historiese gebeurtenisse. Maar soos ’n goeie koerantman betaam, vertel Pakendorf nie slegs wát, wáár en wanneer dit gebeur het nie (trouens ’n mens voel soms daar is bietjie gebrek aan presiese datums en dat agtergrondverduidelikings eintlik nodig is – dat hy te geredelik aanvaar dat lesers oor die agtergrondkennis oor Perskor, Naspers, en allerlei politieke gebeurtenisse van destyds beskik), maar dat dit belangriker is om uit te vind wat agter alles lê, hóékom dit gebeur. En uiteindelik is Stroomop meer as ’n gemoedelike terugblik op ’n loopbaan. Pakendorf gee insig in die land se geskiedenis – spesifiek die Afrikaanse gemeenskap se rol – asook ’n blik op die toekoms.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.