Willie Burger kyk na Zirk van den Berg se boek ’n Ander mens, wat in ’n fliekweergawe omskep is
Duisende liters ink is al op besprekings gemors waarin flieks met boeke vergelyk word. Baie besprekings is bloot ’n soort “snobreaksie” deur boekliefhebbers wat sommer in beginsel enige pogings om flieks van boeke te maak, verwerp.Die argumente téén rolprentweergawes van boeke is oorbekend. Die argumente ten gunste van rolprente bo geskrewe tekste word net so dikwels goed gemotiveer. Die maklikste pad uit die debat is om ooreen te stem dat elke medium bepaalde voor- en nadele bied en verskillende moontlikhede inhou, om elke weergawe op sy eie te beoordeel, eerder as om te vergelyk.
Een haakplek met hierdie oplossing is dat dit soms gebeur dat die een weergawe mens dalk daarvan kan afskrik om die ander weergawe te geniet. Die rolprent Ander mens wat onlangs uitgereik is, is ’n goeie voorbeeld van ’n rolprent wat potensiële lesers dalk daarvan sal weerhou om die boek te lees. Dit gebruik omtrent elke cliché van die rolprentbedryf terwyl die roman juis die clichés van misdaadfiksie vermy. In die eerste plek is die fliek maar vaagweg geskoei op enkele idees van die roman, eerder as dat dit ’n poging was om die romanverhaal weer te gee. Die romanverhaal is ingewikkeld en die karakters veel geloofwaardiger as die oppervlakkige “tipes” van die fliek. Een van die min ooreenstemmings is dat daar wel ’n humorsin in altwee weergawes teenwoordig is. Die belangrikste verskil ten opsigte van die komiese is egter dat die snaaksigheid in die rolprentweergawe uiteindelik in slapstick-komedie ontaard, terwyl die humor in die roman veel eerder met fyn taalgebruik te make het.
Benewens die ingewikkelde verhaallyn van die roman, wat glad nie in die fliek voorkom nie, lê die grootste verskil daarin dat die karakters in die roman nie vervlak tot ’n tipiese mafiabaas, ’n tipiese speurder en ’n tipiese vaal mannetjie wat sy eie krag ontdek nie. Die karakters is psigologies kompleks, hulle verkry almal ’n menslikheid, ’n identifiseerbaarheid wat die leser betrek en wat, ten spyte van die ligte toon, die humoristiese beskrywings, die snaaksighede, die leser oor mens se eie lewe laat nadink. Lokprente maak dikwels van enkele flitsmomente uit ’n fliek gebruik. Miskien is dit sinvol om enkele sinne uit ’n Ander mens aan te haal.
Dalk lok dit mense na die boek, terwyl dit terselfdertyd herinner waarom geskrewe woorde ’n mens soms so kan laat lekkerkry: Al was sy ambisies nog altyd te vaag om op te reageer, het die blote wete dat hulle daar is, onvervuld, nietemin ’n gevoel van mislukking in hom gevestig. Sy lewe haper, soos om met ’n halwe pak kaarte solitaire te speel. Frank is ’n entrepreneur wat nooit toelaat dat openbare opvattings oor ordentlikheid hom van ’n vinnige wins weerhou nie. Heelwat later word oor Frank opgemerk: Hy weier om aan te karring, om maar te sien kom klaar soos al die ander gevrekte en hopelose lamsakke, die kamtige ordentlike mense. Die enigste rede dat hulle ordentlik is, is dat hulle geen idee het van waartoe hulle werklik in staat is nie, hulle het nog nooit die mag daarvan gesmaak om met beslistheid in hulle eie belang op te tree nie.
Niks ontstig Daniël soos onredelike sekerheid nie, en alle sekerheid lyk vir hom onredelik – ’n domonnosele ontkenning van die wêreld se kompleksiteit, van die veelvuldige momente wat in elke oomblik bestaan, oraloor, en elkeen van hulle op die punt om tallose fenomenaal vrugbare nasate van hulle eie te laat ontkiem. Dis die een ding wat ek die afgelope paar weke geleer het – as jy min genoeg het om te verloor, verloor jy naderhand jou vrees ook. Dis een van die laaste goed om pad te gee. Ek is nie bang om dood te gaan nie… maar ek is lief vir die lewe. Dit is hoekom ek so graag wil hê jy moet joune terugkry. Jy moes versigtiger gewees het. Mens moet versigtig wees met ’n ander mens, Frank. En met jouself ook.
Almal wat al snags wakker gelê het met een gedagte wat telkens terugkeer sal hierdie beskrywing ken: Hy kan binne minute aan die slaap raak, miskien omdat hy so min plesier aan sy eie gedagtes het. Hierdie een is egter soos ’n piengpongbal vir ’n kat. Hy rol dit diékant toe en daaikant toe, laat dit vir die oomblik eenkant lê, of sit dit aan die rol en kyk hoe dit teen die ander harde feite bons. Natuurlik is ’n klompie lukraak aanhalings soos hierdie misleidend. Hulle is buite konteks en skep ’n wanindruk van die boek – net soos lokprente soms wanindrukke oor flieks skep.
Maar dalk gee dit iets weer van die ligtheid in die taalgebruik wat ’n diepte van menslikheid ontgin en wat ’n mens dwing om oor jou eie lewe na te dink, oor jou eie drome, jou eie ideale en jou magteloosheid (of dalk juis nie?) om te waag om ander moontlikhede te ontgin. In ’n Ander mens doen Van den Berg dit deur ’n verrassende, spannende misdaadverhaal te vertel. (Kwela)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.