Willie Burger kyk na die huldigingsbundel PG du Plessis. Hy was ’n rukkie pagter hier
PG du Plessis het eens só oor skryfwerk en menslikheid geskryf: … daar is geen einde aan ons perversies en wreedhede en luste nie. Of aan ons klein en groot leed nie. Elkeen sou sy wêreld anders wou gehad het, en hom- of haarself. Skryf is dalk ook die kyk na die onnoemlike binne-in jouself – na dit waarvan jy goddank min genoeg ontvang het om dit nooit tot ’n daad te bring nie. Om die mensdom bietjie lief te hê, kom uit deernis, en deernis kom uit jammerte, en jammerte kom uit skrik – dat dit jy kon gewees het met wie dit gebeur het, dat dit jy kon gewees het wat so wás.
As daar een ding is wat mens bybly ná die lees van die huldigingsbundel PG du Plessis. Hy was ’n rukkie pagter hier, is dit ’n gevoel van medemenslikheid, van deernis met ander. In byna al die bydraes tot hierdie boek word melding gemaak van PG du Plessis se insig in mense en sy begrip vir menslike swakhede. Die klem val daarop dat hy as uitmuntende verteller deur middel van stories daarin kon slaag om lesers en kykers te laat skrik, te laat jammer kry, deernis te laat ervaar. Dalk ook ’n bietjie meer liefde vir die mensdom te kry. Du Plessis is een van die geliefdste Afrikaanse skrywers – Siener in die suburbs is sekerlik een van die gewildste en bekendste Afrikaanse dramas.
Koöperasiestories was ongetwyfeld een van die gewildste Afrikaanse TV-reekse uit die 1980’s (en het die woord “beswaard” uit onbruik gaan haal en as een van die beskrywendste woorde vir baie Afrikaanse mense gevestig). Die roman Fees van die ongenooides tel onder die topverkoper- “literêre romans” in Afrikaans terwyl die TV-reeks (eers in Engels en later oorgeklank in Afrikaans) hoë kykergetalle gehad het. Die huldigingsbundel vir hierdie geliefde, gewilde en akademies bekroonde skrywer, joernalis, akademikus, boer, delwer, beeldhouer (die lys kan aanhou en aanhou) is deur Heilna du Plooy saamgestel – iemand wat goed bevriend was met Du Plessis en die taak om hulde aan hom te bring kennelik met liefde aangepak het. Die omgee en bewondering vir Du Plessis blyk uit haar inleiding.
Die onderhoud wat sy met Du Plessis kort voor sy dood in 2017 gevoer het, bied flitse van sy kenmerkende skerpsinnigheid, en dit was ’n baie goeie besluit om ’n brief wat Du Plessis in 1999 aan Elize Botha geskryf het in dié huldigingsbundel in te sluit. Hierdie brief vat byna alles saam van Du Plessis se diepsinnige denke oor menswees en sy beskouings van die krag van stories, en hoe om te vertel. Mens wil dit oor en oor lees en byna elke paragraaf daarvan onderstreep omdat dit soveel lewenswysheid só raak verwoord: insigte in menswees sowel as in die vertelkuns. Nie al die akademiese bydraes tot die bundel is egter so inspirerend nie. Du Plessis was self ook akademikus (dosent aan Wits, skrywer van akademiese bydraes en redakteur van ’n literêre tydskrif) voordat hy ’n joernalis geword het en hom later slegs op sy skryfwerk toegespits het.
Hy het talle snedige aanmerkings oor die akademie en akademici gemaak. Ek vrees dat sommige van die bydraes tot hierdie bundel presies in die kraal van daardie soort akademiese werk val waarteen hy dit gehad het: vol van vakjargon en ingewikkelde teorieë om uiteindelik nie veel oor die literêre werk of die wêreld te sê nie, en in elk geval niks nuuts kwytraak wat nie sonder al daardie vaktaal gesê kon word nie. Waar Hein Viljoen egter Fees van die ongenooides bespreek, kom mens onder die indruk van aspekte van die roman wat nadenke verg en die aandag op Du Plessis as meesterskrywer vestig. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het met ’n reeks publikasies begin waarin Hertzogpryswenners gehuldig word. Verlede jaar het die eerste een oor Adam Small verskyn. Hierdie een is die tweede. In sy baie gewilde drama, ’n Seder val in Waterkloof, het Du Plessis gespot met die soort Afrikaners wat hulle met die Akademie verbind en wat op ander, “eenvoudige” Afrikaners neersien.
In talle van sy werke het hy met diegene gespot wat nie wil raaksien of erken dat daar ook arm, eenvoudige en platvloerse Afrikaners is nie. In ’n sekere sin is dit dus ironies dat die Akademie hom nou vereer. Maar dit bevestig ook Du Plessis se beskouing dat niks eenvoudig is nie. Die bundel bied ’n insiggewende oorsig oor Du Plessis se veelsydige werk wat in die spanning tussen “hoë kuns” en “populêre vermaak” staan. ’n Roerende beeld van hom as mens kom uit verskeie bydraes na vore (Hans du Plessis, Marida Swanepoel, Heilna du Plooy). Iets van die trefkrag van sy werk word in Karen de Wet se twee bydraes aangeroer terwyl sy vakmanskap ook ondersoek word. Die laaste woord van Du Plessis: “Die Liewenheer het nie na IK gekyk toe hy siele uitgedeel het nie (of leed, pyn, goedheid, liefde).” (Litera Publikasies)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.