Willie Burger kyk na die biografie van die digter Olga Kirsch
Olga Kirsch (1924–1997) was ’n merkwaardige digter wat ’n besonderse plek in die Afrikaanse literatuur beklee. Sy was ná Elizabeth Eybers die tweede vrou wat ’n digbundel in Afrikaans die lig laat sien het.
Kirsch se debuutbundel, Die soeklig, het in 1944 verskyn, agt jaar nadat Eybers in 1936 met Belydenis in die skemering gedebuteer het. Kirsch was toe maar 20 jaar oud. Wat egter verder vir Kirsch ’n besonderse plek in die Afrikaanse literatuur laat inneem, is dat sy Joods was. Verskeie Joodse skrywers en digters het belangrike bydraes tot die Suid-Afrikaanse letterkunde in Engels gemaak, maar Kirsch het verkies om in Afrikaans te dig. Sy het die gedigte vir haar eerste bundel geskryf terwyl sy nog ’n jong voorgraadse student aan Wits was, waar sy Afrikaans as hoofvak vir haar graad geneem het.
Kirsch het op Koppies in die Vrystaat grootgeword. Hoewel haar pa ’n Joodse immigrant uit Litaue was (wat weens anti-Semitisme, soos talle ander Jode, uit Rusland en Oos-Europa padgegee het) en haar ma ’n Engelssprekende Suid-Afrikaanse Jodin, het sy op dié dorpie haar laerskoolonderrig in Afrikaans ontvang. Sy het wel ’n Engelse hoërskool in Bloemfontein bygewoon, maar uiteindelik aan Wits haar honneursgraad in Afrikaans behaal (onder CM van den Heever – net soos Elizabeth Eybers). Kort ná die Tweede Wêreldoorlog het Jode in groot getalle na die destydse Palestina gestroom en ’n onafhanklikheidstryd teen Brittanje, wat destyds dié gebied bestuur het, gevoer. Kirsch het die ideologie van hierdie Sioniste-beweging ondersteun en in 1948 na Israel geëmigreer. Sy is daar met ’n wiskundige getroud en hulle het hulle in Rehovot gevestig, waar haar man aan die Weizmann-instituut gewerk het.
Kirsch het egter aangehou om in Afrikaans te skryf – al was sy as Engelsonderwyser werksaam en al het sy moderne Hebreeus geleer en dit met haar eie kinders gepraat. Sy het tot in die 1980’s steeds in Afrikaans gedigte geskryf en altesaam sewe Afrikaanse bundels het die lig gesien, al het sy Suid-Afrika sedert haar emigrasie na Israel slegs drie keer besoek. Sy het ook gedigte in Engels en Hebreeus geskryf. Soos mens kan verwag van digkuns deur ’n Joodse nasionalis wat uit ’n Engelssprekende huis kom en op die Vrystaatse platteland in ’n Afrikaanse laerskool beland, word haar werk deur die ingewikkelde verhoudings tussen kulture, godsdienste en tale gekenmerk. Haar tussenin-posisie lei tot besonderse waarnemings en ’n worsteling met uiteenlopende beskouings.
Die karige biografiese gegewens oor Kirsch is al genoeg om mens nuuskierig te maak oor die mens agter hierdie Afrikaanse verse. Daar bly iets raaiselagtigs aan hierdie vrou wat meer as 30 jaar nadat sy in Israel gaan woon het, aangehou het om gedigte in Afrikaans te skryf, nieteenstaande die feit dat sy met niemand om haar die taal gepraat het nie. Israel Egonne Roth se biografie van Olga Kirsch is dus ’n welkome publikasie. Olga Kirsch. ’n Lewe in gedigte bevat baie inligting wat mens se nuuskierigheid oor Kirsch tot ’n groot mate bevredig. Dit is egter nie ’n baie maklike boek om te lees nie. Die styl is taamlik omslagtig en die vertelwyse hou iets argaïes in. Dit voel nie soos ’n biografie uit die 21ste eeu nie, maar eerder soos ’n biografie wat in die eerste helfte van die 20ste eeu geskryf is. Talle beskrywings berus op oorlewerings waarvan sommige kennelik aangedik is, maar onkrities as waarheid aangebied word: “Wanneer die bediendes gaan inkopies doen of na hulle krale teruggaan, moet hulle ’n plat klip of ’n pot warm pap op hul koppe dra om hulle teen boomslange te beskerm.” (Hierdie sin kom regtig uit ’n publikasie wat in 2018 verskyn!)
Roth het egter baie moeite gedoen om presies na te vors waar Kirsch se voorouers vandaan kom en in die proses word ’n boeiende blik op die Joodse emigrasie uit Rusland en Oos-Europa as gevolg van groeiende anti-Semitisme in die 19de eeu en aan die begin van die 20ste eeu gegee. Die boek bied ook ’n blik op die ontstaan van die staat Israel en die vurige nasionalisme daaragter. Kirsch se jong dae aan Wits, waar sy onder meer met Ruth First bevriend was, bied interessante insigte in hierdie tyd van opkomende Afrikaner-nasionalisme. Dit is geen maklike taak om ’n biografie te skryf nie. Om uit onvolledige inligting ’n samehangende lewensverhaal te weef, kan baie uitdagings bied. Roth se weergawe van Kirsch se lewe bevat soms sielkundige bespiegelings en subjektiewe interpretasies wat geredelik as feite aangebied word.
Die taalgebruik is gelaai met waardeoordele wat sonder enige selfironie aangebied word – so asof alle lesers presies dieselfde waardes deel. Kirsch se gedigte word binne die konteks van hul ontstaan geplaas – haar persoonlike situasies (verlore liefde, moederskap, komplekse verhouding met haar ouers, haar kinders, met politieke situasies) word enersyds uit haar digkuns afgelees, terwyl hierdie situasies ook lig op talle van haar gedigte werp. Kirsch bly ’n boeiende figuur. Die biografie het my aangespoor om weer ’n slag na haar poësie te kyk en dít was ’n veel bevredigender ervaring as om deur die omslagtige biografie te worstel. (Naledi) Egonne Roth. 2018. Olga Kirsch. ’n Lewe in gedigte. Kaapstad
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.