Willie Burger kyk na ’n biografie van Jan Smuts
Daar is waarskynlik nie oor een ander Suid-Afrikaanse politikus soveel biografieë geskryf as oor Jan Smuts nie. Mens kan maar net dink aan die omvangryke biografie, in twee dik boeke, deur Richard Hancock wat reeds in die 1960’s verskyn het, die biografie deur Piet Meiring: Jan Smuts die Afrikaner, en biografieë deur Sarah Gertrude Millin, Bernard Friedman, of die een deur sy seun, Jannie. Meer onlangs, in 2016, het Richard Steyn se Jan Smuts: Unafraid of Greatness verskyn.
Die rede waarom daar telkens pogings aangewend word om oor Smuts te skryf, is dat hy ongetwyfeld ’n briljante man was. Hy het as filosoof, militêre leier, politikus en staatsman ’n groot rol in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gespeel, terwyl hy ook ’n bydrae tot die wêreldgeskiedenis gelewer het. Nog belangriker is egter dat daar iets raaiselagtigs in Smuts se karakter was. Hy was ’n komplekse mens. Ondanks sy indrukwekkende intellek en kennis (hy het blykbaar ’n formidabele geheue gehad), insig (iemand beweer Einstein het selfs opgemerk dat Smuts een van die min mense is wat sy relatiwiteitsteorie verstaan het) en vermoë om groot te dink en om strukture te vestig, het hy ook verskeie blindekolle gehad en byna onverstaanbare foute gemaak.
Baie jare lank is Afrikanerpolitiek deur “Natte” en “Sappe” bepaal – ’n verdeling wat tot bitter twis gelei en waarin Smuts ook ’n sentrale rol gespeel het. Die man wat Paul Kruger se vertroueling was en as Boeregeneraal tot die bitter einde bly veg het, was later die stukrag agter die Uniewording en die man wat die Unie van Suid-Afrika binne die groter Statebond laat opneem het. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy ’n vertroueling van Churchill. Hy het ’n rol in die totstandkoming van die Volkebond en later die Verenigde Nasies gespeel. Nietemin het hy rassediskriminasie in Suid-Afrika bly verdedig. Dit is hierdie soort kompleksiteit en oënskynlike teenstrydighede wat bygedra het tot Kobus du Pisani en mederedakteurs Dan Kriek en Chris de Jager se poging om opnuut ’n herwaardering van Smuts te onderneem.
Jan Smuts: Van boerseun tot wêreldverhoog bestaan uit vier groot afdelings waarin onderskeidelik Smuts se bydraes tot die wetenskap, sy rol as militaris, as politikus en as staatsman in oënskou geneem word. Altesaam 18 medewerkers het bydraes gelewer, waaronder historici soos Fransjohan Pretorius, regsgeleerdes soos Christof Heyns, politieke wetenskaplikes soos Deon Geldenhuys, James Barber en Dan Kriek, ’n politikus soos Klasie Viljoen en ’n joernalis soos At van Wyk. (Byna uitsluitlik Afrikaanse bydraers – wat die indruk bevestig dat dit ’n herwaardering vir Afrikaanssprekendes is.) Die verskillende bydraes wissel in toon en styl en lewer juis daarom ’n boeiende perspektief. Sommige bydraes getuig van ’n bewonderende en onkritiese instelling, terwyl ander nie huiwer om tekortkominge aan te dui en oorwaarderings van Smuts te kritiseer nie.
Die redakteurs het ook ’n “Inleiding” en “Slotsom” by die vier afdelings gevoeg. Die slotsom gee ’n nuttige samevatting van al die hoofstukke vir die lui of haastige leser en ’n samevatting van die “herwaardering” se resultaat. Diegene wat nog nie tevore oor Smuts gelees het nie en min van hom weet, sal veel kan baat by kennis oor die merkwaardige Smuts, maar eintlik ook oor die geskiedenis van Suid-Afrika en die wyer wêreldgeskiedenis. Bloot uit daardie perspektief is die boek al die moeite werd om te lees. In die inleiding meld Du Pisani dat die idee vir ’n herwaardering van Smuts ontstaan het uit ’n behoefte aan rolmodelle uit Afrikanergeledere; Afrikaners uit die geskiedenis op wie mens vandag trots kan wees. Die titel Van boerseun tot wêreldverhoog gee natuurlik al iets van hierdie ingesteldheid tot ’n positiewe herwaardering weg.
Desnieteenstaande is daar heelwat kritiese hoofstukke wat nie huiwer om Smuts se tekortkominge bloot te lê nie. Smuts is nie sonder rede soms “Slim Jannie” genoem nie. Die bewondering vir sy intellek (beste student aan Cambridge) sy filosofie (vader van die “holisme”), sy prestasies as staatsman – wat hom byvoorbeeld sterk teen die vernedering van Duitsland aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog uitgespreek het en wat die visie gehad het vir wat uiteindelik die Verenigde Nasies sou word – word deeglik uit verskeie invalshoeke belig. Daar is geen twyfel daaroor dat die “boerseun” ’n indruk op die wêreldverhoog gemaak het nie – daarvan getuig die talle eredoktorsgrade en ander erkennings.
Ondanks al die prestasies word daar in hierdie herwaardering van Smuts weldeeglik rekenskap gegee van sy mislukkings en tekortkominge ook. Die spanning tussen die Smuts wat op die internasionale verhoog ’n leidende rol gespeel het, wat telkens probeer het om ’n groter “geheel” te skep waarbinne die kleiner “dele” hul identiteit kan behou (sy idee van holisme in praktyk – die totstandkoming van die Statebond en die VN byvoorbeeld) en die Smuts wat plaaslik geen oplossings vir die rassespanning in die land kon of wou bedink nie, is opvallend. Jan Smuts: Van boerseun tot wêreldverhoog is ’n omvangryke en tydige herwaardering. Die afsonderlike hoofstukke is nie van gelyke gehalte nie, maar bied op ’n manier tog ’n interessante blik op die verskillende maniere waarop Smuts nou gesien word. (Protea)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.