Willie Burger kyk na drie spanningsverhale wat onlangs die lig gesien het
Die jaar staan einde se kant toe en daar het die afgelope tyd sommer baie boeke verskyn. Dit is ’n goeie tyd om solank vakansieleesstof te begin versamel.Vir liefhebbers van spanningsverhale is daar goeie nuus. Rudie van Rensburg se jongste misdaadroman, Vloek, het pas verskyn. Vloek is Van Rensburg se agtste misdaadroman en soos al die voriges is die eenwoordtitel al ’n aanduiding van hoe sy boeke mens met ’n enkele uitklophou tref. In sy eerste Kassie Kasselman-roman, Slagyster (2013), het lesers met Carl Bester kennis gemaak. Bester was ’n speurder wat met ’n groot klomp geld, waarop die polisie tydens die ondersoek van ’n dwelmsaak beslag gelê het, landuit gevlug het. In Vloek kry Carl Bester die kans om terug te kom Suid-Afrika toe sonder om vervolging te vrees, mits hy bereid is om weer as ’n speurder mee te werk aan die oplos van ’n moeilike saak.
Carl se terugkeer is egter nie maklik nie. Die saak waarby hy betrokke raak, is ingewikkeld en baie gevaarlik. Hy werk boonop saam met ’n onervare span. Dan is daar nog (vroulike) versoekings wat oor sy pad kom, en Kassie Kasselman, die man wat sy oorspronklike misdaad blootgelê het, is ook in die omgewing. Maar dis nie al nie (soos hulle in daardie lang advertensies sê): ánder moeilikheid uit sy verlede haal hom ook in. Soos Van Rensburg se aanhangers nou al weet, kán hy ’n spannende verhaal vertel, vol verrassende wendings, teen ’n interessante agtergrond (hierdie keer onder meer in die DRK en Rwanda). (Queillerie)
Spanning is nie net te vind in die wêreld van internasionale spioenasie en geheime dienste in die tyd van die Koue Oorlog nie. Madelein Rust se Doodsengel is nader aan ons gewone lewens en die daaglikse nuus oor mishandelde vroue en kinders. Die verbeelding maak dit vir mens moontlik om verbode terreine te ondersoek, om na te dink oor hoe dit sou wees as mens byvoorbeeld die donkerste in jou binnekant toelaat om uit te kom. In ’n sekere sin is dit presies wat in Doodsengel ondersoek word. Die hoofkarakter, Magdalena, is as kind fisiek en psigologies deur haar stiefpa verniel. Later in haar lewe volg sy opleiding in gevegskuns sodat sy haar teen sulke misbruik kan beskerm. Die opleiding bied haar egter meer as die selfvertroue om net haarself te beskerm en veiliger te voel, dit word ook vir haar ’n aanvalswapen.
Sy begin om haar geslypte gevegskuns aan te wend om ’n pedofielnetwerk te beveg. Sy deins nie terug vir moord nie. Wanneer dit rondom ons lyk asof onreg en misdaad ongestraf voortgaan, kry die meeste van ons soms daardie gevoel, iewers diep binne ons, dat ons graag alles wat verkeerd is sommer self wil regslaan of -skiet. Veral as onskuldige kinders se lewens deur gewetenlose misdadigers vernietig word, wil mens aan daardie donker drang oorgee. Daarom kan mens met Magdalena se moordtog identifiseer. Doodsengel gaan egter verder as die meeste Hollywood-flieks wat oor wraak en vergelding gaan. Magdalena worstel om vrede in haarself te kry. Vergelding bring nie vrede nie. Trouens, deur haar vir hierdie dade oop te stel, vind sy geen verligting nie, maar sink net dieper in die donkerte in. Haat kweek meer haat en maak liefde al moeiliker. Hierdie roman bied ’n ontstellende beeld van die uitbuiting en die weerloosheid van kinders en vroue, veral as hulle boonop arm is. (Protea)
Nog ’n uitstekende spanningsroman is André Krüger se ’n Redelike hoeveelheid moeilikheid. Krüger het al gewys waartoe hy in staat is met sy bekroonde debuutroman, Die twee lewens van Dieter Ondracek en met Komplot – ’n roman wat destyds deur Kerneels Breytenbach beskryf is as “’n meevoerende, groots-opgesette roman uit die era van die koue oorlog. Afrikaanse spannings- en spioenasieverhale sal nooit weer dieselfde wees nie.” ’n Redelike hoeveelheid moeilikheid neem ’n historiese gebeurtenis, die kaping van ’n luukse Portugese passasierskip, die Santa Maria, in 1961 as die vertrekpunt. Rondom hierdie dramatiese gebeurtenis wat op die dekolonisering van Portugese gebiede in Afrika gerig is, bou Krüger ’n boeiende verhaal waarin geheime tussen gewone mense, tussen lande en tussen spioenasiedienste sentraal staan.
Die roman speel in Suid-Afrika, Ciprus, Portugal en Beiroet af … Die Amerikaanse CIA, die Israelse Mossad, die Britse SIS, en die Suid-Afrikaanse veiligheidspolisie is almal betrokke. Dit is ook ’n verhaal van liefde in die tyd van spioenasie, die Koue Oorlog, gesmokkelde kernreaktorplanne en die koloniale bevrydingstryd. Soos mens van Krüger se werk kan verwag, bied die roman nie net spanning en boeiende intrige vol verrassende wendings nie, daar is ook ’n bietjie meer om oor na te dink. (Wenkbrou)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.