Willie Burger kyk na die biografie Kansvatter. Die rustelose lewe van Ben Viljoen
Wanneer mens aan die ou Boeregeneraals soos generaal De Wet en generaal De la Rey dink, kom beelde van dapperheid, bittereinders en beginselvastheid op. Hierdie mense word as “regte” helde beskou uit ’n tyd vóórdat mense met behulp van die media vir hulself loopbane as glanspersoonlikhede (celebrities) kon skep.
Sulke helde het geleef in ’n tyd van eerlike, harde werk, voor fopnuus, voordat loopbane deur slim gebruik van die media, van twitter en instagram opgebou kon word. Reg? Moenie glo nie. Carel van der Merwe se jongste biografie Kansvatter. Die rustelose lewe van Ben Viljoen dui aan hoe ten minste een Boeregeneraal ’n loopbaan vir homself gebou het deur die media van sy tyd te benut. Op berekende wyse het Ben Viljoen sy vaardighede as joernalis en sy welsprekendheid aangewend om homself voortdurend in die openbare oog te hou. Hy het met invloedryke mense kontak gemaak en gesorg dat sy prestasies onder hul en die breë publiek se aandag kom deur óf self artikels en boeke daaroor te skryf, óf inligting aan joernaliste met wie hy goeie betrekkinge gehandhaaf het, deur te gee.
Ben Viljoen het as 18-jarige plaasseun uit die Oos-Kaap in Johannesburg aangekom. Hy was ’n mislukte afslaer aan die Wes- Rand, konstabel van Krugersdorp, en joernalis van ’n progressiewe koerant. Binne 14 jaar vorder hy eers tot veldkornet, toe volksraadslid en generaal. Later in sy lewe is hy aangestel as adviseur van Francisco Madero, die leier van die revolusie in Mexiko en as vredeskommisaris in onderhandelinge met die Yaqui. Van der Merwe verduidelik dat Viljoen in die proses om sy eie belange te bevorder nie noodwendig nougeset by die waarheid gehou het nie, maar telkens sy rol in situasies aangedik het of nuwe weergawes van gebeurtenisse versin het om in ander omstandighede te pas. Hiermee word nie gesê dat Ben Viljoen bloot ’n opportunis was met ’n talent vir selfbemarking nie. Hy het dikwels onteenseglik baie dapper opgetree. Hy was ook besonder intelligent en ’n gewilde en inspirerende leier. Hy het wel sy eie prestasies en politieke aspirasies aangewend om persoonlike voordele te bekom.
Van der Merwe het reeds met sy biografie oor Eugène Marais, Donker stroom, bewys dat hy ’n deeglike navorser is, iemand wat gaan krap en soek na inligting wat nie deur vorige biograwe in ag geneem is nie. Sy nougesette navorsing oor Ben Viljoen het ’n doktorsgraad in geskiedenis aan hom besorg, maar soos Donker stroom, word Kansvatter nie as swaar geskiedenis aangebied nie. Dit is ’n lekkerleeservaring wat mens met die merkwaardige storie van Ben Viljoen se lewe meesleur, en wat jou byna speel-speel ontsettend baie oor die geskiedenis van die 19de eeuse Transvaal en die eerste dekades van die twintigste eeu in die VSA leer. Sy Oos-Kaapse agtergrond het veroorsaak dat hy goed kon Engels praat en maklik met Engelse oor die weg gekom het. Soos Marais, het hy in sy joernalistieke werk eerder die progressiewe Transvalers ondersteun en aangemoedig om met die “uitlanders” saam te werk.
Toe Kruger egter ná die Jameson-inval al meer steun kry en die verkiesing met ’n groot meerderheid wen, het Viljoen begin om Kruger te steun – en is deur Marais as ’n manteldraaier beskryf. Later in die VSA het hy ook eers die Republikeine gesteun, maar toe dit duidelik word dat die Demokrate gaan wen, oorgeloop. Viljoen het gedurende die laaste jaar van die Anglo-Boere-oorlog besef dat dit futiel is om daarmee voort te gaan. Hy het egter ook ingesien dat dit ná die oorlog in sy guns sou tel, om ’n bittereinder te wees, eerder as ’n hensopper en daarom het hy tot die einde in die veld gebly – maar hy het skermutselings met die Britte vermy, selfs bevele verontagsaam en met Britse offisiere onderhandel.
As krygsgevangene op Sint Helena het hy reeds aan sy oorlogsherinnerings begin skryf en die boek was kennelik op ’n Britse lesersmark gerig. Hy het ook ná die oorlog op ’n lesingtoer na Brittanje en Nederland gegaan. Hy het sy bekendheid op grond van die boek en sy openbare optredes gebruik om te probeer om ’n posisie in die na-oorlogse Britse bestuur te bekom. Nie die Boere of die Britte het hom vertrou nie en hy emigreer uiteindelik na die VSA waar hy ’n reputasie as dapper Boeregeneraal wat weier om onder Britse juk te staan, skep en uitbuit om poste en sakegeleenthede te bekom. Viljoen was ’n merkwaardige man. Uiteindelik kom Van der Merwe tot die gevolgtrekking dat ’n “goue draad” deur Viljoen se lewe loop: “sy drang om ander se aandag en bewondering op hom te vestig”.
In Sonja Loots se roman Sirkusboere, is Ben Viljoen se manewales as showman, as iemand met ’n slag met vroue en sy gebruik van elke moontlike netwerk om sy loopbaan en posisie te bevorder, ook boeiend betrek. Hierdie boek gee die feite agter die fassinerende man. Ben Viljoen word in die boek ook – soos in Sonja Loots se roman – as ’n “soort” Afrikaner voorgehou – iemand wat aanpasbaar is, pragmaties, wat minder aan die patriargie en godsdiens gebonde is, eiesinnig en onafhanklik en juis in ons tyd vir hierdie aanpasbaarheid, ook in ander lande en met die vermoë om die enger nasionalisme agter te laat, as voorbeeld van ’n moontlike manier van Afrikanerwees voorgehou word. (Protea Boekhuis)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.