Willie Burger kyk na ’n roman oor ’n rare kombinasie: oorlog en skilderkuns
Oorlog en terpentyn is, soos die titel aandui, ’n roman oor ’n rare kombinasie: oorlog en skilderkuns. Maar hierdie vanselfsprekende, vaal sin is eintlik ’n misleidende begin vir die resensie, want die enkele sin bevat reeds twee betwisbare stellings.
In die eerste plek sal sommige mense wonder of Oorlog en terpentyn as ’n roman beskryf kan word. In die tweede plek gaan die roman oor veel meer as slegs oorlog en skilderkuns: dit is ’n roman oor herinnering, oor familiebande, oor die verbygaan van ’n era, oor liefde, oor eerbaarheid, oor waardigheid, oor skuld. Hierbenewens is dit ’n roerende boek met oomblikke van betowerende skoonheid, en vol verrassings wat die leser enduit boei.
Stefan Hertmans is ’n gevestigde Belgiese skrywer uit Vlaandere. Hy het benewens ’n dosyn digbundels, ook kortverhaal- en essaybundels, asook vyf romans agter sy naam. Oorlog en terpentyn is egter sy eerste roman wat ook in Engels vertaal is en War and Turpentine het besonder positiewe resensies in sowel Brittanje as die VSA gekry. Die roman is ook reeds in verskeie ander tale vertaal. Daniel Hugo se Afrikaanse vertaling het vir my aanvanklik effens Nederlands bly klink, maar geleidelik het ek besef dat die argaïese gevoel wat die taal wek, ’n belangrike doel bereik.
Hertmans se oupa het kort voor sy dood in 1981 ’n paar boeke vir die skrywer gegee waarin hy sy lewensherinneringe neergeskryf het. Destyds het Hertmans hom nie veel daaraan gesteur nie en eers met die aanloop tot die honderdjarige herdenking van die Eerste Wêreldoorlog in 2014, het hy sy oupa se verhaal begin lees. Die grootste deel van die aantekeningboeke is met sy oupa se oorlogherinnerings gevul. Die verskrikking van die loopgraafoorlog in Vlaandere se moddervelde is al in baie gedigte en romans beskryf. Maar hierdie beskrywings deur Hertmans se oupa, Urbain Martien, soos deur die skrywer aangepas, is onthutsend helder en vars.
Die ontbering van die soldate is afgryslik – voortdurend nat, verkluim in die modder, honger, vasgekeer in die loopgrawe waarin hul eie ontlasting ophoop en rotte vergader, verswak deur verskeie siektes en boonop toegerus met onvoldoende wapentuig teen die moderne Duitse oorlogmasjien. Drie keer word Martien gewond en twee keer word hy ná ’n kort hersteltyd in Engeland teruggestuur na die plek wat Dante se beskrywings van die hel mak laat lyk. Martien ontvang uiteindelik elke moontlike medalje vir sy heldedade tydens die oorlog en vir die res van sy lewe het hy nooit opgehou om oor hierdie sentrale traumatiese gebeurtenis te praat nie.
Hy het soveel daaroor gepraat dat sy kinders en kleinkinders glad nie meer na sy oorlogstories wou luister nie (en dit is ook een van die redes waarom Hertmans eers meer as 20 jaar ná sy oupa se dood aan die handgeskrewe herinneringe aandag gegee het.) Die handgeskrewe verhaal gaan egter ook oor Martien se kinderjare. Hy is in 1891 gebore en het tydens die industrialisering van Vlaandere in Gent grootgeword. Sy ouers was brandarm. Sy pa was ’n hopeloos onderbetaalde kerkskilder wat skilderye teen kerkmure en -plafonne gerestoureer het. Sy moeder was van ’n hoër klas maar is deur haar ouers afgesweer toe sy met die arm kerkskilder getrou het. Reeds op 13 moes Martien in ’n ystersmeltery gaan werk en uiteindelik was aansluiting by die militêre magte vir hom ’n ontsnappingsroete uit die ellende.
Ná die oorlog ontmoet hy die vrou van sy drome, Maria Emelia. Maar dan sterf sy tydens die Groot Griep. Hy trou uiteindelik met haar ouer suster, Gabriella, met wie hy sy lewe lank getroud bly en teenoor wie hy altyd sorgsaam en bedagsaam optree, maar daar is geen passie in die verhouding. (Sy klim in haar reënjas in die bed om enige toenadering van sy kant af te weer!) Ten spyte van die verskrikking en trauma wat hy beleef het en al die veranderings op tegnologiese en kunsgebied wat die 20ste eeu gebring het, het Urbain Martien enduit die waardigheid en trots van ’n ouwêreldse Europa behou.
Wat hom ná die oorlog troos en aan die gang hou, is sy skilderkuns. Hy word ’n vernuftige kopie-skilder van groot meesterwerke uit die kunsgeskiedenis. Martien se storie bied genoegsame stof vir ’n roman, maar dit kon maklik ’n vervelige relaas geword het. Hertmans het egter ’n meesleurende leeservaring geskep wat baie aan WG Sebald se werk herinner. Hy bied nie bloot die historiese stof romanmatig aan nie, maar dink oor elke aspek van die weergee van die verlede na. Die roman is vol tydspronge tussen sy eie lewe en herinnerings en die aantekeninge van sy oupa. Dit is ’n nadenke oor en ’n ervaring van die onbekende bekende – ’n ervaring wat deur die Afrikaanse vertaling versterk word. As jy regtig ’n meesleurende, insiggewende, deernisvolle, verskriklike en boonop roerend mooi boek wil lees, lees Oorlog en terpentyn.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.