Drie romans wat as hoogtepunte in Karel Schoeman se oeuvre, en ek dink ook as hoogtepunte in die Afrikaanse romankuns, beskou kan word, is nou weer beskikbaar, skryf Willie Burger
Karel Schoeman het Verliesfontein, Hierdie lewe en Die uur van die engel as ’n “drieluik” geskryf (drie romans wat by mekaar aansluit, maar nie noodwendig oorvleuel nie). Hulle het nie oorspronklik in chronologiese volgorde verskyn nie. Hierdie lewe het in 1993 eerste verskyn, maar is op die agterblad aangekondig as “stemme 2”. Die uur van die engel (“stemme 3”) het twee jaar later gevolg, terwyl “stemme 1”,Verliesfontein, in 1998 verskyn het.
Intussen het dit moeilik geword om veral Verliesfontein en Die uur van die engel in die hande te kry. Hierdie lewe is baie gewild, is met verskeie pryse bekroon en is ook in die “Klassiek-reeks” telkens herdruk. “Die verlede is ’n ander land, waar is die pad wat soontoe loop?” Met hierdie eerste sin van Verliesfontein word die sentrale tema van die drieluik aangekondig. Al drie is gemoeid met ’n weergawe van die verlede.
Verliesfontein gaan oor die dood van ’n onbekende boerseun en die teregstelling van ’n man deur Boeremagte tydens die Anglo-Boereoorlog. In Hierdie lewe gaan die verhaal oor ’n naamlose ou vrou wat op haar sterfbed oor haar onmerkwaardige lewe nadink. Die uur van die engel gaan oor ’n ongeletterde skaapwagter wat in die middel van die 19de eeu beweer het ’n engel het aan hom verskyn. Telkens word die gebeurtenisse uit die verlede deur “stemme” weergegee, stemme wat as ’t ware uit die donker, “ander land” van die verlede, skaars hoorbaar fluister, soms onsamehangend, dikwels oor skynbaar onbenullige detail. Verder staan die dood ook sentraal in die drieluik. Hierdie beskrywing klink onopwindend en jy mag wonder waarom ek opgewonde oor die heruitgawes is?
Die stemme-drieluik se fokus op die dood, op verlies, op die verbygaan van alles, is ’n manier waarop oor menslike bestaan nagedink word. Schoeman dwing sy lesers om tot stilstand te kom en na te dink oor wat “hierdie lewe” eintlik vir ons elkeen beteken. In hierdie lewe is daar baie min waarvan ons absoluut seker kan wees. Die een ding wat elkeen van ons egter met sekerheid kan sê, is dat ons gaan sterf. Ons weet ook sonder twyfel dat al die mense om ons gaan sterf. Alles om ons gaan verby. Ons kan dit wat in die verlede gebeur het, selfs die vorige sekonde, nooit weer beleef nie. Daarom leef ons elke oomblik met verlies.
Hoedat ons op hierdie besef van sterflikheid en voortdurende verlies reageer, bepaal hoe ons lewe. Meestal verkies ons om nie daaroor na te dink nie, ons betaal ons lewenspolisse en vul verder ons bestaan met soveel as moontlik dinge sodat ons van ons sterflikheid en die verbygaan van dinge vergeet. Schoeman se prosa dwing die leser tot stilstand en herinner ons aan die onherroeplike verbygaan van alles en aan die onmoontlikheid om enige oomblik vas te pen; te behou. Veral in Verliesfontein blyk hoedat niks wat in die verlede gebeur het, ooit presies weergegee kan word nie. Argiewe en ander bronne is immers onvolledig en onbetroubaar.
Boonop verander interpretasies van die betekenis van gebeurtenisse met verloop van tyd in nuwe situasies. Geen foto, monument of grafsteen kan die betekenis van iemand se lewe bewaar nie. Dit geld nie slegs vir historiese gebeurtenisse nie, maar ook vir ons eie lewe, soos veral Hierdie lewe beklemtoon. Ons kan nie ons eie lewe presies weergee nie. Die geheue is onbetroubaar en die betekenis wat ons aan herinnerings heg, verskuif soos ons insig verbreed of soos ons agterkom dat ons handelings deur gebeurtenisse buite ons beheer bepaal is.
Die uur van die engel beklemtoon dat geen enkele oomblik, selfs ’n epifane moment wat ’n mens se lewe in ’n bepaalde rigting instuur, agterhaal kan word nie. Ook die mees betekenisvolle ervaring in ’n individu se lewe verdof, verdwyn en verloor uiteindelik impak, omdat dit nie deur ’n foto, film, artefak, geheue, getuienis of woorde vasgepen kan word nie. Elke oomblik gly weg en die betekenis daarvan raak verlore. Kallie Magistraat in Verliesfontein sit en skryf by ’n flikkerende lamp. Ds Heyns skryf moeisaam aan sy preke in die donker pastorie in Die uur van die engel. Schoeman bevestig sodoende dat skryfwerk, ook sy eie geskiedskrywing en romans, nie die betekenis van die verlede kan vaspen nie.
Sy skryfwerk herinner aan die onmoontlikheid om aan die lewe of aan enigiets in die lewe te kan vashou en om sodoende betekenis daaraan te gee. Die stemme-drieluik herinner egter nie net aan die pynlike verlies van betekenis nie, maar demonstreer hoedat skryfwerk, en uiteindelik ook leeswerk, ons tóg naby aan ’n ander se ervarings van glippende betekenis kan bring. Dit wys hoe woorde tóg die pynlike ervarings van verlies kommunikeerbaar maak; bring ons in die omgewing van die ander se ervaring van betekenis. Nog meer: Die stemme uit die verlede maak vir die leser wat oopgestel luister, ’n eie ervaring binne sigself moontlik (“Die reis is inwaarts,” skryf Schoeman). Hierdie is vir die leser ’n betekenisvolle ervaring, al is dié betekenis nie meedeelbaar nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.