Willie Burger kyk na Irma Venter en Paulo Coelho se nuutste toevoegings tot die boekmark
Skoenlapper, Skrapnel en Sondebok, haar eerste drie romans, het reeds onder die beste misdaadfiksie in die land getel. Maar sy word steeds beter en met Skarlaken en Sirkus het sy bewys dat sy, soos Deon Meyer op die buiteblad van haar nuwe roman aangehaal word, “wêreldklas” is.
Irma Venter se nuwe roman is Sondag. En Sondag boei uit die staanspoor. Die voordeel van ’n reeks misdaadboeke, is dat lesers sommer net by die bekende “speurders” se nuwe ervarings inval. Kaptein AJ Williams is terug. Lesers sal haar uit Sondebok onthou. Sy werk by die Brooklyn-polisiekantoor en word betrek by ’n ondersoek na ’n moord op die pa van ’n gesin en die raaiselagtige verdwyning van die res van die gesin uit hul luukse huis op ’n landgoed. Ranna Abrahamson (alias Frankie Beekman) is ook terug. Sy is steeds aan die kant van geregtigheid, maar voortvlugtig omdat die polisie haar nog met verskeie moorde verbind. Die foto’s wat sy neem, speel opnuut ’n belangrike rol (gelukkig bly geheuekaarte ongeskonde as kameras breek!).
Natuurlik is Alex Derksen, die hardekoejaweljoernalis uit Skoenlapper, met wie Ranna ’n verhouding het, ook terug. Hy en Ranna werk steeds saam en moet steeds haar identiteit verdoesel en hulle word ook steeds deur die hardekwas-kuberkraker Sarah Fourie gehelp. Sarah ry steeds motorfiets en hou vir niemand haar mond nie en geen inligting op die internet kan lank vir haar verborge bly nie. Die een voordeel van die bekende span karakters is dat lesers sommer vinnig tuis voel in die verhaal, maar enigeen kan Sondag begin lees sonder dat jy die vorige romans gelees het. (Wees gewaarsku, jy gaan dan ook al die ander wil lees!)
LEES OOK: Kies ‘n boek: Kamikaze en Sirkus
Die ander voordeel is dat mens as ’t ware voel jy leer hulle nou beter ken, leer nog meer van hulle, dit is asof al die boeke saam ’n netwerk van opwindende gebeurtenisse en lewensverhale vorm waarvan jy deelneem. Sondag sou egter saai kon wees, selfs met hierdie interessante en geliefde karakters, indien Venter nie daarin kon slaag om die een of ander boeiende gebeurtenis te laat plaasvind nie. Interessante misdaadverhale het altyd met eksotiese plekke en verrassende gebeurtenisse te doen (onthou hoe Alex en Ranna oorspronklik in Dar es Salaam ontmoet het of hoe ’n mesgooier in ’n Duitse sirkus mens boei). Venter kry dit telkens reg om die leser met iets buitengewoons te verras, dit gaan nooit sommer net oor ’n bankroof by die plaaslike kitsbank of ’n nare sadis wat sy bure vermoor nie. Hierdie keer betrek Venter Armeense matte.
Wie het kon dink dat die misdaad op ’n rykmanslandgoed in Pretoria uiteindelik met ’n waardevolle mat en ’n hele geskiedenis daaragter te doen sou hê? En verder word die opwindende wêreld van vryduik (duikers wat hul asem besonder lank kan ophou en wat sonder toerusting tot groot dieptes duik) ook betrek. Juis die saamvoeging van iets wat byna bekend wil voorkom (die landgoedmoord laat mens onwillekeurig aan die De Salze-moorde dink en die verdwyning van ’n tienermeisie van Stilfontein klink byna soos iets uit vanoggend se koerant), met gebeurtenisse en misdaadnetwerke wat ontsettend wyd strek na vreemde uithoeke van die aarde en die geskiedenis van ander plekke, veroorsaak dat die leser vernuftig ingetrek word in die verhaalwêreld. Voeg daarby Venter se geslypte vertelwyse, met ’n vinnige tempo, baie aksie in verskillende ruimtes, en jy is meegesleur. Sterk vrouekarakters, polisievroue soos die wat Venter en Bettina Wyngaard skep, bring ’n belangrike ontwikkeling in die misdaadfiksiegenre in Afrikaans.
Paulo Coelho is veral bekend as die skrywer van Die alchemis (wat ook deur Protea in Afrikaans uitgegee is). Hierdie roman uit 1988, wat oorspronklik in Portugees geskryf is, maar sedertdien wêreldwyd in ’n verskeidenheid tale ’n blitsverkoper geword het, boei talle mense met die gevoel van psigologiese diepte en wysheid wat daarin vasgevang sou wees.
Coelho het egter al meer as 30 romans geskryf en die tweedejongste hiervan is Die spioen. Die spioen van die titel is die bekende Mata Hari wat as arm danseres in Parys aangekom het, maar spoedig beroemd geword het en met die magtigste en rykste mans van haar tyd omgegaan het. Sy het mans betower en hulle het heeltemal te veel in haar teenwoordigheid gepraat. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het agterdog diep in Parys geloop en sy is uiteindelik as spioen gearresteer en tereggestel. In hierdie roman word die verhaal van hierdie merkwaardige vrou wat die konvensies van haar tyd uitgedaag het, uit haar eie oogpunt vertel.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.