Willie Burger kyk na die biografie oor Henk van Woerden, wat as Koning eenoog in Afrikaans vertaal is
Dit is seker gepas dat Toef Jaeger se biografie oor Henk van Woerden ook in Afrikaans vertaal word. Van Woerden het immers ’n deel van sy jong lewe in Suid- Afrika deurgebring en hy het die land later dikwels besoek, terwyl sy reputasie as skrywer gevestig is deur die drie “Suid-Afrikaanse” boeke, Moenie kyk nie (1993), Tikoes (1996) en ’n Mond vol glas (1998). Koning eenoog bied, soos Van Woerden se eie werk, veel stof tot nadenke vir almal van Europese afkoms wat in Afrika woon.
Van Woerden was ’n skilder en skrywer en sy skryfwerk is met talle pryse bekroon. Suid-Afrikaanse lesers ken veral ’n Mond vol glas – ’n boek oor Dimitrios Tsafendas, die Griekse immigrant wat in 1966 vir Hendrik Verwoerd vermoor het. Antjie Krog was vir die Afrikaanse vertaling van dié werk verantwoordelik en die Engelse vertaling is in Suid-Afrika met die Alan Paton-prys beloon, terwyl die Frans Kellendonk-prys in Nederland daarvoor toegeken is. Van Woerden se laaste roman, Ultramarijn, het in 2005, kort voor sy dood (hy was maar 57 jaar oud) verskyn en dié werk is postuum met De Gouden Uil, ’n belangrike Belgiese literêre prys, bekroon.
Dit was nie sommer toevallig dat Van Woerden oor Tsafendas in ’n Mond vol glas geskryf het nie. Soos hyself, was Tsafendas ook ’n immigrant en het ernstige vervreemding ervaar. Toef Jaeger se biografie het ook gepas die subtitel “’n Migranteverhaal”, want Henk van Woerden sou nooit heeltemal tuis in “die suide” – Suid-Afrika en Kreta (waar hy ook vir lang tye gewoon het) – voel nie, maar ook nie in Nederland nie. Hy wou teen elke prys die onreg van die Suid-Afrikaanse apartheidstaat ontsnap, maar wanneer hy uiteindelik terugkeer na Nederland, vind hy dit “koud en vervelig”. Van Woerden se gesin het in 1957, toe hy tien jaar oud was, uit Nederland na Suid-Afrika geëmigreer. Gedurende die 1950’s, pas na afloop van die Tweede Wêreldoorlog, het talle Nederlanders besluit om Europa te verlaat.
Die meeste is na Kanada en die VSA, maar baie het verkies om na Suid-Afrika te kom, weens die historiese verbintenis tussen die twee lande en die sterk ooreenkomste tussen Nederlands en Afrikaans. Van Woerden het eers byna 40 jaar later uitgevind dat sy pa eintlik nie ’n keuse gehad het nie. Kanada en die VSA sou hom nie aanvaar het nie en hy kon nie meer in Nederland bly nie, omdat hy tydens die oorlog met die Duitsers saamgewerk het. Die Van Woerden-gesin het ’n besonder ongelukkige tyd in Kaapstad beleef. Sy ma is kort ná hul aankoms in Suid-Afrika oorlede en Van Woerden se pa was nie ’n toonbeeld van ouerlike sorg nie.
Henk, sy suster en sy twee broers is in pleeggesinne opgeneem. Van Woerden se werk is baie biografies en dit is nie maklik om tussen feit en fiksie te onderskei nie. Jaeger wys daarop dat, hoewel die werk op persoonlike ervarings geskoei is, baie veranderings aangebring is, veral wat “vormgewing” betref, en in hierdie opsig bied haar biografie interessante stof tot nadenke oor hoedat enige herinneringe of ervarings uiteindelik vorm gegee word deur sekere vorms en tradisies waarbinne die weergawes staan. Koning eenoog (die titel verwys na Van Woerden wat reeds as kind een oog verloor het) bestaan uit drie dele.
In die eerste deel, met die titel “Na Suid-Afrika” val die fokus op die gesin se emigrasie na Suid-Afrika, sy eie ervarings in die land en sy uiteindelike terugkeer na Nederland waar hy ’n kunsdosent word. In die korterige tweede deel, “Terug na Nederland”, word hoofsaaklik aandag aan Van Woerden se loopbaan as skilder gegee, terwyl die laaste deel, “Soutpiel”, ’n ondersoek van sy skryfwerk is. Sy bestaan in ’n tussenwêreld, tussen die suide en die noorde, sy status as immigrant wat nooit werklik tuis is nie, ontvang ook, soos die titel daarvan suggereer, in die derde deel van die boek aandag. Koning eenoog is ’n boeiende verhaal oor migrasie, van ontuisheid en van kunstenaarskap. Dit bied ook ’n interessante blik op die werking van herinnering en die weergee van ervarings, op menseverhoudings en ’n interessante invalshoek op ’n ervaring van die Suid-Afrikaanse geskiedenis.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.