Willie Burger kyk na Peet Venter se jongste misdaadfiksie en jeuglektuur-pryswenners
Die letterkundige Leon de Kock het op ’n keer opgemerk dat die misdaadfiksie in Suid-Afrika so gewild is omdat dit eintlik sosiaal betrokke is. Die land se mense loop immers onder misdaad deur en misdaadfiksie is ’n manier waarop hulle op die verskrikking reageer. Peet Venter se Brand is op baie maniere ook juis by die land se misdaadprobleme betrokke.
As mens die opsomming van die storie op die agterflap lees, klink dit byna asof dit uit die koerantberigte van Amabungane en uit boeke soos Jacques Pauw se The President’s Keepers saamgestel is: ’n Korrupte president speel in die hand van ’n buitelandse familie wat onmoontlik ryk is, nie as gevolg van hul onbaatsugtige werkywer nie. Sagte kolonisering noem mens dit. Nou loop die tentakels daarvan al só diep in die struktuur van mense in sleutelposte dat niemand meer seker is wie betrokke is en wie vertrou kan word nie.
Brand is die vyfde Thys Krige-boek deur Peet Venter. In die vorige boeke, Dieper as die bloed, Ou bloed, Waar boosheid broei en Plasenta, het lesers Thys Krige reeds as die harde speurder leer ken wat ook nie skroom om dood te maak nie, maar wat eintlik ’n sagte hart het en baie vir mense omgee. Hierdie keer raak hy by ’n stryd teen korrupsie betrokke. Hy kom agter dat allerlei bose metodes aangewend word om die land onregeerbaar te maak sodat die president ’n noodtoetstand kan afkondig en as diktator kan regeer. Slegs Krige kan die komplot keer. Maar intussen is Krige ook op ’n persoonlike vlak in ’n soort speurtog – daar is drie vroue in sy lewe vir wie hy op verskillende maniere lief is. Maar soos altyd kry mense naby aan Krige dikwels seer. Venter skryf meesleurende misdaadfiksie met verrassende wendings wat die leser enduit boei.
LEES OOK: Kies ’n boek- 3 Oktober 2014
As ek wonder wat om te lees uit al die stapels boeke wat elke jaar gepubliseer word, laat ek my dikwels deur kortlyste vir literêre pryse lei. Natuurlik is die aanbevelings deur vriende wat ’n mens se leessmaak ken en wie se oordeel ’n mens vertrou seker die vernaamste manier om nuwe skrywers en boeke te ontdek, maar om pryswenners dop te hou, is meestal ook lonend.
Die pryswennerboeke word dikwels prominent in boekwinkels uitgestal. Binne dae nadat die Nobelpryswenner aangekondig is, sien mens meestal stapels boeke deur die skrywer op tafels voor in die boekwinkels. Dieselfde geld in Suid-Afrikaanse boekwinkels vir Bookerpryswenners, Pulitzerpryswenners en wenners van die Womens Prize for Fiction. Met die Sanlamprys vir jeuglektuur word ’n groot bydrae gelewer tot die werwing van manuskripte, maar ook tot die bemarking van inheemse lektuur vir kinders tussen 12 en 18 jaar.
Daar word jaarliks ses pryse toegeken (drie goue en drie silwer pryse). Sanlam se pryse word in ses kategorieë toegeken: Engels, Afrikaans, Nguni-tale, Sothotale, Venda en Tsonga. Twee Afrikaanse wenners van 2017 kan gerus vir die jonger lesers aangeskaf word: Carin Krahtz se jeugroman, Blou is nie ’n kleur nie (Kaapstad: Tafelberg) is met ’n goue prys vereer terwyl Jan Vermeulen se roman, Soen (Kaapstad: Tafelberg) ’n silwer toekenning ontvang het.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.