Willie Burger kyk na Madam & Eve-boeke wat so Suid-Afrikaans soos pap en wors is, asook na ’n liefdesroman én ’n aksiebelaaide lekkerleesverhaal
Dit is moeilik om te glo dat “Madam” Gwen Anderson en Eve Sisulu ons al 23 jaar lank vermaak. Die nuutste versameling van hierdie gewilde strokie in boekvorm is pas deur Jacana uitgegee. Madam & Eve. Take us to your Leader is die 25ste boek oor hierdie gewilde karakters wie se manewales ons vir onsself laat lag kry. Die meeste lesers ken die Madam & Eve-strokies wat gereeld in koerante soos die Mail & Guardian, The Star, Die Volksblad, Cape Times en Pretoria News verskyn. In hierdie versameling van 136 bladsye word sommer baie van die pret byeengebring. Baie min lesers sal waarskynlik hierdie boek optel en van voor na agter deurlees. Willie Burger kyk na Madam & Eve-boeke wat so Suid- Afrikaans soos pap en wors is, asook na ’n liefdesroman én ’n aksiebelaaide lekkerleesverhaal Die jongste Madam & Eve-boek het so paar dae in ons huis rondgelê en kort-kort het een van die gesinslede dit sommer willekeurig op ’n bladsy oopgemaak, hardop begin lag en gou vir al die ander in die huis na ’n spesifieke strokie laat kyk. Soos die titel en die buiteblad aandui, is president Jacob Zuma die teiken van ’n baie groot deel van die satiriese strokies in hierdie uitgawe (soos wat Thabo Mbeki ook al tevore was). Op die buiteblad maak twee ruimtemannetjies hul verskyning uit ’n vlieënde piering wat voor die Uniegebou geland het. Op die agtergrond is honderde betogers met “hutsmerk-bordjies” wat die einde van Zuma, Hlaudi en universiteitsgeld eis, of dat Zuma die Nkandla-geld moet terugbetaal. Wanneer die ruimtemannetjies die bekende hoofkarakters, Madam, Eve, die ouma en die dogtertjie vra om na hul leier geneem te word, is die skaamte duidelik op hul te sien.
Mense is te skaam om ruimtewesens na “ons leier” te neem! Na aanleiding van hierdie buiteblad kan jy verwag dat daar genadeloos met Zuma, die Guptas, die SAL-dilemma en SABC-probleme gespot sal word. Uiteindelik word ’n boek soos hierdie egter ook ’n soort “geskiedskrywing”, en later jare sal ’n mens deur die strokies op ’n prettige manier herinner word aan al die verleenthede wat Suid-Afrikaners in 2015/2016 weens ons president moes verduur. Soos altyd is daar egter ook strokies wat jou verleë maak oor so baie gewone mense wat jy ken se houdings en vooroordele (of jou eie!). ’n Mens kan byna nie glo dat die skeppers van Madam en Eve, Stephen Francis en Rico Schacherl, nie in Suid-Afrika gebore is nie. Die teksskrywer, Francis, was oorspronklik ’n Amerikaner wat hom in 1988, op 49-jarige ouderdom, in Suid-Afrika kom vestig het, terwyl Schacherl, wat vir die tekenwerk verantwoordelik is, in Oostenryk gebore is. Nietemin is hul werk so Suid-Afrikaans soos mielieverkopers langs die straat.
Geen boeke verkoop so goed soos suikersoet-liefdesromans nie. Dina Botha is een van die heel gewildste skrywers van romanses in Afrikaans. Sedert 2013 het sy vir 146 uit 183 weke ’n boek onder die tien topverkopers in Suid-Afrika gehad! Suikersoetsonde word in LAPA se SuperRomanza-reeks uitgegee. Dit is die verhaal van Zelda wat 20 jaar lank alles gedoen het om haar man en seun gelukkig te maak. Dan betrap sy haar man egter in die bed met ’n ander vrou. Haar hele lewe verander as gevolg hiervan. Veral wanneer sy ’n prokureur gaan spreek en geleidelik haar eiewaarde en haar sensualiteit ontdek.
Nog ’n aksiebelaaide boek waarin dinge so vinnig gebeur dat ’n mens nie gou genoeg kan lees nie, is Duane Aslett se Goudduiwel. Soos Skoppensboer, Aslett se debuutroman, is hierdie weer ’n Rex Reynecke-roman. Reynecke werk vir die Valke en raak langs ’n ompad by ’n soektog na die Krugermiljoene betrokke. Vinnige karre, afgeleë stofpaaie, gewetenlose skurke wat deur die “goudduiwel” – die mens se hebsug – gedryf word en natuurlik ’n mooi meisie op wie Rex verlief raak, sorg vir al die drama. Wat my egter meer met Rex Reynecke laat identifiseer as die meeste ander lesers dalk, is die feit dat Reynecke in die roman sy eerste Visrivierkanomarathon aandurf! Byna met ongeloof en met groeiende opwinding het ek gelees hoedat Reynecke in ’n Assagai-kajak, dieselfde soort kajak waarmee ek jare gelede geleer roei het, oor die Cradock-keerwal roei. Iemand wat die opwinding van deur witwater vaar só goed kan beskryf, mág maar skryf!
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.