Willie Burger kyk na Rebecca Davis se boek Self-helpless – A Cynic’s Search for Sanity
Ons almal kry soms die gevoel dat daar groot fout met ons wêreld is. Ons is besig om die omgewing met plastiek en steenkoolrook te vernietig; renosters en kameelperde sterf uit; die lewe word ’n dolle gejaag na beter huise, karre, klere en beter werk om daarvoor te betaal; die hele wêreld se politiek skyn omgekeer te wees; wetteloosheid is oral sigbaar; gewone ordentlikheid, hoflikheid en bedagsaamheid verdwyn.
Soms word ons dan ook deur die bewustheid van ons eie aandeel aan hierdie klomp aaklige goed in die wêreld oorval, sukkel ons met angsaanvalle en depressie (maar plaas natuurlik steeds net die vrolike en goeie dele van ons lewens op Facebook en dan voel ons verbaas en afgunstig omdat ander mense se lewens op Facebook so gelukkig lyk terwyl ons mislik voel). Kortom, almal van ons wil gelukkige en betekenisvolle lewens lei. Die meeste van ons ervaar egter, ten minste somtyds, dat ons nie gelukkig of betekenisvol voel nie.
Die bekroonde joernalis Rebecca Davis se boek Self-helpless – A Cynic’s Search for Sanity is geskryf vir almal wat soms deur ervarings van sinneloosheid en ongeluk oorweldig word. Nie omdat die boek die geheime openbaar oor hoedat ’n mens ’n sinvolle en bevredigende lewe tot voordeel van die mensdom en die planeet kan lei nie, maar omdat dit op pittige manier kyk na die dinge wat mense aanvang in ’n poging om geluk en sin te vind. Davis skryf dat sy op ’n dag deur die ondraaglikheid van haar bestaan oorweldig is. Die eerste manier waarop die meeste mense ’n gevoel van sinledigheid en die besef dat hulle ongelukkig is, hanteer, is om nie daaraan te dink nie. Ignoreer al die slegte nuus. Leef in jou eie geslote wêreldjie waarin jy alle inligting wat jou kan ontstel, die daaglikse nuus, ignoreer en so min as moontlik aan jouself dink.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Die Dao van Daan van der Walt
As jy egter nie die werklikheid van die wêreld en jou sinnelose eie lewe kan of wil ontken nie, is alkohol een manier om die werklikheid draagliker te maak. Davis verduidelik presies hoedat alkohol die lewe draagliker en gelukkiger maak, hoedat sommer ’n gewone aand in ’n dolle avontuur kan verander: “Sip by sip, it smothers your agonising about the dwindling giraffe numbers with a sense of warm well-being about your place in the world”. Sy verduidelik dat sy eintlik ’n introvert is, maar hoedat alkohol haar die vrymoedigheid gee om met enigeen te praat: “Alcohol turned me into a social superhero.” Alkohol het haar in staat gestel om van die wêreld en haar eie probleme te vergeet: “Life is hard, and alcohol can make it more bearable, offering a brief escape from your endlessly disappointing self”.
Uiteindelik besef sy dat alkohol ’n verwoestende effek het. Sy besef dat sy groot dele van haar eie lewe, van daardie avonture waarin sy soos ’n superheld gevoel het, nie eens kan onthou nie en hoor stories van ander oor haar gedrag. En dan begin die lang, moeisame pad om die onhoudbare lewe sonder drank aan te pak. Haar projek is egter geen Eat, Pray, Love nie. Die werklikheid is veel ingewikkelder, maar sy ondersoek juis hierdie soort selfhelpoplossings, die modegiere en talle terapieë deur kwaksalwers en oënskynlik respektabele instellings. In die talle selfhelpboeke op winkelrakke word waarhede oor hoe ’n mens jou lewe kan verander, aangebied, hoedat jy gelukkig en voorspoedig en tevrede kan lewe deur sekere stappe te volg, deur op enkele dinge te fokus.
Davis se skreeusnaakse en tog ook baie wyse beskrywings van haar ervarings met allerlei pogings om vrede en geluk, te midde van ’n rasende wêreld te vind, is geen selfhelpgids nie. Sy spot juis met die hele selfhelpbedryf, maar al is dit nie ’n selfhelpgids nie, bied dit uiteindelik baie troos en hulp vir die leser. Aan die een kant is haar ligte aanslag oor swaar onderwerpe soos lewensin en verslawing vermaaklik sodat mens sommer beter voel net van die lees. Aan die ander kant bevat elke hoofstukkie ook heelwat wyshede en onthoubare ervarings waaruit die leser tog veel kan put. (Die lesse wat sy oor haarself en oor sosiale media geleer het in die hoofstuk waarin sy die psigologie van sosiale media – en onttrekkingsimptome – bespreek, is tegelyk besonder snaaks en insiggewend.)
In elk van die hoofstukke beskryf Davis ’n ander poging om sin te vind – ’n soeke na psigiese verruiming en selfbegrip deur sampioene, om saam met Moslems vir Ramadan te vas, om ’n sangoma se hulp in te roep ten einde van “vloeke” ontslae te raak, om te oefen, auras skoon te maak, stilte op te soek en sosiale media af te lê … Oor ’n jaar heen het Davis al hierdie dinge probeer en tot die gevolgtrekking gekom dat die meeste van die “goedvoelgiere” geldmaakfoefies is, dat die meeste “hulp” waardeloos is – maar sy erken dat dit soms vir sommige individue waardevol is en daarom nie sonder meer afgemaak kan word nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.