‘As jy gedink het Meyer het die kuns om jou só mee te voer dat jy die boek nie kan neersit nie reeds tevore vervolmaak, was jy verkeerd. Daardie was nie volmaak nie, want hy het daarop verbeter,’ skryf Willie Burger
Byna almal wat hoegenaamd lees, gaan die boek in elk geval lees sonder om ooit na ‘n resensie te kyk, daarom resenseer ‘n mens nie eintlik ‘n Deon Meyer-boek nie. (Ek sê byna almal, want daar is ‘n klein groepie lesers wat nie in ‘n resensie van ‘n Meyer-boek belangstel nie want hulle lees nie “populêre fiksie” nie.)
My enigste hoop is dus dat iemand hierdie sal lees om dieselfde rede as wat mense op ‘n Sondag, nadat die Springbokke gewen het, ‘n verslag in die koerant oor die wedstryd lees. Hulle weet presies wat gebeur het, maar die verslag rek dalk die lekker so ‘n bietjie uit. Nog ‘n rede waarom ‘n mens dalk nie ‘n Meyer-boek moet resenseer nie, is omdat jy te geredelik in clichés verval. Die eerste ding wat ‘n resensent oor enige Meyer-roman gaan skryf, is só voor die hand liggend dat dit eintlik ongesê kan bly. Maar ek gaan dit nogtans sê: Koors is meesleurend.
As jy gedink het Meyer het reeds tevore die kuns vervolmaak om jou só mee te voer dat jy die boek nie kan neersit nie, was jy verkeerd. Daardie was nie volmaak nie, want hy het daarop verbeter en dit boonop oor 579 bladsye volgehou. Die tweede ding wat ek oor Koors wil sê, is gerig op die lesers wat nie “populêre fiksie” soos misdaadfiksie of avontuurverhale lees nie. Hulle word by voorbaat afgeskrik deur Meyer se reputasie en deur opmerkings op die buiteblad soos: “Die gewildste skrywer in Afrikaans” en “Hulle het my pa doodgeskiet. Ek gaan hulle kry.” Ek wil hierdie lesers waarsku: Moenie Koors op sy baadjie takseer nie! Al is alles teenwoordig wat vir ‘n boeiende spanningsriller nodig is – aksie, spanning, raaisels, identifiseerbare karakters, ‘n emosionele
wipplank, ‘n plot vol verrassende kinkels – bied Koors nog veel meer. Koors wyk van Meyer se bekende patrone af.
Die woorde “Hulle het my pa doodgeskiet. Ek gaan hulle kry,” herinner aan Lemmer, maar Nico Storm se woorde kry binne die roman al meer genuanseerde betekenis en ‘n konteks wat dit tóg van die meeste formulefiksie laat afwyk. Die begin van die roman herinner aan Cormac McCarthy se The Road. ‘n Pa en seun probeer in moeilike omstandighede oorleef nadat ongeveer 90% van die wêreldbevolking deur ‘n virus uitgewis is. Die postapokaliptiese wêreld is skrikwekkend. Die filosofie vir hierdie tyd word in Domingo (een van die “helde”) se mantra vasgevang: “The other guy wants to kill me. If I hesitate, I die.” Hierteenoor is daar ook mense, soos Nico Storm se pa, wat in vooruitgang, in menseregte, in demokrasie en in mense se potensiaal glo.
Dit beteken egter nie dat hier ‘n eenvoudige botsing tussen goed en kwaad voorkom wat so kenmerkend van populêre fiksie is nie. In avontuurrillers moet die held uiteindelik die booswigte verslaan ten einde orde vir die gewone, vredeliewende mense te herstel. In Koors is geen eenvoudige held teen skurk nie, nie wat karakters betref nie en ook nie op die groot skaal van die plot nie. Juis nie! Bespiegelende fiksie oor die vestiging van ‘n nuwe gemeenskap in ‘n post-apokaliptiese wêreld kan maklik bloot ‘n interessante verbeeldingsvlug word, maar dit is nie so vervreemdend soos wat wetenskapsfiksie dikwels is nie, omdat die mense en gebeurtenisse té realisties, té herkenbaar, té naby aan ons bekende wêreld is. Filosofiese vrae word oor óns wêreld gevra: oor demokrasie, oor die wenslikheid van ‘n “vriendelike diktatuur”, oor die skeiding van staat en kerk, oor reaksies op klimaatsverandering … Miskien sal jy sê ek lees heeltemal te veel in Koors, dat mens tog net vir die lekker lees, maar ek dink dat Meyer ons komplekse wêreld op interessante maniere belig.
Die roman word as Nico Storm se memoires aangebied. Storm oorrompel as ‘n eerlike verteller maar om vir meer as 500 bladsye na een stem te luister, sou nie werk nie. Daarom word die stemme van die “ouer en wyser” Nico wat terugdink aan die stormagtige gebeurtenisse van sy jeug en die gebeurtenisse soos dit vir die jong Storm ontvou, afgewissel. Verder word die vertellings onderbreek deur ander mense se vertellings wat vir die “na-koors-geskiedenisprojek” opgeneem is. Dit is ‘n slim greep, want dit bring afwisseling in die taalgebruik en bied vir die leser ander perspektiewe.
In spanningsrillers is daar altyd die een of ander bedreiging vir die gemeenskap waarteen die held die gemeenskap moet beskerm. Soos mense se vrese oor die jare verander het, het die skurke ook verander: kommunistiese spioene, dwelmsmokkelaars, mal wetenskaplikes, radikale godsdiensgroepe, korrupte bankiers. Tans word ekologiese rampe as die grootste bedreiging vir die mensdom beskou en Koors sluit hierby aan. Die vyand in Koors is egter nie die ramp self nie, maar hoe mense op die ramp reageer. Nabokov het eens geskryf dat ‘n goeie skrywer eerstens ‘n meevoerende storieverteller is, tweedens ‘n onderwyser by wie ons veel oor mense en oor die wêreld leer, en derdens dat hy ons met taal begoël. Meyer doen al drie en hy verskuif die grense van populêre fiksie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.