Willie Burger kyk na Jacques Pauw se omstrede boek The President’s Keepers
Die boek wat in 2017 ongetwyfeld die meeste opspraak in Suid- Afrika gewek het, is Jacques Pauw se The President’s Keepers. Die opspraak kan aan minstens drie redes toegeskryf word. Eerstens is die boek uitstekend bemark. Ná ’n lang hoofartikel deur Pauw self in die Sunday Times, waarin die verbintenis tussen president Zuma en misdaadsindikate uitgebasuin is, is die eerste oplaag van die boek reeds op die Maandagoggend uitverkoop. Hoe Tafelberg-uitgewers daarin kon slaag om die dinamiet in hierdie boek tot die groot onthulling daarvan stil te hou, is ’n wonder.
Maar die geheimhouding was natuurlik noodsaaklik om te voorkom dat die publikasie nie deur allerlei hofsake voorkom en vertraag kon word nie Tweedens was die boek uiteraard so opspraakwekkend danksy die onthullings daarin en die manier waarop Zuma en sy trawante daarop reageer het – deur onmiddellik met hofsake te dreig en lomp ontkennings van die onthullings in die boek. Derdens is die opspraak en sukses van die boek ook te danke aan die manier waarop Pauw skryf.
Die president en sy volgelinge of sy “hanteerders” (dit is soms ontontwarbaar) het intussen besluit om Pauw aan te kla, maar die kanse dat iets daarvan gaan kom, is skraal. Pauw is ’n ervare joernalis wat al tevore in soortgelyke situasies was. Hy was aan die einde van die 1980’s as joernalis vir die Vrye Weekblad verantwoordelik vir die oopvlekking van die berugte Vlakplaas- eenheid. Soos nou is hy ook destyds gedreig en geteister, maar sonder aansiens des persoons het hy weer vreesloos die huidige regering se skandale tot op die been oopgevlek.
Ons raak al gewoond daaraan om byna daagliks oor die sogenaamde “Gupta leaks” ingelig te word en van nog en nog skandalige onthullings oor korrupsie van mense in magsposisies te verneem. ’n Mens raak om die waarheid te sê so gewoond daaraan dat ons eintlik afgestomp raak daarvoor. Pauw kry dit reg om ’n onthutsende beeld te gee van hoe korrupsie in die land eintlik funksioneer, deur slegs op enkele voorbeelde van president Zuma se “geheime” te fokus. Die boek gee ’n mens koue rillings met die onthullings van hoe diegene wat in die pad van korrupsie staan, beswadder, ondermyn en geboelie word.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Confluence
’n Mens kom ook agter hoe moeilik dit is om te onderskei wie nou regtig die besluite neem – al wat duidelik is, is dat die besluite nie in landsbelang geneem word nie. Die boek vertel die verhaal van hoe Zuma oor ’n lang tyd staatsinstellings magteloos gemaak het om hom en sy vriende te vervolg, deur geleidelik van almal in leiersposisies wat korrupsie teenstaan, ontslae te raak. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die Valke, die Vervolgingsgesag, noem maar op, is van hul beginselvaste hoofde ontneem en is deur jabroers vervang. Hierbenewens onthul die boek ook die president se noue betrokkenheid by georganiseerde misdaad, wapensmokkelaars en selfs die bendes van die Kaapse vlakte.
Hy sorg dat sekere misdade nie vervolg word nie terwyl ’n deel van die buit na hom toe kom. The President’s Keepers eindig nie op ’n vrolike noot nie. Pauw wys op die gevaar dat stemme gewoon gekoop word met geld wat uit korrupsie en misdaadbelange verkry word (op sowel die ANC-kongres as in die 2019-verkiesing). Op dié manier bly die korrupte leiers aan bewind, ongeag die openbare mening en talle hofbeslissings. Pauw onthul ook hoedat Zuma se voorkeurkandidaat om hom op te volg, Nkosazana Dlamini-Zuma, reeds ten nouste by die sigaretsmokkelaar Adriano Mazzotti betrokke is.
Pauw skryf meesleurend. Hy is nie slegs bekend daarvoor dat hy dit regkry om mense se vertroue te wen en dat hulle dan hul geheime met hom deel nie, hy het ook die vermoë om soos jou goeie vriend te klink wat jou in sy vertroue neem en met wie hy boeiend al sy kennis oor die angswekkende gebeurtenisse deel. The President’s Keepers was dalk die opspraakwekkendste, maar verskeie boeke op soortgelyke trant het in 2017 verskyn.
Chrispian Olver se boek, How to Steal a City, onthul ook korrupsie en boelietaktiek terwyl Adriaan Basson en Pieter du Toit se Enemy of the People ’n insiggewende analise van die agteruitgang van die land onder Zuma se regering is. Met al hierdie soort leesstof, is dit dalk ook tyd om die Britse literêre kritikus Terry Eagleton se jongste boek, Hope Without Optimism, nader te trek. Skerpsinnig en met sy kenmerkende humorsin onderskei Eagleton tussen hoop en optimisme. Vir hom is optimisme eintlik banaal, dit is ’n algemene, ongegronde, blindelingse vertroue dat dinge in die toekoms beter sal gaan. Hoop is vir hom stewiger in die werklikheid gegrond as ’n vae optimisme. Hy steun op die werk van onder meer Ernst Bloch as die “filosoof van hoop” en maak dit vir die leser moontlik om teen alle wanhoop in te kan hoop.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.