Hierdie week kyk Willie Burger na outobiografieë deur twee bekendes. Rian van Heerden en Hemelbesem se lewensverhale verskil egter radikaal
Die titel van Rian van Heerden se outobiografie, Sestien dinge wat ek nié moes sê nie (Tafelberg), is tiperend van hierdie omstrede radio-omroeper en TV-aanbieder. Hy is kortkort in die moeilikheid, en omstredenheid volg hom waar hy ook al gaan. Eintlik is die titel ’n bietjie misleidend, want hoewel Rian telkens dinge kwytgeraak het wat hom in die moeilikheid laat beland het, is dit ook in die meeste gevalle duidelik dat hy nie regtig spyt is oor wat hy gesê het nie. Eerder wil dit voorkom asof hy deurgaans die grense van wat gesê durf word, doelbewus oorskry.
Hy het reeds uit die staanspoor, in sy dae as omroeper en later stasiebestuurder by Tuks FM, die grense van dit waaroor gepraat durf word, uitgedaag. Vir ’n Afrikaanse gehoor het taboes dikwels met godsdiens en seks te doen. Rian skroom nie om oor enige van hierdie onderwerpe te praat op maniere wat sommige mense aanstoot gee nie. Hoewel hy homself dikwels in die moeilikheid ingepraat het, het hy ook spoedig ontdek dat sy gladde mond hom in staat stel om hom weer uit die moeilikheid te praat. (Hy kon homself natuurlik nie altyd uit die moeilikheid praat nie en is soms gevra om te bedank, afgedank en selfs by geleentheid goed gefoeter – soos een keer in Nelspruit by die Inniebos-kunstefees.)
Rian daag kleinburgerlike waardes uit, veral waar die gemeenskapsnorme vir hom na huigelary lyk. Die dinge wat hy “nié moes sê nie” is juis die dinge wat volgens die norme van fatsoenlikheid nie in die openbaar gesê durf word nie, maar wat mense wel dink of onder vriende kwytraak. Rian was dikwels dapper genoeg om hierdie huigelary bloot te lê deur openlik daaroor te praat. Gevolglik maak die boek ’n baie eerlike indruk – en veral waar Rian oor sy stryd om openlik te erken dat hy gay is, skryf – word dit duidelik dat die huigelary wat hy reeds as “Huigel met Hassim” op Tuks FM probeer ontmasker het, uiteindelik ook na sy eie lewe deurgesuur het.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Elders
Rian breek stereotipes af. Hy skryf ook eerlik oor sy eie foute, sy mislukte verhoudings en botsings met mense. Ook wanneer hy self die oorsaak van die botsings was, skram hy nie daarvan weg om sy foute te erken nie. Benewens die verhaal van een mens se lewe, is dit ook ’n verhaal wat heelwat insae bied in die vermaaklikheidsbedryf, die maak van TV-programme en die meedoënloosheid van die aanbied van ’n daaglikse radioprogram. Maar uiteindelik bly dit die verhaal van Rian, iemand sonder ’n wag voor sy mond wat floreer op die omstredenheid wat hom deurgaans volg. Rian is natuurlik ook geen onbekende by Vrouekeur-lesers nie, want hy het lank ook rubrieke vir Vrouekeur geskryf. Sy boek is in dieselfde styl geskryf – vol humor, soms deerniswekkend, dog meestal skerp satiries.
Terwyl Rian veral middelklas-huigelary in die oog het, is Hemelbesem (Simon Witbooi) se outobiografie, God praat Afrikaans (Lapa), die verhaal van iemand wat nie die voorregte van die middelklas kon ervaar nie. Witbooi het onder baie moeilike omstandighede grootgeword. Die gesin het dikwels verhuis en armoede en drankmisbruik het ’n ontwrigtende effek op hulle gehad. Soos Rian het Witbooi ook in die radiobedryf (Vallei FM) beland en hy is deesdae ook op TV as Pasella-aanbieder. HemelBesem is natuurlik veral as musikant bekend – as “kletsrymer” (die hardlywige woord vir ’n rapper) Taal staan sentraal in HemelBesem se boek.
Hy bou sy vertelling om uitdrukkings en woorde in die Afrikaans van sy gemeenskap. Die vertelling is opgebou uit herinnerings, staaltjies, nadenke oor gebeurtenisse, besprekings van sy tatoeëermerke en talle lang “gedigte” – die woorde van sy liedjies. Die taal wat hy gebruik, is vir hom ’n belangrike identiteitsmerker, die taal druk ’n ervaring van die lewe uit wat in geen ander taal verwoord kan word nie. HemelBesem pleit daarvoor dat swart en coloured kinders meer platforms moet kry om reggae, hip-hop, funk en jazz, die musiek wat hulle inspireer, in Afrikaans te kan beoefen. Afrikaans, spesifiek die Afrikaans waarin hy grootgeword het en waarin hy homself die beste kan uitdruk, is vir hom ’n belangrike identiteitsmerker: “Afrikaans is ’n groot deel van wie ek is. Dis die taal waarin ek my in oomblikke van woede kras uitgedruk het.
Dis die taal waarin ek goed gesê het terwyl ek baklei het, waaroor ek agterna spyt was. Dis die taal waarin ek dink en goed ontsyfer. Dis die taal waarin ek liefkosing uitgedruk en ontvang het.” HemelBesem is ten nouste by sosiale wantoestande, armoede, dwelm- en drankprobleme, misdaad en bendegeweld gemoeid. Hy probeer om ’n verskil in hierdie situasie te maak, om hoop te gee, en ’n deel daarvan is om ’n identiteit in Afrikaans te omarm.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.