Willie Burger kyk na Johann Botha se roman Koukonap
Johann Botha se Groot vyf (1997) is destyds baie positief ontvang. Die roman, bestaande uit vyf afdelings genoem na die “groot vyf” in die Kruger-wildtuin, was nie net “dierestories” nie. Uiteindelik het dit oor die verhouding tussen diere en mense gegaan, maar ook oor die geskiedenis van die land (deur onder meer verwysings na Trichardt se trek) terwyl dit ook ’n toekomsblik op die veranderings in die politieke bestel in Suid-Afrika gebied het. Die kragtige taalgebruik, die boeiende beelde en veral die magiese slot bly my nou nog by.
Eers byna twee dekades later verskyn Botha se volgende boek, Koukonap. Die uitgewers het swaargewigte se aanbevelings op die buiteblaaie geplaas: Deon Meyer word voorop aangehaal: “Die lewens van gewone mense in die greep van die geskiedenis. ’n Storie met begrip, deernis en humor. Dit gaan my nog lank bybly.” Op die agterblad word Dana Snyman se mening gegee: “Uit die doen en late van ’n fassinerende klomp karakters word ’n tydperk opgeroep wat die leser ervaar as aangrypend bekend – en terselfdertyd onthullend nuut.” Hierdie twee aanhalings vang tussen hulle die leeservaring vas.
Koukonap is ’n dik boek van byna 400 bladsye, maar dit bestaan uit ’n klomp kort vertellings. Talle spesifieke voorvalle in die lewens van hoofsaaklik een gesin oor die tydperk van die laat 1940’s tot vroeë 1960’s word deur ’n meesterverteller aaneengeryg. Byna elkeen van hierdie kort vertellings vang ’n stukkie atmosfeer van ’n vergange era, ’n brokkie menslike deernis, ’n lewensinsig, vas. Botha het die vermoë om karakters binne ’n paar sinne, soms met enkele woorde, en dikwels juis uit die verswyging van inligting, op te tower dat hulle soos jou eie ooms of tannies of vriende voel.
Koukonap is ’n klein dorpie naby die saamvloeiing van die Vaal- en Garieprivier (geskoei op die werklike Douglas. Dié woord is in ’n stadium blykbaar as naam vir dié Noord-Kaapse dorp oorweeg.) Die rivier self speel ’n belangrike rol in die roman – nie alleen as die bron van die jong seuns se avonture à la Huckleberry Finn nie, maar dit kry ook metaforiese betekenis. Die groter verhaal is dié van die jong Lood en Lenie en hul babaseuntjie wat in die laat 1940’s per trein op dié dorpie aankom. Lood word as posmeester daar aangestel en glo dat hul verblyf op Koukonap slegs tydelik sal wees omdat hy ambisieus is en sy hart na die Vrystaat hunker.
Uiteindelik vestig hulle hulle hier, die gesin brei uit en die kinders word groot – eers in die posmeesterwoning, later in ’n eie huis en nóg later op ’n kleinhoewe. Die roman verken gesinsverhoudings: tussen man en vrou, ma en seuns, pa en seuns en tussen broers. Ook die verhoudings tussen mense uit verskillende agtergronde, “klas” en godsdiens word ondersoek. Hierin spreek die roman van ’n beleë mensekennis, begrip en deernis. Natuurlik is dit ’n Suid-Afrikaanse roman wat juis in ’n tyd van groot politieke, sosiale en ekonomiese veranderings gesitueer is en daarom word rasseverhoudings ook ondersoek: die infasering van apartheidswette, die bevoorregting van witmense, die toenemende polarisering van die bevolking en die geleidelike en traumatiese oorgang van ’n agrariese, patriargale, godsdienstige bestaan na ’n moderne wêreld.
Hierdie gegewe lei tot ’n oorkoepelende gevoel van suiwer nostalgie. Die nostalgie word soms deur roerende oomblikke getemper wanneer die onskuldige kinderparadys versteur word – hetsy deur oueronenigheid wat kinders ontstel of die skrikwekkende ingrype van die dood. Die roman gaan oor die geskiedenis, oor die invloed van mense se persoonlike geskiedenisse op alles wat hulle doen, maar ook oor die land se geskiedenis – of dan geskiedenisse, want soos hy ouer word, besef die oudste seun dat die land eintlik twee geskiedenisse het: die een waarvan hulle binne die Afrikaner-nasionalistiese opvoedingstelsel leer en nog ’n ander geskiedenis. Daarom is hierdie ook op ’n manier ’n “grootwordroman”.
In hierdie opsig is Koukonap glad nie nuut nie en het ’n “ons-is-nie-almal-so-nie”-oomblik so reg uit Jeanne Goosen se ikoniese roman asook ’n “liegbeker”-oomblik soos in Etienne van Heerden se In stede van die liefde. Die verhaal speel af in ’n vervloë tyd en die vertelling doen ook ietwat “outyds” aan. Die verteller weet alles, verstaan alles, verklaar alles vanuit ’n agternaperspektief. Mense se handelinge, hul idees, hul geskiedenisse en omstandighede, hul “geaardhede” word telkens omvattend verduidelik. Hierdie vertelwyse skep die indruk dat die wêreld ’n volledig verstaanbare en verklaarbare plek is. Sodoende bied dit ook troos. Die troos van ’n kenbare en verklaarbare wêreld sluit by die romanslot aan.
Hoewel die roman teen die agtergrond van die turbulente vroeë sestigerjare afsluit: Sharpeville, die sluipmoord op Verwoerd, dekolonisering van Afrika en met nuus oor opstand en betogings teen onderdrukkende wette, herinner hierdie gebeure ons daaraan dat dieselfde nuusgebeure en onrus wat nou ons tydperk oorheers, ook sal verbygaan. ’n Nuwe geslag sal ook ons ontstellende era van verandering deurleef en hulle sal ook later herinneringe aan al die daaglikse lief en leed, aan kos en musiek, ’n eerste vryery of fietsrit, ’n avontuurlike kanovaart of eksentrieke familielid as bron van hul nostalgie ervaar.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.