Willie Burger kyk na Harry Kalmer se roman In ’n land sonder voëls
In ’n tyd waarin baie mense moedeloos voel weens al die berigte oor korrupsie, staatskaping en wanbestuur in staatsbeheerde ondernemings, hoor mens dikwels die mening dat dit beter sal gaan as alles geprivatiseer word: Eskom, gesondheidsorg, veiligheidsdienste … Baie mense glo dat privatisering die beste oplossings vir ons wêreld sal wees.
In In ’n land sonder voëls word hierdie mening nog ’n stappie verder geneem. Die politiek en dus die land se regering word geprivatiseer. Demokrasie kon nie daarin slaag om mense se lot te verbeter nie en het wêreldwyd tot grootskaalse geweld en wanorde gelei. Uiteindelik is verskeie maatskappye gevra om sakeplanne voor te lê oor hoe die land bestuur behoort te word, en ’n Koreaanse maatskappy, met ’n bewese rekord van uitstekende sukses, het die land se regering oorgeneem. Die nuwe stelsel staan as ’n “ekonokrasie” bekend. Die land word deur ’n “kombinasie van Skandinawiese sosialisme, Indiese inligtingstelsels en Koreaanse bestuurspraktyke” bestuur.
Die roman speel 15 jaar ná die oorskakeling na ekonokrasie af. Baie mense het al vergeet hoe dit in die ou dae was. Min mense lees nog en ’n gepoleerde propagandamasjien oortuig die bevoorregte mense (in gholflandgoedere en groot metropole) dat alles baie goed werk en welvaart vir almal verbeter. Die klimaat het wel verander (hoër reënval in Suid-Afrika en ’n ystydperk in die Noordelike Halfrond veroorsaak dat welaf Amerikaners en Europeërs na Suid- Afrika emigreer). Tegnologie het vooruitgegaan – mense van verskillende tale kan gemaklik kommunikeer, hulle ry in skeertuie rond, bankkaarte word onder die vel ingeplant, maar die natuur is verwoes – dermate dat alle voëls uitgesterf het. (Voëls is meestal simbole van vryheid en dui dus onder meer op die onvrye en onderdrukkende bestaan.)
’n Afgetrede neurochirurg, Adam Burger, en sy vrou woon gemaklik op ’n gholflandgoed. Hulle speel gholf en drink en eet en leef so onnadenkend as moontlik totdat die Korporasie sy vrou arresteer en besluit dat sy “ingespuit” moet word – dat sy nie langer moet lewe nie. Van hier af raak Adam weer by die wêreld betrokke. Dit is egter moeilik om te bepaal of die Korporasie met hul mag of die opstandelinge eintlik Adam se lojaliteit geniet. Die verhaal wat ontvou, is spannend, aksiebelaai en bloedig en hou die leser aan die raai – tipies van distopiese fiksie. Distopiese fiksie is tans baie populêr. Die gewilde TV-reeks The Handmaid’s Tale, gegrond op Margaret Atwood se roman uit 1985, het bygedra tot die onlangse oplewing in belangstelling terwyl verskeie jeugromans, soos The Hunger Games en The Maze Runner (en hul rolprentweegawes) ongetwyfeld ook tot die gewildheid bygedra het.
Distopiese fiksie bied ’n uiters negatiewe perspektief op die wêreld en die mensdom (minder mens en meer dom – soos Adam dit stel). ’n Besonder slegte wêreld – iewers in die nabye toekoms – word geskep. Dit is ’n wêreld waarin alles verkeerd geloop het. Veranderings wat met goeie bedoelings aangebring is, het tot onvoorsiene bose gevolge gelei sodat die wêreld onder beheer van ’n totalitêre regering is wat individuele vryheid onderdruk. Dikwels is die natuur vernietig deur mense se pogings om dit te beheer en het die planeet ’n bar en onherbergsame plek geword. Distopiese fiksie is ’n 20ste-eeuse verskynsel en die bekendste voorbeelde van dié genre is George Orwell se 1984 en Aldous Huxley se Brave New World. In In ’n land sonder voëls word daar juis na hierdie twee voorlopers van die genre verwys. Onder die Korporasie se bestuur is Orwell se bekende roman te lees, maar Brave New World is verbode. Dit is veelseggend, want dit gee ’n aanduiding van die ingewikkelde aard van die onderdrukking in die distopiese wêreld in In ’n land sonder voëls.
Distopiese fiksie put dikwels uit die skrikwekkendste magsvergrype van die 20ste eeu, soos Nazi-Duitsland of Stalin se strafkampe, die “gulags”. (In In ’n land sonder voëls word opstandiges na “amagulags” weggevoer!). Die roman word aangebied as ’n soort brief wat Adam, na afloop van alles, aan sy oorlede vrou skryf. Hierin probeer hy om soveel moontlik te onthou – ook van hul belewenisse van voor die aanbreek van demokrasie en ekonokrasie. Herinnering word ’n wapen teen die totalitarisme van die korporatiewe beheer. Maar herinnerings staan ook sentraal in dit wat ons mense maak.
Tussen die hoofstukke in skuinsdruk waarin Adam se herinnerings aangebied word, is die aksiebelaaide derdepersoonsvertelling van Adam se ervarings in die romanhede. Hy reis na ’n kusdorpie en raak by die weerstandsbeweging betrokke totdat hy uiteindelik saam met ’n jong vrou en klein dogtertjie deur die onherbergsame binneland moet vlug. Distopiese fiksie bied meestal nie bloot vermaak deur die spannende gebeurtenisse nie, maar lewer kommentaar op aspekte van die samelewing. In ’n land sonder voëls doen dit ook – dit laat mens oor die gevolge van korporatisering nadink, maar uiteindelik gaan dit eintlik oor wat dit beteken om mens te wees – om te onthou, om oud te word, om te sterf. Kalmer se werk is altyd stimulerend en In ’n land sonder voëls is dit ongetwyfeld ook. Boonop is dit spannend, meesleurend en vol verrassings. Uiteindelik voel mens egter dat al die moontlikhede wat die distopie bied, nie ten volle ontwikkel is nie. (Penguin)
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.