Willie Burger kyk na Karel Schoeman se Skepelinge – ’n historiese fiksie
Hilary Mantel, die bekroonde Britse skrywer van historiese romans soos Wolf Hall en Bringing Up the Bodies, het onlangs oor die skryf van historiese fiksie opgemerk: “The historian will always wonder why you left certain things out, while the literary critic will wonder why you left them in.” Karel Schoeman se Skepelinge. Aanloop tot ’n roman, is ’n bemoeienis met presies hierdie probleem van historiese fiksie se verhouding met geskiedskrywing en fiksie.
In Schoeman se romans, veral die stemme-drieluik (Verliesfontein, Hierdie lewe en Die uur van die engel) en Verkenning, word telkens nagedink oor hoe ons die verlede kan ken en weergee. Dit is ’n moeisame proses wat telkens vergelyk word met stemme wat uit die duisternis aandring om gehoor te word; wat ’n mens slegs kan hoor as jy stil word. Dit is nie maklik om die stemme te hoor en neer te skryf nie, want hulle is soms onduidelik en verwarrend en die proses word vergelyk met ’n swaar deur wat met moeite oopgebeur moet word, teen die donkerte in, of met ’n reis na ’n “ander land” waarheen die pad onbekend is.
Benewens sy romans se bemoeienis met die verlede het Schoeman ook in meer as 30 historiese werke die geskiedenis van Europese vestiging in Suid-Afrika van 1652 tot in die 21ste eeu gedek. Skepelinge is nader aan laasgenoemde historiese werke as aan sy romans, en die subtitel, “aanloop tot ’n roman”, getuig daarvan. Skepelinge is vol aanhalings en bronverwysings oor die VOC-tydperk (1652–1795). Die verhaal word eintlik nog voor 1652 gehaal, by die breedvoerige beskrywing van omstandighede in Europa en die VOC se ontstaan en uitbreiding. Dit was hoofsaaklik desperaatheid, eerder as avontuurlus of dapperheid wat mense gemotiveer het om aan boord van die VOC se skepe te gaan. Verreweg die meeste mense wat as matrose en soldate op die skepe geklim het, was in armoede en hongersnood vasgevang of vlugtend voor skuldeisers of vervolging vir misdade.
Baie het ’n geskiedenis van drankmisbruik en geweld gehad. Die VOC was ’n hartelose werkgewer wat slegs op wins ingestel was, en die matrose en soldate is uiteindelik weinig beter as slawe behandel. In die tweede deel van Skepelinge word die omstandighede op see beskryf – en veral die verskillende soorte mense op die skepe (matrose, soldate, koopmans, predikante, vroue, kapteins) word breedvoerig uiteengesit. Schoeman gebruik dokumente soos skeepsjoernale, boeke oor skeepsbou, opgetekende herinnerings van reisigers, sowel as destydse romans, liedjies, gedigte en toneelstukke om iets van die ervarings van mense te rekonstrueer. Hy benut ook insigte van ons eietydse historiese navorsing en argeologiese vondse op skeepswrakke.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Isabella & Wintersrust
Uiteindelik word ook die aankoms in die Kaap en die vestiging op die vreemde kontinent, en veral die oorgang van koloniste met ’n herinnering van Europa na ’n eerste generasie wat hier gebore is, ondersoek. In Verliesfontein, die eerste roman uit die stemme-drieluik, merk die verteller in ’n stadium op dat die denkbeeldige dorpie Verliesfontein eintlik staan vir al die Karoodorpe wat tydens die Anglo-Boereoorlog in die Boere se hande geval het: “’n Handjievol onduidelike aantekeninge, koerantberigte, foto’s en feite kan ek onthou, en verder moet ek improviseer, in die sekerheid dat die gebeure van krygstyd nie beduidend van die een dorpie na die ander verskil het nie, Roggeveld, Hantam, Namakwaland of Boesmanland, Vanrhynsdorp of Victoria-Wes, Fouriesfontein, Fraserburg of Sutherland. Ek weet niks meer nie, of kan op die oomblik in elk geval niks meer as dit onthou nie, en uiteindelik is dit seker ook nie belangrik nie, ’n paar verkleurde koerantknipsels en twee of drie ou foto’s van ’n leë straat, bome, ’n markplein; Victoria-Wes, Williston of Fouriesfontein.”
Hiermee word iets van Schoeman se beskouing van historiese fiksie te kenne gegee: Die enkele verbeelde dorp, opgebou uit die beskikbare inligting oor verskeie dorpies wat behoue gebly het, word uiteindelik die voorbeeld van die hele verlede. Skepelinge lê iets van hierdie werkswyse bloot: die historiograaf beskik oor dagregisters, hofverslae, memoires, briewe en ander inligting wat dikwels toevallig behoue gebly het. Daaruit word probeer om ’n hele, vol wêreld te skep. Naamlyste van matrose wat aan skeurbuik gesterf het, die VOC-boekhoudingsyfers, ooggetuies se verslae in ’n ondersoek oor iemand wat met ’n mes gesteek is, bied nog nie ’n genoegsame ervaring van die ganse verlede nie.
Al hierdie historiese inligting word in fiksie verdig sodat dit ’n enkele skip, die ervaring van spesifieke individue beskryf. Sodoende kom die leser nader aan ’n ervaring van die daaglikse lewe van destyds. Skepelinge is ’n omvattende historiese studie oor ons voorouers, vir sommige dalk ’n ontluisterende leeservaring om agter te kom dat die meeste van ons voorouers rowwe mense was wat hul min aan samelewingsnorme of godsdiens gesteur het. Maar die boek is meer as ’n geskiedenis, dit is ook ’n nadenke oor hoe ons met die verlede omgaan, wat die rol van verbeelding daarin is, en wat ons daaruit kan leer.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.