Willie Burger kyk na SJ Naudé se nuwe boek Die derde spoel
SJ Naudé se debuutwerk, die kortverhaalbundel Alfabet van voëls, het die Afrikaanse literêre wêreld in 2011 laat regop sit. Die bundel was so anders as baie ander Afrikaanse kortverhaalbundels, so vars wat styl en temas betref.
Intussen is die bundel ook in Engels uitgegee en een van die verhale het in die prestigeryke Britse literêre tydskrif, Granta, verskyn – ’n besonderse prestasie, wat aandui dat Naudé se werk ook mense buite die Afrikaanse wêreld beïndruk het. Die derde spoel het pas in Afrikaans en Engels verskyn. Dit voldoen aan die hoë verwagtings wat die debuut geskep het. Talle van die temas uit die kortverhaalbundel word weer ontgin, waarvan die opvallendste waarskynlik ’n aansluiting by die belewenis van globalisering is. Die ekonomiese, politieke en kulturele veranderings wat die wêreld oor die afgelope paar dekades ’n veel kleiner plek gemaak het, met die ongebreidelde uitwisseling van geld, arbeid, politieke invloed en kulturele produkte, raak elkeen van ons.
Naudé se werk is ten nouste hiermee gemoeid. Ná ’n stadige begin, lees Die derde spoel byna soos ’n speurriller met die spanningslyn van ’n koueoorlog-spioenasieroman. Dit is die verhaal van Etienne, ’n Afrikaanse student uit Pretoria wat, kort voordat hy die graad wat sy ouers wou hê hy moet voltooi, in 1986 uit die land vlug om diensplig te ontduik. Hy beland in Londen en woon saam met ’n klomp jongmense in leë geboue. Hy begin filmkuns studeer. Hy leer talle jongmense van oor die wêreld ken – idealistiese kunstenaars, musikante en aktiviste wat in opstand teen die kapitalisme van Thatcher en die korporatisering van die wêreld is en wat ’n soort hippiebestaan met seks, dwelms en musiek voer.
LEES OOK: Kies ‘n boek: ‘n Droë wit seisoen
Etienne geniet die vryheid wat hy nie in die gemilitariseerde en paternalistiese Suid-Afrika van die 1980’s kon vind nie. Hy raak op ’n Duitse kunstenaar, Axel, verlief en die verhouding neem sy lewe op ’n hele paar kinkels. By die filmskool begin hy met ’n navorsingsprojek oor rolprente wat voor die Tweede Wêreldoorlog gemaak is. Onder vreemde omstandighede vind hy twee spoele van ’n rolprent wat op die Joods-Duitse filosoof Walter Benjamin se herinneringswerk oor die Berlyn van sy jeug gegrond is – ’n Berlyn wat tydens die maak van die rolprent in die 1930’s nie meer bestaan het nie.
Etienne soek oral na “die derde spoel” van die rolprent – ’n soektog wat hom uiteindelik tot in Oos-Berlyn lei en waar hy kort voor die val van die muur spanningsvolle situasies en verraad beleef. Hy maak vriende met Wes-Berlynse musikante en sluit as tromspeler by hul band aan. Hulle help hom soek na sowel die derde spoel, as na Axel, wat spoorloos verdwyn het. Terwyl die eerste deel van die roman in Londen afspeel en die tweede in Berlyn, speel die laaste derde van die roman “elders” af, onder meer in Suid-Afrika. Etienne keer na Suid-Afrika terug om sy sterwende moeder te besoek. Sy het reeds haar geheue begin verloor, wat by die roman se bemoeienis met die verlede aansluit.
Die filosoof Benjamin se werk het oor ’n onherwinbare Berlyn van sy jeug gegaan. Die rolprent was ’n poging om iets daarvan vas te vang, maar selfs dit is nou verlore. Ons kan die verlore tyd nooit herwin nie. Hoewel die speurrilleragtige spanning die leser op die spoor van die verlore filmspoel meesleur, is die roman uiteindelik ’n liefdesverhaal oor mense wat deur hul verledes (hetsy deur staatsmasjinerie of die gesin, deur seksuele en politieke onderdrukking) geskaad is. Elkeen dra swaar aan ’n verlede, wat hulle soms eerder sou wou vergeet of anders nie kan of wil onthou nie, en waarna hulle op soek gaan, wat hulle ook nodig het om te onthou. Tussen al hierdie teenstrydighede is begrip moeilik. Ook kuns, musiek, argitektuur en rolprente speel ’n belangrike rol in die roman. Seksuele aantrekking is dikwels oorrompelend en maak intimiteit moontlik, terwyl dit ook soms afstand skep.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Koning eenoog
Breyten Breytenbach gebruik die begrip “middelwêreld” om na mense te verwys wat nêrens tuis is nie. Die middelwêreld is nie “hier of daar” nie, bied geen vaste heenkome nie, is altyd in beweging en die bewoner van die middelwêreld is oral ontuis – is ’n “onburger”. Die bewoner van die middelwêreld het nie ’n tuiste waarheen terugverlang word nie, en ook nie ’n bestemming waarna uitgesien word nie. Naudé se roman ondersoek bestaan in die middelwêreld. Die prosa is opvallend vars. Die hele verhaal word vanuit die ervaring van Etienne aangebied en al kry die leser fyn besonderhede oor sy sintuiglike waarnemings van die stede, die beton, die staal, die lug, word geen toegang gebied tot Etienne se oorwegings, sy motiverings en volledige emosionele reaksies op alles wat hy ervaar nie. Dit skep ’n bevreemdende gevoel van tegelyk naby wees aan Etienne, en ver, en dit laat die leser ook met ’n ervaring van ontuisheid in ’n oorrompelende wêreld waarin aktivisme nie veel vermag nie en liefde broos is.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.