Willie Burger kyk na niefiksie wat jou wel soos ‘n uitstekende roman meesleur
In sy jongste boek, Losing the Plot. Crime, Reality and Fiction in Postapartheid Writing, skryf die bekende literator, Leon de Kock, dat niefiksie in Suid-Afrika tans meer aandag trek as fiksie.
Hy wys daarop dat verskeie skrywers (onder meer Antjie Krog en Marlene van Niekerk) al aangedui het dat fiksie byna oorbodig in ons land geword het en dan skryf hy: “What underlies assertions such as theirs is the sense that the sheer scale of postapartheid’s failure to deliver on its promises – and the need to document this perceived condition – has edged out imaginative or fictive writing as the country’s leading form of literary intermediation.”
Volgens De Kock vind outeurs dit in die heersende patologiese en misdadige omstandighede onnodig om fiksie “uit te dink”, dat dit nie nodig is om op die verbeelding staat te maak nie, maar dat ‘n skrywer die plig het om oor die aktuele omstandighede verslag te lewer. Een van die interessante onlangse voorbeelde van hierdie soort niefiksie, wat ‘n mens soos ‘n uitstekende roman meesleur, maar wat eintlik ‘n onthulling van die werklike dwelmhandel-onderwêreld is, is Paul McNally se The Street. McNally is ‘n ervare joernalis wat hoofsaaklik oor misdaad en regsake skryf en hy maak ook dikwels dokumentêre programme vir die radio.
In 2009 is hy met ‘n CNN-prys vir sy joernalistieke werk bekroon en kort daarna het hy besluit om liewer fiksie te skryf. Hy verhuis egter na Johannesburg en raak by ‘n navorsingsprojek betrokke wat onder meer op die verhouding tussen die polisie en die gemeenskap in Sophiatown fokus. Die navorsingsprojek ondersoek die mislukkings van die regstelsel, marteling, Willie Burger kyk na niefiksie wat jou wel soos ‘n uitstekende roman meesleur korrupsie en allerlei onwettighede wat in en rondom polisiekantore afspeel.
Uit hierdie navorsing ontstaan The Street. The Street speel af op ‘n klein deeltjie van Ontdekkersweg in Sophiatown aan die Wes-Rand. Soos in enige boeiende roman, val die fokus op die wel en wee van individue, nie op breë sosiale teorieë nie. Drie “hoofkarakters” se verhale word vertel. Die verhale wissel mekaar af en vervleg op verrassende maniere. Sentraal is die verhaal van Raymond, die eienaar van ‘n pandjieswinkel in Ontdekkersweg. Hy probeer aanvanklik sy bes om die omgewing van sy winkel misdaadvry te hou. Hy gryp sommer vreesloos sy bofbalkolf om die dwelmhandelaars in sy omgewing te verjaag. Hy glo immers in wet en orde en probeer onverskrokke sy deel bydra om die samelewing ordelik te hou.
Maar geleidelik besef hy dat sy stryd ‘n alleenstryd is, dat daar geen hoop is om die omgewing van misdaad en van die dwelmhandelaars te bevry nie, aangesien die polisie kop in een mus met die misdadigers is. Hy sien hoedat die polisiemanne daagliks omkoopgeld van die dwelmhandelaars ontvang en besef dat hy alleen teen misdaad veg – dat hy nie op die ondersteuning van die polisie kan reken nie. Uiteindelik moet hy bes gee en begin staatmaak op die beskerming wat die dwelmhandelaars hom teen inbrake en bedreigings kan bied. Tweedens word die verhaal van ‘n gewone, middeljarige polisieman vertel.
Khaba wil eintlik die reg dien en het altyd geglo dat dit ‘n eerbare beroep is om ‘n geregsdienaar te wees. In Sophiatown word hierdie geloof van hom tot die uiterste beproef wanneer hy deur korrupte kollegas omring word. Derdens word die besonder droewe verhaal van ‘n polisiereservis, Wendy, vertel. Haar man was ‘n polisieman, maar hy is deur ‘n dwelmbaas vermoor. Haar seun is ‘n dwelmslaaf. Sy veg met alles tot haar beskikking teen onder meer Obi, die dwelmbaas van Ontdekkersweg, en Lerato, die polisieman wat saam met Obi werk en wat sorg dat daar geen geregtigheid in die omgewing bestaan nie.
Naby aan die slot skryf McNally: “If you’d asked me two years ago, I would have told you I was writing a story about a man failing to conquer the corrupt police. But the real story is about the power of adaptation and the capacity to survive.” ‘n Mens lees so dikwels van bose dwelmhandelaars en korrupte polisiemanne in misdaadfiksie dat dit al eintlik ‘n cliché geword het. Dit is die basis van die meeste misdaadreekse en flieks en ‘n mens word nie meer maklik daardeur geskok of tot nadenke gestem nie.
Boonop speel die meeste van hierdie romans en flieks in die agterbuurte van Amerikaanse stede af. Gevolglik is misdaad vir baie van ons weinig meer as ‘n bron vir vermaak. The Street is ontstellend omdat dit soos daardie fiksie lees – maar jou hare rys wanneer jy voortdurend daaraan herinner word dat hierdie dinge regtig gebeur, sommer hier, ‘n paar strate van jou eie voorstedelike lewe af. En dat dit nie ‘n verhaal is waarin die goeie ouens die slegte ouens aan die einde verslaan nie. Dit is ‘n verhaal van blote oorlewing, eerder as oorwinning oor die bose.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.