Willie Burger kyk na Paul Beatty se roman, The Sellout
Veral in ons land is aantygings van rassisme volop. As iemand van rassisme beskuldig word, is die antwoord gewoonlik dat mense oorsensitief is, of té polities korrek. Weens die lang geskiedenis van diskriminasie, uitbuiting en vernedering van sekere groepe, hetsy op grond van ras, klas, geloof of liggaamsbou, geslag, eetgewoontes, ouderdom of seksuele voorkeure, is baie mense inderdaad besonder sensitief vir grappies of woorde wat as kwetsend ervaar word. Ander mense het egter nog nooit eens van die kwetsende effek van hul taalgebruik, verwysings of ligsinnige grappies bewus geword nie.
Om oor enige van hierdie sensitiewe sake grappies te maak, veral oor ras, is baie riskant, want die kans dat die grap deur iemand as kwetsend, diskriminerend of vernederend ervaar gaan word, is besonder groot. Gevolglik is dit vir kunstenaars heel dikwels gevaarlik om hulle tot satire te wend. Satire is die gebruik van humor en oordrywing om met mense se foute te spot en om stiksienige vooroordele in die samelewing te ontmasker. Satire maak dikwels van ironie gebruik, en ironie word maklik misverstaan – veral deur humorlose mense. Maar nie slegs humorlose mense word maklik geaffronteer nie – soms is die lyn tussen raak satire en swak smaak baie dun.
Paul Beatty se roman, The Sellout, is een van die snaaksste satiriese romans oor ras wat ek nog gelees het. Soms is die roman hardoplag-snaaks. Maar baie kere is dit ook asem-intrek-en-bloos-snaaks, ’n snaaks met ’n skuldgevoel dat jy dit snaaks vind. Ander kere is dit kwaadmaak-snaaks: want jy wil nie regtig oor iets lag nie en dan kan jy dit nie help nie, jy lag steeds. Beatty se roman het die potensiaal om aan byna elkeen aanstoot te gee, swart en wit, deur die taalgebruik (die boek wemel van raspejoratiewe) en die voorvalle. Satire is egter nie net komedie en vermaak nie. The Sellout is ’n proteswerk wat deur middel van komedie vooroordele en rassisme, beskuldigings van rassisme, regstellende aksie en pogings tot sosiale verandering ondersoek.
Die hoofkarakter-verteller is ’n Afrika-Amerikaner uit die wilde woonbuurt, Dickens, in Los Angeles. Sy pa was ’n sosioloog wat hom as ’n soort “ras-eksperiment” grootgemaak het. Hierdie pa- en seun-verhouding staan sentraal in die roman. Hoewel die verteller sy pa kwalik neem oor die manier waarop hy grootgemaak is, volg hy uiteindelik grootliks in sy pa se voetspore. Die roman word as ’n soort “verhoor-roman” aangebied en begin met ’n “Proloog” waarin die hoofkarakter voor die hooggeregshof verskyn op aanklagte dat hy slawerny beoefen (in die Obama-era!) en rasseskeiding, met die gepaardgaande gehate wette oor afsonderlike geriewe weer in die VSA probeer instel. Die res van die roman werp dan geleidelik lig op hoe dit gebeur het dat hy op hierdie aanklagte voor die hof moet verskyn, voordat die slothoofstuk weer na die hofsaak terugkeer.
The Sellout het in 2016 die eerste boek deur ’n Amerikaanse skrywer geword wat die Man Booker-prys gewen het. Amerikaanse skrywers is voorheen van hierdie Britse prys uitgesluit. In dieselfde jaar het die roman ook die Amerikaanse National Book Critics Award ontvang. Die verteller se pa het ’n soort intellektuele besprekingsgroep vir Afrika-Amerikaners in Dickens op die been gebring (die “Dum Dum Donut Klub”) en een van die lede van die groep, Foy Cheshire, herskryf klassieke literêre werke ten einde hulle van alle rassisme te suiwer. Mark Twain se klassieke werk Die Avonture van Huckleberry Finn word deur Cheshire gesuiwer van raspejoratiewe en die nuwe titel is: The Pejorative-Free Adventures and Intellectual and Spiritual Journeys of African-American Jim and his Young Protégé, White Brother Huckleberry Finn as they go in Search of the Lost Black Family Unit.
Die ander sentrale karakter in die roman is Hominy Jenkins, ’n bejaarde man wat as kind klein rolle in sommige episodes van The Little Rascals vertolk het. The Little Rascals (ook genoem Our Gang) was ’n gewilde TV-reeks uit die 1930’s en 1940’s waaroor dikwels gespog is dat dit die eerste TV-reeks was waarin wit en swart kinders saam “as gelykes” opgetree het. Vir dekades lank – tot aan die einde van die 20ste eeu, was heruitsendings van die reeks te sien. Die reeks word vandag egter beskou as deurtrek van rassistiese tonele en soos wat sensitiwiteit daarvoor gegroei het, is al hoe meer tonele uit die episodes gesny. Jenkins voel diep benadeel daardeur, want soos wat die rassistiese tonele verminder, word ook sy eie roem en status as kinderakteur al kleiner. Iets van die sentrale dilemma van die roman word hierdeur duidelik.
Identiteit word onder meer deur ’n geskiedenis van verwerplike diskriminasie bepaal. As daardie geskiedenis vergeet word, ontstaan ’n identiteitskrisis. Dit is ’n vermaaklike boek wat jou byna soos ’n Trevor Noah-optrede meesleur en vermaak. Maar dit gee jou terselfdertyd koue rillings langs jou ruggraat af. Selde word die probleme van diskriminasie en pogings om dit om te keer op so ’n deurdringende en vermaaklike manier ondersoek. ’n Mens lag lekker, maar iets wrangs bly soos ’n nasmaak van die glimlag oor. Die roman fokus op die eietydse probleme in die Amerikaanse samelewing, maar is ook besonder relevant vir Suid-Afrikaanse lesers.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.