Willie Burger kyk na twee skrywers se nuutste werke
Wat doen die moeder van ‘n pasgebore kind as ‘n engel haar die opdrag gee om haar kind dood te maak? Isabella word presies met hierdie probleem gekonfronteer. In die klein, afgeleë myndorp waar sy en haar man, Gideon, hulle kort ná hul troue vestig, begin sy kort ná die geboorte van haar kind stemme hoor. Sy besef dat dit ‘n engel se duidelike en dringende stem is.
‘n Tragedie word danksy ‘n oplettende huishulp afgeweer, maar die gevolge van die wantroue wat ontstaan – tussen Isabella en Gideon, maar ook by Isabella self, bly vir nog baie jare bepalend vir al die betrokkenes. Mariël le Roux het geen bekendstelling nodig nie. Haar tweede roman, Die naamlose (2010), het die tweede prys in die Sanlam se Groot Romanwedstryd gekry. Haar debuutroman, Wilhelmina, kampkind op Java (2007), is ook in Nederlands vertaal. Haar derde roman, Klara (2013), word as ‘n “topverkoper” beskryf.
In Die naamlose is die geboorte van ’n misvormde kind die deurslaggewende moment waardeur al die lede van ’n gesin se lewens ingrypend verander. In Isabella is dit weer eens ‘n geboorte wat tot lewensveranderende verhoudings tussen mense lei. ’n Soort postpartum-psigose oorval Isabella kort ná die geboorte van haar kind. Postpartum-psigose is veel ernstiger as die neerslagtigheid wat moeders kort ná geboorte dikwels oorval. Die simptome van postpartum-psigose kan ook depressie insluit, maar gaan dikwels gepaard met sterk gemoedsveranderings, verwardheid asook hallusinasies, paranoia en delusies. Isabella is, soos Le Roux se vorige werk, gemoeid met ’n ondersoek van gesinsverhoudings.
Sowel Gideon as Isabella kom op hul beurt uit gesinne waarin alles nie vlot verloop het nie. En die impak van haar psigose op hul huwelik word vanuit verskillende hoeke belig. Hoewel die kleindorpse bestaan – spesifiek op ‘n afgeleë myndorp – ook op ’n boeiende manier belig word, bied die roman in die eerste plek ’n fyn en roerende analise van gesinsverhoudings. Die gebeurtenisse in hierdie roman val dalk (hopelik) buite die meeste van ons se verwysingsraamwerk (postpartum-psigose tref maar ongeveer een uit ’n duisend ma’s), maar die roman ondersoek eintlik die struikelblokke wat ons almal in ons verhoudings ervaar, soos kommunikasieprobleme, agterdog en selfbeeldprobleme, en daarom is die wêreld van Isabella en Gideon nie vreemd nie, maar bied insig in ons eie verhoudings. Die trefkrag van die verhaal lê veral in die gebruik van ’n eerstepersoonsperspektief. Omdat alles uit die oogpunt van Isabella vertel word, ervaar die leser saam met haar die angswekkende gevolge van haar hallusinasies. Moederskap en huweliksverhoudings staan sentraal in ons lewens. Isabella is ‘n deeglike en roerende ondersoek daarvan.
LEES OOK: Kies ‘n boek: Kamikaze en Sirkus
Diegene wat nog nie Joyce Kotzè se The Runaway Horses gelees het nie, kan dit nou in Afrikaans lees. Haar epiese, historiese roman oor die Anglo-Boereoorlog is deur Daniel Hugo vertaal. Soos dit ’n historiese roman betaam, is dit ’n lekker dikke – 570 bladsye gelaai met die aksie van oorlog en liefde. Die verhaal begin in 1886, lank voor die oorlog, en volg die aanloop tot die uitbreek van die oorlog, deur die aanvanklike groot konflikte tot die lang, uitgerekte guerrillastryd en die verwoestende verskroeide-aarde- beleid van die Britte tot die bitter einde van die oorlog. Maar ook die hoop daarna.
Dit is die verhaal van een familie waarvan sommige (die De Winters: Martin, Stephanie, Karel en Rudolf) Transvaalse Boere is, terwyl hulle ook Britse neefs (James en Charles Henderson) het. Martin word ‘n Boeregeneraal en James is ’n offisier in die Britse kavallerie. Die motto voorin die roman kom uit Tolstoi se beroemde roman, Oorlog en vrede: All, everything I understand, I understand only because I love. Soos Oorlog en vrede, het Wintersrust ook ’n groot klomp karakters en die leser word by elkeen se ervarings van die oorlog en van hul hartstog, verlies en droefheid ingesleep. Dit is ‘n groots opgesette roman wat, soos Engela van Rooyen se Vuur op die horison, ’n panoramiese blik op die oorlog bied, vanuit die belewenisse van verskeie individue.
Soos telkens in oorlog en in liefde, word lojaliteit getoets. Lafhartige optrede, wraak, verraad, vergifnis en dapperheid word aan Britse sowel as aan Boerekant aangetref. Liefdesbande, familiebande en seksuele verhoudings het ingewikkelde gevolge. Kotzè se roman ondersoek hoedat mense, in weerwil van die groter magte waaroor hul geen beheer het nie, sin probeer maak van hul lewens deur te doen wat hulle meen “reg” en “goed” is.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.