Willie Burger kyk na Breyten Breytenbach se digbundel Rooiborsduif. Gedigte oor die liefde
Breyten Breytenbach is ongetwyfeld een van die grootste Afrikaanse digters. Weinig ander digters het so ’n omvangryke oeuvre. Hy het in 1964 met Die ysterkoei moet sweet gedebuteer. Oor die volgende 55 jaar het meer as 20 digundels gevolg, tot op weg na kû wat verlede jaar, in die jaar van Breytenbach se 80ste verjaardag, verskyn het. Hy is telkens met verskeie pryse bekroon.
Terwyl sy poësie van die begin af gewild onder Afrikaanse lesers was (behalwe onder sommige literatore wat sy gedigte in die 1970’s te “volksvreemd” gevind het), het sy politieke betrokkenheid hom die argwaan van baie Afrikaanssprekendes op die hals gehaal. Aan die een kant was daar onder Afrikaners dikwels ’n bewondering vir Breytenbach, terwyl baie aan die ander kant hom vir sy kritiek teen apartheid en Afrikaner-nasionalisme verguis het. André Brink het by geleentheid opgemerk dat Breytenbach reeds voor sy tronkstraf, maar veral daartydens, ’n belangrike simbool van verset teen apartheid geword het en daarom verkry elke versreël wat hy skryf, selfs al is dit suiwer liriese verse, politieke implikasies. En Breytenbach se liefdespoësie is nie los te maak van politiek nie. Sy liefde vir ’n Viëtnamese vrou is immers deur die apartheidsregering verbied en sy huwelik met haar het in die 1960’s van hom ’n “misdadiger” gemaak sodat hy in ballingskap moes leef. Boonop het sy simpatie met Viëtnam in die 1960’s hom aan die “kommunistiese” kant van die Koue Oorlog geplaas.
Nogtans is Breytenbach se liefdesverse van die bekendste en oorrompelendste woorde in Afrikaans. Tydens my diensplig het ek dikwels saans van sy gedigte uit Lotus in die bungalow stadig voorgedra sodat die ouens die woorde in hul briewe aan hul meisies kon skryf. Selfs hierdie derdehandse Breyten-woorde (my onbetroubare geheue en hul swak diktee) het baie manne se weë na vroueharte glad gemaak. Daar is al tevore samestellings van Breytenbach se liefdesverse gemaak. Lady One (2000) het ’n versameling uitgesoekte liefdesgedigte bevat. Sedert 2000 het Breytenbach egter nog sommer baie (omvangryke) bundels gepubliseer en Rooiborsduif is ’n versameling van liefdesgedigte uit sy hele oeuvre, deur Charl-Pierre Naudé saamgestel. Die bundel is mooi uitgegee, in hardeband met ’n foto van ’n jong Breytenbach voorop en ’n jong Yolande, slapende op sy skouer, op die agterblad. Dit is ’n boek vir laat lê op die bedkassie, om sommer elke aand ’n paar gedigte te lees, en weer elke oggend met die eerste daglumier (“wat ’n mooi woord, lumier” – skryf Breytenbach immers in een van die gedigte).
Die titel van die bundel roep Breytenbach se bekendste liefdesgedig op, “soos van vlerke”:
Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif
want niemand sal ’n boodskap wat rooi is
skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug
en ek weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
en hy kleur my boodskap so rooi oor jou vel
Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos ’n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos ’n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie
Hoewel die liefdesverse meestal op die vrou gerig is, strek die liefde dikwels ook veel verder en word Breytenbach se gedigte – soos Charl-Pierre Naudé op die omslag aandui – ’n “openbare liefdesverklaring aan die mensdom wat geteken staan as vrou”. ’n Mens sien telkens bevestiging hiervan, byvoorbeeld in die eerste strofe van “testament van ’n rebel”:
Gee my ’n pen
sodat ek kan sing
dat die lewe nie
verniet is nie
As jy net een Afrikaanse digbundel in jou lewe gaan koop, moet dit hierdie een wees. Ja, natuurlik sal daar mense wees wat sommige van hulle gunstelinge mis, maar Rooiborsduif is ’n wonderlike bundel om weer en weer deur te blaai.
En gelukkig is een van my gunstelinge uit Papierblom daarin opgeneem.
die reis
die hart is ’n raaisel herinneringe
– sal jy ooit kan onthou
wat nie verbeel is nie?
die warm lokomotief-asem van honde,
die leë skoene onder die tafel
van ’n boerdery se kombuis
waar die geur van vars geroosterde sesam
spore van oorlewing laat,
en buite die bewe-wind in bome
wat blaar vir blaar gespel word
om ewigheid te lees
ek ontbeel jou die eerste keer
sonder die draad van ’n gedagte naak
soos ’n eerste en ’n oudste landskap,
en hoe jou lyf vou soos ’n sug
wanneer ek by jou ingaan op reis
na die onverteerbare ontdekkingsnood van
een-saamheid
jou oë op die kussing (die kus en die kuste)
glasig van vrees en van genot
is dié van stemlose voëls
in die skemer van sterwe,
al die blaaiende blare in die bome buite
om ’n wind van herinneringe te spel
ont-hou, laat gaan om saam te stel:
die liefde is ’n reis
en jy altyd dieper die hart van bestemming
Breyten Breytenbach. 2019. Rooiborsduif. Gedigte oor die liefde (deur Charl-Pierre Naudé saamgestel). Kaapstad: Human & Rousseau
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.