Willie Burger kyk na John Miles se nuutste roman, Op ’n dag, ’n hond
Milan Kundera het eens opgemerk dat ’n roman aspekte van menslike bestaan moet ontdek wat slegs in romans ontdek kan word – en daarom durf ’n roman nooit filosofie, geskiedenis, sielkunde of sosiologie wees nie.
John Miles se romans voldoen aan hierdie streng vereiste. Sy werk is altyd so ’n bietjie stroom-op, anders as die meeste boeke wat ’n mens lees. Die hoofkarakter in sy jongste roman, Op ’n dag, ’n hond, merk op dat hy boeke waarin “groot gebare” gemaak word, wantrou. Hy staan agterdogtig teenoor romans wat gewone mense se ervarings aan die hand van groot historiese gebeurtenisse interpreteer; romans wat samehangende insigte en interpretasies met omvattende antwoorde bied.
Op ’n dag, ’n hond, is dan ook ’n roman wat geen eenvoudige beeld van die wêreld bied nie, en ook geen maklike antwoorde op die sentrale lewensvrae nie. Te maklik word mense se lewens (en romans!) volgens sosiale teorieë, sielkundige insigte, historiese beskouings of spesifieke filosofiese en lewensbeskoulike idees beoordeel. Die probleem van teorieë is dat hulle veralgemeen, dat die individuele en die spesifieke in die slag bly. Mense (en romankarakters) word dikwels deur teorieë gereduseer tot politieke of ekonomiese of sosiale rolspelers of tot sielkundige “gevalle”.
Die romankuns is vir Miles juis gerig op individue en die spesifiekheid en kompleksiteite van hulle lewens. Die hoofkarakter in Miles se roman, Kroniek uit die doofpot, is ’n skrywer wat soos volg antwoord as iemand eis dat sy werk ’n sterker politieke standpunt moet inneem: Mense word gebore en gaan dood. Die grootse gang van die geskiedenis, laat ek maar vir mense soos jy wat die stomme massa wil verswelg onder die een of ander verstikkende mite van ’n samelewing. Ek probeer nie ’n roman skryf waarin studente die groot en helder lyne van jou geskiedenis kan volg nie.
Ek skryf oor ’n armsalige mens wat versmoor word in weerwil dalk van die majestueuse afrol van die geskiedenis. Die lot van die “armsalige mens wat versmoor word in weerwil dalk van die majestueuse afrol van die geskiedenis,” staan nog altyd sentraal in Miles se romans: Flip Nel in Blaaskans, August in Voetstoots, Smerski in Die buiteveld en TJ Moleko in Kroniek. Telkens word hulle ervarings en temas soos skuld, verantwoordelikheid en geregtigheid teen ’n breër historiese agtergrond geplaas, maar nooit word hulle ervarings vereenvoudig en veralgemeenbaar nie. Op ’n dag, ’n hond se hoofkarakter is ’n afgetrede onderwyser (hy bly naamloos – ’n gewone, onopvallende mens). Hy en sy vrou word in hul aftreehuis by die see aangeval. In ’n worsteling maak hy een van die aanvallers dood, maar sy word vermoor. Hy bly in vrees leef dat die ander aanvaller sal terugkeer – veral ook omdat hy steeds die aanvallers se vuurwapen het en daarmee die hond van die aanvaller skiet.
Honde word belangrik: sy buurman by die see het ook ’n hond, en lank tevore het sy dogter ’n hond gehad. Ná die aanval aanvaar die onderwyser ’n tydelike pos by ’n skool in die stad. Dit is hier wat daar, op ’n dag, ’n hond in sy klaskamer opdaag. Soos die titel suggereer, staan hierdie gebeurtenis sentraal. Dit is ook letterlik sentraal in die roman, aangesien die roman begin met hoofstukke getitel “Aand”, en “Oggend” waarop die hoofstuk, “Hond” volg, terwyl die laaste deel van die roman “Vroeër of later” genoem word. Die tydsaanduidings van die eerste twee hoofstukke en die slotgedeelte, beklemtoon die belang van tyd: die lewe as verbygaan van tyd.
Alles gaan uiteindelik verby en ’n mens het slegs herinnerings oor. Die toekoms bly duister en in die hede gebeur dinge op onvoorspelbare wyse – soos wat hy deur sy lewe telkens onvoorsiene wendings en gebeurtenisse beleef. Miles is ’n meesterverteller wat die leser boei. Die lewensverhaal van die onderwyser ontknoop geleidelik deur terugflitse – sy herinnerings word vervleg met ’n reeks onvoorspelbare situasies waarin hy beland. Hierdie situasies is vreemd, verrassend, en dikwels skreeusnaaks. ’n Mens kan jou belewenisse slegs agterna onthou en dan stories daaruit maak ten einde sin te vind.
Sulke interpreterende stories kan dit by nabaat laat lyk asof daar ’n plan en sin in alles was, maar meestal neem ’n mens nie oorwoë en beplande besluite nie en beland onvoorsien in situasies. Die onderwyser hang ’n stoïsynse lewensbeskouing aan en lees dikwels uit Marcus Aurelius se Meditasies, maar ook hierdie beskouings word gerelativeer. Hy probeer op stoïsynse wyse elke situasie aanvaar, maar sy dade het ook implikasies, en soos in sy vorige romans kom skuld ter sprake (verraad van ’n vriendskap en van liefde). Boetedoening, sê hy egter, is nie vir hom nie.
Die slot is daarom interessant – dit is in die toekomstige tyd geskryf waarin hy homself sien verskoning vra vir die hond, aan wie hy eintlik geen verskoning skuld nie, anders as die ander honde in sy lewe en so staan die hond op ingewikkelde manier in vir (onder meer) sy skuld. Dis ’n meesleurende roman oor die morsigheid van die lewe. Eenvoudige slagspreuke en clichés van ’n “die diktatuur van populisme met tegnologie die handlanger” word afgewys. Alles verander voortdurend maar “met elke transformasie keer alles terug na steeds dieselfde”. Kosbare liefde kan “met ’n handomkeer ’n sepie” word. ’n Mens kan nie ander se lewens namens hulle vertel nie. Die onderwyser (soos romans) kan nie vir ander lessies leer nie, maar hoogstens lewensvrae op ander maniere belig.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.