Willie Burger kyk na kinderboeke wat vermaak én leer
Dit is gepas dat Asterix by die Olimpiese spele juis in hierdie jaar weer nuut in Afrikaans uitgegee is. Veral in ‘n tyd wat die gebruik van verbode middels in sport telkens opslae maak (en vanjaar selfs gelei het tot die diskwalifisering van Russiese atlete voor die Rio-spele) is hierdie Asterix-avontuur besonder gepas – want die gebruik van onwettige doepa om prestasie te verbeter speel ‘n sentrale rol in Asterix by die Olimpiese spele.
Asterix tel waarskynlik onder die bekendste strokiesverhaalkarakters ter wêreld. Die 36 Asterix-boeke wat tussen 1961 en 2015 verskyn het, is in meer as ‘n honderd tale vertaal. Een van die tale is Afrikaans. Ek is seker baie Afrikaanse mense van my ouderdom het ook in die 1970’s uitgesien na die volgende bladsy van Asterix se avonture wat bladsy vir bladsy in ‘n gewilde weeklikse tydskrif verskyn het.
My eerste Asterix-boek was dus ‘n aanmekaargekramde weergawe opgebou uit al hierdie uitgeskeurde bladsye. Al het daar ‘n paar bladsye gekort, het hierdie eerste ontmoeting met die wonderlike wêreld van die onverslaanbare Galliërs my toé oorrompel en tot vandag bly boei. Ek het daardie onvolledige “boekie” en al die ander wat ek daarna aangeskaf het, weer en weer gelees en die wonderlike detail in elke prentjie en al die dialoog geken. ‘n Hele paar van die klompie Latynse uitdrukkings wat ek ken, het ek uit Asterix- boeke geleer (Alea jacta est). My versamelywer het gebly en ek het byna elke Asterix-avontuur aangeskaf. Ek het slegs Asterix en die Noormanne (wat in 1975 in Afrikaans verskyn het) in Afrikaans besit.
Behalwe vir Asterix en de Belgen wat ek in ‘n Nederlandse vertaling besit, is die res van my versameling Asterix-boeke in Engels. Human & Rousseau het tussen 1975 en 1997 vier van Asterix se avonture in Afrikaans uitgegee. Sedert 2013 het 15 Asterix-avonture in Afrikaans by Protea verskyn. Hoewel Asterix by die Olimpiese spele tevore ook in Afrikaans uitgegee is (as Asterix en die Olimpiese spele), is hierdie ‘n nuwe vertaling deur Sonya van Schalkwyk-Barrois. Dit neem ‘n rukkie om gewoond te raak aan die Afrikaanse name van bekende karakters wie se name reeds in Engels ingeburger is, maar vir jong lesers wat vir die eerste keer met Asterix in Afrikaans kennis maak, sal dit natuurlik nie pla nie.
In die ou Afrikaanse vertalings het Obelix se hondjie (Dogmatix in Engels) Woefix geheet, in hierdie vertalings is hy Witblix. Ek kan nie die Afrikaanse Asterix met die oorspronklike Frans vergelyk nie, maar die humor en sprankel van die Engelse strokies is ook hier teenwoordig. Woordspel, waarop baie van die humor berus, word dikwels op verrassende wyse uitstekend in Afrikaanse idioom weergegee. Vir enigeen wat kinders het wat leer lees, is hierdie hele reeks Afrikaanse vertalings wat by Protea verskyn verpligtende aankopies. Want Asterix-boeke is ook bewaarstukke wat ‘n mens weer en weer lees (sommige van my Asterix-boeke val al uitmekaar). Ook gesoute Asterix-lesers sal dit geniet om die woordspel opnuut in Afrikaans te ervaar.
Almal voel gelukkig, Almal voel kwaad, Almal voel hartseer en Almal voel bang is ‘n reeks boekies geskryf deur Moira Butterfield en met illustrasies deur Holly Sterling. Natuurlik kan daar baie redes aangevoer word waarom ons boeke vir kinders behoort voor te lees. Een daarvan is om kinders se woordeskat uit te brei. Dit gaan egter nie slegs om die leer van nuwe woorde nie, maar dit is dikwels juis uit stories wat kinders leer wat woorde presies beteken. Veral die betekenis van woorde wat met emosies verband hou, word dikwels juis uit stories geleer. Elke kind moet ‘n emosionele woordeskat aanleer – enersyds ten einde ander mense te verstaan, maar ook om hul eie gevoelens te verstaan. Die woordeskat wat in hierdie boekies aangeleer word, verduidelik wat met woorde bedoel word, gee voorbeelde uit die verhaaltjies van hoe die emosies voel en verduidelik ook hoedat emosies soos woede of vrees of verdriet hanteer kan word. Die reeks Almal voel-boekies kan dalk bietjie te eksplisiet soos lessies voel, maar as ‘n mens hulle versigtig gebruik, met die klem op die verhaaltjies, eerder as op die lewenslesse – kan dit ‘n mens dalk help om deur ernstige emosies met jou kind te werk.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.