Willie Burger kyk na Jonathan Jansen se jongste boek – ’n soort biografie oor sy ma
Lied vir Sarah – lesse van my ma, Jonathan Jansen se jongste boek, handel oor sy ma. Daarmee sluit dit in ’n sekere sin aan by werk soos die Iers-Amerikaanse skrywer Frank McCourt se bekroonde Angela’s Ashes. Dit gaan egter nie slegs oor ’n universele moeder se rol in ’n swaarkryomgewing nie, maar spesifiek binne die Suid-Afrikaanse konteks is Jansen se uitgesproke doel om teen die “geykte beeld van die Kaapse Vlakte-ma” te reageer.
Met laasgenoemde doel voor oë, staan Lied vir Sarah ook binne die tradisie van Jakes Gerwel se studie oor die stereotipering van “Kleurlinge” in Afrikaanse romans in Literatuur en Apartheid (1983). Jansen reageer teen die media-uitbeeldings van die Kaapse Vlakte-ma as “luidrugtig en vulgêr, permanent geklee in ’n geruite oorjas waar sy met krullers in haar hare by die huis se venster uithang (…), ’n vuilbek wat dikwels dronk was, ’n nar, met ’n oordrewe seksualiteit, sonder voortande”. Hierdie stereotipe pas nie by sy ma nie, en ook nie by baie ander ma’s nie.
Jonathan Jansen benodig geen bekendstelling nie. Tot onlangs was dié uitgesproke akademikus die rektor van die Universiteit van die Vrystaat. Tans is hy verbonde aan die Stanford-universiteit. Hy het ’n voortdurende teenwoordigheid op sosiale media, skryf gereeld meningsartikels in koerante en hy is ’n gewilde spreker. Onder sy talle boeke tel Knowledge in the Blood en How to Fix South African Schools. Lied vir Sarah is nie ’n dik boek nie (140 bladsye) en bestaan uit 26 kort hoofstukkies. Elke hoofstuk is gegrond op eie herinneringe of ’n bietjie navorsing oor sy ma en aan die einde van elke hoofstuk volg ’n kort reaksie of uitbreiding deur sy suster, Naomi.
Jansen skryf meesleurend en die kort hoofstukke sorg vir ’n vaart en afwisseling wat die leser enduit boei. Die skrywer se ma, Sarah, is ’n heldin wat ’n ode verdien. Sy was ’n rotsvaste ma wat ’n groot gesin met haar verpleegstersalaris bymekaar gehou het. Jansen verwys na die “Sarah-iaanse wet” waarvolgens hulle grootgemaak is. Sarah was ’n besonder streng vrou wat die reëls neergelê het en nie geskroom het om oortreders met ’n boomtak reg te sien nie. Sarah se onwrikbare standvastigheid is op haar godsdiens gegrond. Hoewel sy eintlik Afrikaans grootgeword het, op Montagu, en daar saam met haar ouers aan die NG Sendingkerk behoort het, sluit sy ná haar verpleegstersopleiding, toe sy in Kaapstad begin werk, by ’n evangeliese kerk, The Brethren, aan. The Brethren bied vir Sarah baie sterk oortuigings oor hoe om te leef. Gemeentelede van The Brethren word nie enige alkohol, rook, dans, buitehuwelikse seks of ander “sondige genietinge” toegelaat nie.
Sarah ontmoet ook haar man, Abraham, in hierdie kerk (hy doen in ’n stadium sendingwerk vir die kerk) en saam maak hulle die vyf kinders (Jansen is die oudste, gevolg deur ’n broer, dan Naomi en dan nog twee broers) ook volgens die streng beskouings van The Brethren groot. Sy leer haar kinders deur voorbeeld en woorde (en ’n boomtak!), om trots, pligsgetrou en “ordentlik” te wees. Sarah se ouers het aanvanklik in ’n ruim huis in Montagu gewoon, voordat hulle as gevolg van die Groepsgebiedewet na ’n tweeslaapkamerhuis in die lokasie gedwing is: “Vir ’n trotse middelklasgesin was dit nie net die verlies aan besittings wat die Groepsgebiedewet op hulle afgedwing het nie; dit was hul eer wat vertrap is.”
Ten spyte hiervan het Sarah nooit toegelaat dat vernedering of armoede haar of haar gesin onderkry nie. Benewens die feit dat dit ’n ode aan sy moeder is – en dat “lesse van sy ma” geleer kan word (Jansen is immers ’n opvoedkundige), bied die boek ook ’n interessante perspektief op die middelklas van die Kaapse Vlakte. Enige opwaartse sosiale mobiliteit hou volgens Jansen ’n fisieke migrasie sowel as ’n taalverskuiwing in. Jansen beskryf Retreat, waar hy grootgeword het, as ingedruk tussen Square Hill en Lavender Hill. Opwaartse sosiale mobiliteit het ’n migrasie na Square Hill met sy ruimer huise ingehou en daar praat mense Engels met hul kinders. Afwaartse sosiale mobiliteit was na die woonstelle in Lavender Hill, waar bendebedrywighede en armoede oorheers en Afrikaans gepraat word. Terwyl baie bevoorregte mense uit die middelklas kla oor hul opvoeding waarin streng godsdiensreëls as onderdrukkend ervaar is en tot rebellie gelei het, het Jansen baie waardering vir sy ma se streng godsdiensgegronde dissipline, omdat dit erken word as ’n behoudende faktor in ’n gemeenskap waarvan die weefsel deur apartheid vernietig is en in ’n omgewing waarin armoede, geweld, dwelms en drankprobleme verwoestende sosiale gevolge het. Dis ’n roerende boek vir enigeen wat sy/haar ma onthou, maar dit is ook ’n belangrike boek om stereotipering in ons gemeenskap teen te werk.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.