Willie Burger kyk na digbundels van Marlene van Niekerk
Marlene van Niekerk verras telkens haar lesers. Die roman waarmee sy bekendheid verwerf het, Triomf, het baie lesers geskok en ontstel. Agaat, wat hierop gevolg het, het nie weer in ’n werkersklas-stadsmilieu afgespeel nie, maar op ’n plaas in die Overberg; sonder vloekwoorde en onder ’n bevoorregte sosiale klas (nie noodwendig minder ontstellend nie). Memorandum het weer ’n ander rigting ingeslaan, met die “memorandums” van ’n stadsverfraaier na aanleiding van sy hospitaalbesoek. Skilderye deur Adriaan van Zyl vorm ’n integrale deel van die roman en daarom lyk en voel die roman weer heeltemal anders as die voorgangers.
Van Niekerk se kortverhale in Die sneeuslaper verras almal wat weer ’n roman verwag, want die verhale slaan ’n nuwe rigting in wat omgewing en karakters betref. Die omvangryke digbundel Kaar word nou opgevolg deur hierdie twee dun bundels. Hulle is die soort boeke wat jy nie eintlik op ’n boekrak tussen al jou ander boeke wil sit nie. Hulle is te mooi om so versteek te word, ’n mens wil hulle eerder in ’n raam in jou sitkamer ophang. Die twee bundels bestaan uit gedigte wat telkens langs skilderye geplaas is.
In die stille agterkamer bevat 14 skilderye wat tussen 1909 en 1915 deur die Nederlandse skilder Jan Mankes (1889–1920) gemaak is. Mankes skilder dus tydens die opwindende vernuwings van die modernisme in die skilderkuns. Nietemin het hy in ’n realistiese styl bly skilder. Die 14 skilderye wat hier opgeneem is, sluit skilderye van voëls, stillewes, portrette en ’n landskap in. Gesant van die mispels bevat 12 skilderye deur Adriaen Coorte, ’n haas onbekende Nederlandse skilder wat van 1659 tot 1707 geleef het. Die klein stillewes is byna almal besonder eenvoudig: Vrugte op ’n gekraakte blad. Hy vang telkens deur sy besonderse tegniek iets van die somer, die rypheid, die son byna gloeiend binne die vrugte, vas.
LEES OOK: Kies ‘n boek: digbundels
Langs elke skildery is ’n gedig van Van Niekerk wat met die spesifieke skildery (en skilder) in gesprek tree. Daarna volg, op die volgende bladsy, ’n Nederlandse weergawe van dieselfde gedig. Dit is belangrik om te noem dat die bundels so mooi uitgegee is en self soos kunswerke lyk, en dat die mooi afdrukke van skilderye sentraal in die bundels staan, want sodoende word ’n mens reeds daarvan bewus dat die bundels oor kuns en kunstenaarskap kommentaar lewer. Boonop het die twee skilders, elkeen in sy eie tydvak, teen die hoofstroom ingegaan: Coorte se stillewes is nie so barokagtig soos sy tydgenote se werk nie en Mankes sluit nie aan by die modernistiese neigings van sy tyd nie.
Die twee bundels gaan oor kuns en is ’n nadenke oor kuns, oor die digkuns, en gaan teen die verwagtings van poësie in ons tyd in. Nadenke oor kuns en die plek van kuns in ’n land vol sosiale onreg en ongelykheid is ’n tema wat eintlik deur al Van Niekerk se werk loop. Al is daar telkens in haar werk sprake van, en selfs omstredenheid oor, sosiale en politieke betrokkenheid – reeds in Die vrou wat haar verkyker vergeet het en in Triomf en onlangs veral in die drama Die kortstondige raklewe van Anastasia W is daar ook telkens ’n klem op die rol van die estetiese. Wat kan kuns, wat kan die digkuns eintlik doen en wat is dit werd om in ’n land vol korrupsie en geweld en haat “mooi dinge” te probeer maak. ’n Bemoeienis met die spanning tussen die estetiese aan die een kant en die eise van politieke en sosiale betrokkenheid aan die ander kant, was ook duidelik te sien in Die sneeuslaper en in die digbundel Kaar.
Die vraag is telkens of ’n mens jou durf besig hou met die maak van kunswerke as jy enigsins ’n gewete het. Of soos Antjie Krog ons in ’n Ander tongval na aanleiding van Margaret Atwood herinner: die kunstenaar word gedwing om te kies tussen deelname aan “die paneelbespreking oor Sosiale Relevansie” en “die hekel van doilies vir die leunstoele in die Paleis van die Kuns”. In een van die treffendste gedigte in Gesant van die mispels vra die digter vir Coorte hoe hy in oorlogstyd kon voortgaan om stillewes van vrugte te skilder, “Of as medeskilders vanuit hul hoogte kloek jy’s laf en onbetrokke, die gesant van mispels op ’n plint?” Die antwoord wat die gedig daarop gee is dat alle kunstenaars werk in tye waarin “miljoene krepeer” en dat “’n skuldgevoel in dié verband niks meebring”. Coorte probeer bloot die waarheid van somerhitte in appelkose vasvang. Hou dié twee bundels op ’n tafel waar jy weer en weer daarna kan kyk omdat hulle so mooi is, maar wees gewaarsku dat hulle ook van die “verlange na ontroosbaarheid” deurtrek is.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.