Willie Burger kyk na Jaco Kirsten se jongste roman Nadraai en ander verhale oor die Grensoorlog
Rocco, ’n suksesvolle argitek met ’n “byna volmaakte lewe”, besef naby aan die einde van Jaco Kirsten se jongste roman, Nadraai, dat “die oorlog waarmee hy en sy tydgenote besig was, deel is van ’n groter siklus wat nou eers voltooi word”.Die Grensoorlog wil maar nie gaan lê nie. Die eerste “grensverhale” het in die 1970’s verskyn, maar veral in die 1980’s het die sogenaamde “grensliteratuur” as ’n soort subgenre sterk op die voorgrond getree.
Die manier waarop die Grensoorlog en dienspligervarings destyds weergegee is, was meestal in die vorm van kortverhale – en die bundel deur Alexander Strachan, ’n Wêreld sonder grense, is seker een van die sterkste bundels uit dié tydperk. Ander skrywers soos Etienne van Heerden, Louis Kruger, Harry Kalmer, Gawie Kellerman en Koos Prinsloo het ook in hierdie tydperk oor diensplig en die Grensoorlog geskryf – dikwels oor skuldgevoelens wat individuele dienspligtiges weens hul deelname aan die oorlog ervaar. Veral die gevolge van geweld en die ontreddering as gevolg van die deelname aan ’n dikwels onverstaanbare en verwarrende oorlog- of dienspligsituasie word in talle van hierdie, meestal eerstehandse, ervarings beskryf. Hoewel daar ook destyds heelwat populêre, geromantiseerde verhale oor die die oorlog verskyn het waarin dapperheid, nasionalisme en diens aan die volk in die stryd teen kommunisme en dreigende barbarisme besing is, is die regverdigbaarheid van geweld en die politieke motivering vir die oorlog meestal uitgedaag.
Teen 1990 is diensplig eers verkort en toe afgeskaf. Die politieke wending het tot ’n nuwe bedeling gelei en dit het byna onbehoorlik gevoel om oor diensplig en die Grensoorlog te praat – veral ook in die lig van beskouings dat die Grensoorlog bloot die vorige apartheidsregering in stand gehou het. Nietemin het verskeie langer werke verskyn wat die Grensoorlog betrek het. Mark Behr se Die reuk van appels uit 1993 het veral die mentaliteit van ’n gemilitariseerde samelewing ondersoek. Die afgelope paar jaar wil dit lyk asof daar ’n oplewing in belangstelling in die Grensoorlog is. Hans Pienaar se Die generaal is ’n onlangse voorbeeld. Ook Marita van der Vyver ondersoek die gevolge van die oorlog in haar jongste roman, Grensgeval.
Verskeie niefiksietekste het in die afgelope dekade oor die oorlog verskyn. Leopold Scholtz het ’n geskiedenis van die Grensoorlog geskryf: Die SAW in die Grensoorlog 1966–1989 (2013). Anthony Feinstein se Kopwond. Vergete slagoffers van die bosoorlog (2011) het op die psigologiese gevolge van die blootstelling aan geweld gefokus. Koos Stadler se Recce is weer ’n lofsang aan die taaiheid en uithouvermoë van soldate, die genot van ’n lewe in die bos en die avontuur. Alexander Strachan se geskiedenis 1 Recce. Die nag behoort aan ons, bied eweneens ’n poging om met respek en eer terug te kyk na ’n oorlogervaring wat in ons tyd met agterdog bejeën word. In populêre fiksie maak karakters wat voorheen aan die oorlog deelgeneem het dikwels hul verskyning. Kyk net hoeveel speurders en lyfwagte en spioene in talle avontuurverhale ’n agtergrond in die Grensoorlog het.
Jaco Kirsten se jongste roman, Nadraai (wat aan Carel van der Merwe se Nasleep uit 2007 herhinner), sluit hierby aan, maar dié roman gaan bietjie dieper as die meeste populêre romans. Een ding is duidelik, die nadraai, die nasleep van die Grensoorlog en Angola is nog baie lewendig in die literatuur en dus in die psige van baie Suid-Afrikaners. Aan die een kant is daar dikwels in populêre speurrillers ’n soort romantiese voortlewing van die “grensvegter”, ’n held met sy duistere verlede waarvan die ervaring op die grens meestal ’n belangrike deel uitmaak. Klem val dan dikwels op die oudsoldaat se spesiale opleiding en vaardighede wat hom in staat stel om in die nuwe bedeling nuwe probleme op te los; die Grensoorlog as motivering vir die held se uitnemende vaardighede.
Aan die ander kant word die psigologiese skade van ’n onderdrukte verlede soms ondersoek. Dié skade wissel van posttraumatiese stres tot die skuldgevoel weens die verandering van die historiese en politieke narratief waarvolgens die eertydse helde wat teen kommunisme geveg het, in skurke verander is omdat hulle die vryheid van die meeste Suid-Afrikaners teengestaan het. Die “skurke” van ouds, die “terroriste” en “terroristemeelopers” is nou die helde van die vryheidstryd. (Kyk byvoorbeeld na die nuwe boek deur Hassan Ebrahim, From Marabastad to Mogadishu. The Journey of an ANC soldier.)
Ook die letsels van die macho-kultuur wat met die militarisering van die destydse gemeenskap gepaard gegaan het en die implikasies daarvan vir verhoudings en genderdiskriminasie word dikwels ondersoek. Juis omdat die Grensoorloggeskiedenis dikwels onderdruk is, of doelbewus vergeet is, wentel talle werke oor herinnerings aan halfvergete en onderdrukte ervarings tydens die Grensoorlog. Die pogings om daardie onderdrukte herinnerings weer bloot te lê ten einde psigies gesond te word, staan dikwels sentraal en is al byna ’n cliché van die genre. Al speel geheueverlies en die inhaal van die verlede ook in Kirsten se Nadraai ’n sentrale rol, is die roman veel meer as net ’n spanningsverhaal en word daar op boeiende manier met morele dilemmas geworstel, terwyl die vraag of mense werklik keuses het en of ons bloot deur gebeurtenisse meegesleur word, ontgin word. (Tafelberg)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.