Willie Burger kyk na ’n dosyn boeke wat op jou boekrak behoort te wees
Ons is nou byna 20 jaar in die 21ste eeu in. Hierdie week noem ek ’n dosyn boeke wat sedert die eeuwending verskyn het en wat na my mening op almal se boekrakke hoort.
1 Hoewel ek hulle nie in ’n spesifieke volgorde plaas nie, noem ek Marlene van Niekerk se roman Agaat eerste. Dié dikke roman staan al bloot wat omvang betref bo baie ander uit, maar dit bly een van die beste demonstrasies van waartoe die roman as kunsvorm in staat is, waartoe ’n skrywer se taalvaardigheid en vertelvermoë mens se denke kan lei en hoedat dit mens se ervaring kan verruim. Verskeie van die boeke wat ek hier noem, is met die verlede gemoeid. (Dit geld ook vir talle van die “top 100” boeke van die 21ste eeu wat onlangs in die Britse Guardian genoem is.)
2 Carel van der Merwe se Donker stroom (2017), ’n biografiese werk oor Eugène Marais, sleur die leser soos ’n roman mee, maak jou as ’t ware deel van ’n boeiende speurverhaal. Dit is een van die werke wat tradisionele skryfstylgrense tussen fiksie en niefiksie oorsteek.
3 Op verskeie maniere het Karel Schoeman met sy hele oeuvre tot ’n herskrywing van die geskiedenis bygedra. Sy historiese navorsing het tot die verskyning van een boek ná die ander in hierdie eeu gelei. Een van sy interessantste werke kort voor sy dood was Skepelinge. Dit is ’n boeiende weergawe van skeepvaart in die 17de eeu en gee ’n blik op die Europese aankomelinge in die land, maar Skepelinge verken ook die grense en verbande tussen historiese navorsing en fiksie en is ’n aanduiding van die manier waarop genregrense in ons eeu vervaag.
4 Een klassieke historiese roman wat bo baie ander werk uittroon, is Dan Sleigh se Eilande. Dit gee die 17de eeu lewe, maar registreer die nietigheid van die mens in die kosmos op ’n roerende manier.
5 Op ’n gans ander manier, sluit Valda Jansen se debuutwerk, Hy kom met die skoenlappers, ook by ’n bemoeienis met die verlede aan. Geen groot historiese gebeurtenisse word beskryf nie, geen groot heroïese dade gepleeg nie, maar ’n gewone mens probeer om haar eie verlede en omstandighede te oorleef en haar eie verlede te “verwerk”. Geen maklike verwerking is egter moontlik nie en haar broosheid word in liriese en suggestieryke prosa weergegee wat die broosheid eggo.
6 Buys (2014), deur Willem Anker, betrek ook ’n stuk geskiedenis wat dikwels uit die amptelike geskiedenis gesluit is. Die verhaal van Coenraad de Buys word ’n ondersoek van die koloniale verlede en die bloedige manier waarop dit in die land uitgespeel het, en steeds uitspeel. Die land is een grensgebied van gedwonge en gewelddadige vermenging en onderwerping en verset waarin eenvoudige morele oordele onmoontlik word.
7 In 2008 is die Hertzogprys aan Breyten Breytenbach toegeken vir Die windvanger. Dit is is seker een van Breytenbach se toeganklikste bundels en bevat al die elemente wat van hom een van die invloedrykste digters in Afrikaans gemaak het: verrassende beeldspraak, oorrompelende, liriese woordgebruik – nuwe woorde wat nuwe gedagtes oopmaak.
8 Twee skrywers wat hul stempel al in die 20ste eeu afgedruk het en wat sommer ’n hele paar pryswennerromans in die afgelope 20 jaar geskryf het, is Ingrid Winterbach en Etienne van Heerden. In albei se werk is daar soms herhalende elemente, maar Winterbach het mens tóg van voor af laat regop sit met Die benederyk. Vir my is dit steeds ’n hoogtepunt in haar oeuvre en tegelyk een van die snaaksste en droewigste romans.
9 Etienne van Heerden se romans is telkens omvattend en ryk aan ’n verskeidenheid temas. Terwyl sy soms barokagtige styl sommige mense hinder, is dit wanneer hy op sy beste is, betowerend. Ek dink dat ek Die wêreld van Charlie Oeng (2017) as een van sy indrukwekkendste prestasies sal uitlig.
10 SJ (Fanie) Naudé se kortverhaalbundel, Die alfabet van voëls, is die enigste kortverhaalbundel wat ek in hierdie lys insluit, maar dit is omdat hierdie bundel verhale iets in die Afrikaanse prosa inbring wat daar nog nie tevore was nie. Die verhale reik wyd en gee ’n fyn blik op die globaliserende wêreld.
11 Geen lys van “beste Afrikaanse boeke” durf Antjie Krog uitlaat nie. Haar prosa (in Engels) het haar wêreldwyd roem besorg en ’n Ander tongval, wat anders as Begging to be black en Country of my Skull ook in Afrikaans verskyn het, is werk wat mens op hoogs stimulerende manier laat nadink oor Afrikaans wees en oor (wit) Suid-Afrikanerwees. Op haar beste is sy egter as digter, en in Mede-wete word die taal self as denkinstrument verbysterend ontgin.
12 Plek ontbreek om nog baie ander boeke te noem, maar ek dink dat Dana Snyman te dikwels oor die hoof gesien word wanneer oor “ernstige” literatuur gepraat word. Daar is talle redes daarvoor, maar sy Op pad is ’n boek wat deur fyn waarneming van die klein dingetjies in ons samelewing meer doen om ’n mens bewus te maak van hoe ons land eintlik lyk as talle dokumentêre en joernalistieke verslae.