Leer ons ooit iets uit die fiksie wat ons lees? Maak lees ons beter mense? Willie Burger probeer by die Vlaamse filosoof Leen Verheyen uitvind
In ’n dun boekie van skaars 60 bladsye, Wat de Lezer Leert, bespreek die Vlaamse filosoof Leen Verheyen bogenoemde vrae. Baie mense het immers die idee dat dit vir ons goed is om te lees. Ons moedig kinders aan om te lees en op skool word literêre tekste voorgeskryf. Die vraag is egter wat ons eintlik wil hê kinders uit hierdie boeke moet leer, en hoe verwag ons om self te baat uit die boeke wat ons lees?
Verheyen wys daarop dat verskeie regters in die VSA, België en ander lande al by geleentheid skuldiges tot die lees van sekere boeke gevonnis het. Die aanname is dus dat die lesers tot ander insigte sal kom en in die toekoms hul gedrag sal verbeter. Volgens Verheyen is daar eintlik twee verwagtings agter hierdie aanname. Die eerste is dat ’n leser sekere kennis uit die lees van fiksie bekom en dat hierdie kennis dan tot gedragsverandering sal lei. Twee vrae kan hieroor gevra word: Kry mens werklik kennis uit fiksie? Kan sulke kennis regtig tot gedragsverandering lei?
Om dié vrae te beantwoord, lei tot ’n kleitrappery. Fiksie is immers uitgedinkte verhale. Die gebeurtenisse is verbeelde handelinge deur fiktiewe mense in ’n uitgedinkte wêreld. Hoe kan mens nou iets uit leuens leer? Selfs as ons historiese romans lees, soos Dan Sleigh se 1795, behoort ons die feite eers aan historiese bronne te meet. Is dit regtig wat gebeur het? As mens iets soos Dis ek, Anna lees, bevat dit ook nie noodwendig wetenskaplike kennis oor kindermolestering nie, maar bied ’n enkele persoon se ervaring uit een bepaalde oogpunt. Durf mens daaruit leer dat alle gemolesteerde mense daarby sal baat om molesteerders te skiet? Watter kennis bied ’n Ingrid Winterbach-roman?
Verheyen verduidelik dat die kennis wat fiksiewerke oplewer, van “feitelike” of “wetenskaplike” kennis verskil – al kán fiksiewerke ook sulke kennis bevat. Die literêre kunswerk bring ’n eie wêreld tot stand, wat nie in die eerste plek na ons gewone wêreld verwys nie. Dit is ’n wêreld wat as ’t ware uit die samewerking tussen die gegewens in die teks en die leser se verbeelding opgetower word. Hierdie wêreld is dus nooit presies dieselfde vir twee lesers nie of selfs dieselfde vir ’n leser wat die boek herlees nie. Ons interpretasies van fiksiewerke verskil, juis omdat die tekste vir verskeie moontlikhede ruimte laat. Die moontlikhede word uiteenlopend gevul na gelang van lesers se eie verbeeldingskrag, ervaring en kennis.
Verheyen onderskei tussen die drang om te weet en die behoefte aan betekenis. Die drang om te weet, lei ons om voortdurend nuwe inligting te bekom, om die waarheid te soek, om feite oor ons heelal te versamel, om wetenskaplike teorieë deur waarneming en eksperimentering te vorm en te toets. Fiksie bied nie hierdie soort inligting nie. Die behoefte aan betekenis is nie dieselfde as die drang om te weet nie. Betekenis is nie iets wat soos swaartekrag of die kookpunt van water ontdek kan word nie. Betekenis is iets wat ons toeken deur na te dink. Die denkproses, die drang om betekenis te gee, word nooit afgehandel nie. Elke antwoord is slegs voorlopig en telkens word verbande opnuut gelê en die betekenis anders bedink.
Fiksie bied nie feite wat ons soeke na waarheid bevredig nie, maar bied maniere om na te dink oor die soort vrae waarop ons nie konkrete antwoorde kan vind nie. Wat is ’n goeie lewe? Hoe lyk ’n regverdige samelewing? Die antwoorde op hierdie vrae word nooit finaal afgesluit soos die vraag na die kookpunt van water nie. Al kan mens geen finale antwoorde op hierdie vrae bied nie, het ons riglyne en idees nodig om ons denke hieroor te rig. Ons moet keuses maak wat ons as betekenisvol ervaar. Ons idees en riglyne oor hoe die lewe, onsself of die samelewing is, is nie vas nie. Ons het nodig om voortdurend daaroor te bly nadink. As ons ophou daaroor dink, word ons idees en opvattings vaste reëls en wanneer sulke reëls eers vasgelê is, word dit moeilik om raak te sien dat ons idees en opvattings juis net idees en opvattings is en nie “feite” of finale waarhede nie.
Dit neem dikwels ’n skokkende ervaring om mens opnuut oor jou eie opvattings te laat nadink. Ons het nie almal sulke skokkende, lewensveranderende ervarings nie, maar fiksie bied die geleentheid om aan ander perspektiewe en ervarings blootgestel te word. Verheyen skryf dat ons ’n “ontdooiing van bevrore gedagtes” ervaar. Daarom gaan die lees van fiksie uiteindelik nie oor die opdoen van nuwe kennis of oor die ontdekking van die een of ander waarheid en morele lessie wat ons op ons lewens kan toepas nie. Die waarde van literêre fiksie lê in die manier waarop dit ons beweeg om ons eie idees te bevraagteken, om opnuut na te dink oor wat ons taak is, hoe ons behoort te lewe. Dit maak ons beskouing komplekser en dwing nuwe maniere van dink af.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.